Jong boer gaan groot met babagroente

roedolf 10
Roedolf van der Merwe, die man agter Eat Your Greens, het ՚n unieke benadering tot groenteboerdery. Hy boer met “՚n bietjie van alles” op sy plaas by Brits in Noordwes en op lappies huurgrond in Gauteng. Roedolf het in Sunnyside grootgeword.
“My eerste groentetuin was op die eerste verdieping van Rissikwoonstelle, op die hoek van Rissiken Walkerstraat,” vertel hy. “Ek het dikwels potte en kompos as geskenke by my ma se vriendinne gekry, en dis maar waar die liefde vir tuinmaak begin het.” Toe hy twaalf jaar oud was het die gesin ՚n duplekswoonstel met ՚n tuintjie by die NG Kerk Bronberg in Sunnyside gehuur.
“Daar het ek ernstig begin tuinmaak en oor naweke in my ma se vriendinne se tuine gewerk, plaveisel gelê, en al sulke lekker dinge!” vertel hy. Hy en sy sus Marlou was in Laerskool Pretoria-Oos, vanwaar hy na Afrikaans Hoër Seunskool is.
“Ek is Affies toe omdat dit in ons buurt was en daar was nie ander hoërskole nie, so hulle moes my vat. Vandat ek ses jaar oud is, was my ma (Gerda) ՚n enkelma en sy het van die skool se befondsingskemas gebruik gemaak om ons in die skool te hou. Maar dit wys net hoe groot God in ons lewens is: ons het die voorreg gehad om van die beste onderrig in die land te kry terwyl ons nooit so welaf was om dit op ons eie te kon doen nie.”
Hy het as kind al groen vingers gehad. “Ek het gereeld dooie plante in die straat opgetel en, huis toe geneem en hulle gesond getroetel. Ek het baie weggeeplantjies gemaak en uitgedeel, net soos die groente uit my tuintjie – daar was altyd te veel om self op te gebruik.” Die liefde vir plante kom van sy ma af. Sy het op 23-jarige ouderdom uit Nederland na Suid-Afrika immigreer en haar eerste werk was by die Botaniese Tuin in Pretoria. “Sy het later by ՚n bloemistewinkel gewerk en daar het sy geblom,” vertel Roedolf. Met haar hulp het hy vetplantjies in potjies geplant waarmee hy tot R5 000 per maand verdien het.
- Sprietuie sover as wat die oog kan sien.
- Roedolf van der Merwe en sy gesin. Van links is Simone, Roedolf, Elaine, Karlien en Adriaan, met Jacques voor.
“My ma het vir my die ondernemingsgees en aansporing gegee wat, saam met my ander inkomstetjies, bygedra het tot my universiteitskostes.” Na skool het hy ՚n jaar lank in Nederland in die vrugte- en groentebedryf as ՚n pakker by HG Internasionaal, en later ook as ՚n verpakker in die kleinhandel, gewerk. “Daardie jaar het ek baie geleer en teruggekom met geldjies in my sak om my deur universiteit te sit.” Hoewel hy aanvanklik Argitektuur wou studeer, het hy uiteindelik besluit om Plantpatologie by die Universiteit van Pretoria se Landboufakulteit te studeer.
“Ek wou altyd iets doen wat anders is en het ՚n B Inst Agrar met spesialisering in plantbeskerming as hoofvak gedoen. As jy Landbou- of Tuinboukunde studeer, kan jy nooit ՚n plantpatoloog wees nie, maar as jy Plantpatologie studeer, kan jy ՚n tuinof landboukundige word,” was sy benadering.
Loopbaan in landbou
Na universiteit het hy by Sunherbs, ՚n maatskappy wat spesialiseer in die verpakking van slaai en kruie, asook uitvoer van babagroente, se pakhuise as produksiebestuurder begin werk. Daarna was hy sewe jaar in die blombedryf tussen Kaapstad-hawe en Stanford en Napier in die Overberg in die Wes-Kaap, waar hy proteas en ander fynbos uitgevoer het. “Ek het baie by ander boere geleer – hoe netjies hulle boer, wat om te doen en nié te doen nie…” Toe die onderneming toemaak, is hy en sy gesin terug Pretoria toe.
“My ma het siek geword en ons wou nader aan haar wees.” Hy is terug na Sunherbs wat hom as ondernemingsbestuurder aangestel het. “Ek het uitvoere en produksie op die landerye hanteer en met klante gewerk.” Tien jaar gelede het hy by FruitSpot se plaas in Midrand op ՚n 50%-winsdeling -ooreenkoms begin werk.
“Die saak het ՚n marginale omset van sowat R126 000 gehad, maar na die eerste jaar was die wins R1,8 miljoen. Na drie jaar het die onderneming egter begin wankel en op ՚n dag het ek vir hulle gesê ek wil hulle uitkoop! “Die gesprek het ses maande geduur en dit het my ՚n jaar gevat om die geld bymekaar te kry. Dit was nie deel van my beplanning nie, maar dit is hoe ek my eie onderneming begin het.”
Sewe jaar gelede, in 2016, het hy Eat Your Greens geregistreer waarvan hy die alleen-direkteur is. Hy fokus op slaai, die hoofproduk, en kruie, die tweede produk.
“Blaarslaai is nie so groot in die winter nie, want dan soek almal sopgroente. Maar in die lente wil almal weer in hulle bikini-lyfies kom!” Hy het ook geregistreer om babagroente uit te voer vanaf die plaas by Kameel-drift-Wes, asook Brits.
“Ek het in Europa gaan leer hoe hulle dit doen.” Die Covid-19-pandemie het sy grootmaat-verspreidingsmark na restaurante geknou en hy het alles verloor. “Maar met baie seën en planne, het ek uitgehou, opgestaan en dit weer gedoen.”
Hy het geleer die boere met ՚n omset het oorleef. En toe gaan hy groot. Hy het deur Fresh to Go by Woolworths ‘n kontrak bekom en lewer tans vir hulle agtien verskillende reeks kruie en babagroente.
“Woolworths se tegniese span leer ons om herlewingslandbou toe te pas en meer biodinamies te boer. Ek wou nog altyd organies boer, en nou beweeg ek in daardie rigting. Maar dit is harde werk: Ek is disleksies en hou nie van lees nie, maar nou moet ek elke dag ՚n boek lees om meer te kan leer.”

Eat Your Greens spesialiseer in babagroente soos beet en wortels.
150 reekse
Tans produseer hy sowat 150 verskillende reekse, wat kruie, babagroente en selfs vrugte insluit. “Vingerlemmetjies (finger limes) is baie gewild. Die dun, groen vruggie is lid van die sitrusfamilie en groei aan ՚n doringrige struik eerder as ՚n boom. Die vruggies se selle is rond, nie ovaalvormig soos in ander sitrus nie. In Europa staan dit bekend as sitrus-kaviaar, wat dui op die uniekheid daarvan. Verbeel jou die sitrusballetjies op sushi! Dit het my inspireer.”
Nog sitrusaanplantings wat beplan word ՚n is gefrommelde nartjie uit die Ooste, en kumkwats, wat ՚n mens deesdae selde op winkelrakke sien. Ander vrugte sluit appels en pere in, want restaurante wil graag die blomme en blare hê. Hy kyk ook na frambose.
“Uiteindelik wil ek ՚n heel groot eetbare tuin hê waaruit ek unieke produkte aan restaurante kan lewer.”
Piesangs en grenadellas is ook op die lys. Hy boer ook groot met ander babagroente, soos pampoen, skorsies en lemoenpampoentjies; pers, geel en wit babaworteltjies; goue, pienk en pers bababeet, en rape. Dit sluit ook goed in soos pampoenblomme, Thai-lemmetjies en kerrieblare, asook kruie soos kattekruid, pynappel- en blousalie, teeboom en kamille. Nou fokus hy ook op rooirissies vir die droog- en uitvoermark. Hy hou sy vinger op die pols van die mark vir unieke produkte. So het hy meer seldery aangeplant, asook hops en wintergars, ook ter wille van die voordele wat dit vir die grond inhou. En hy het begin aspersies plant, wat glo net in die Vrystaat aard, maar hy het die teendeel bewys.
- Roedolf van der Merwe van Eat Your Greens kweek sy groente organies en onkruid word eerder met die hand uitgetrek
- Pietersielie groei welig
Uitvoere
Sedertdien voer hy baba- en ander nisgroente wat vir die spysenieringen restaurantbedryf bestem is, via Nederland vir verspreiding in Europa, soos België en die Verenigde Koninkryk, maar ook na Dubai en Doha, uit.
“Die uitvoere het skielik begin en binnekort voer ons ook ons eerste Habanero-rissies uit. Dan is daar ook baba-pak choy (‘n soort Sjinese kool), langsteel-brokkoli en babakool. Babaskorsies en -botterskorsies is ook nuut op die uitvoerlys hierdie seisoen.”

Blaarslaai is Eat Your Greens se hoofproduk en dit is veral gewild in die lente wanneer almal weer in hulle bikini-lyfies wil kom, sê Roedolf.
Plaas toe
Roedolf en Elaine het in sy derde jaar by Tukkies ontmoet en hulle is in 2006 getroud. Hulle het vier kinders, Adriaan (17), wat vanjaar in matriek is, Karlien (16), Simone (14) en Jacques (12). Hulle woon op die oomblik in Centurion. “Ons het nog nooit op ՚n plaas gewoon nie, maar ons beplan om in Desember vanjaar na ons plaas by Brits te verhuis. Die plaas by Brits is die grootste en die ander sluit Kameeldrif-Wes, Olifantsfontein, Pretoria-Wes en Pretoria-Noord in. Die pakhuis en skure bly in Midrand. Roedolf hunker daarna om op die plaas by Brits te wees.
“Ek wil teruggaan landerye toe, dit maak my rustig. Ek werk agttien uur per dag, elke dag van die week, en ek wil ‘n bietjie rustiger raak en meer tyd saam met my gesin deurbring. “Ek moet afskaal, en die plaas by Brits gee vir ons daairdie droom. Dit is ՚n groot skuif, ՚n groot verandering, maar daar is dit rustig, ons kry baie vrede daar.”
Kontakbesonderhede
Kontak Roedolf van der Merwe by Eat Your Greens by 082-589-3003 of stuur ՚n e-pos na roedolf@eatyourgreensco.co.za



