JGP Boerdery reken op AgriCAD se tapkarre

DSC_0454
Die AgriCAD TF34C-tapkar wat Hardu Prinsloo van JGP Boerdery gebruik dra sy vrag soos ‘n man en beweeg maklik deur die land.
Strooptyd verloop gladweg by JGP Boerdery in die Delmas-distrik en in die proses speel Hardu Prinsloo se vier AgriCAD-tapkarre geen geringe rol nie. Niks hoef vir niks te wag nie, want die AgriCAD-tapkarre ry die graan vinnig, flink en fluks uit die land en plaas dit soos blits oor na die vragmotors. Geen wonder Hardu het nog twee van hierdie voortreflike tapkarre bestel om sy boerdery nóg ratser te laat vlot nie.

AgriCAD se TF34C ontlaai teen 8 ton per minuut deur sy oorlaai-awegaar. Hy kan ook sy vrag onder sy pens uitstort by graansuiers.
Hardu het in die negentigs hier begin boer met mielies, sojabone, aartappels en kommersiële vee.
AgriCAD, wat bekend is vir hulle vooruitlopende tegnologie, gehalte en diens, se tapkarre is een van hulle grootste suksesverhale en met baanbrekertegnologie verseker hulle dat daar aan elke boer se behoefte voldoen word.
Die maatskappy se fabriek is in Pretoria en hulle vervaardig hulle eie produkte, wat hulle na veertien lande in Afrika-uitvoer. Hulle het ‘n werksmag van 50 bekwame mense.

Ruan Jonas, AgriCAD se bemarker en internasionale verkoopsverteenwoordiger, saam met Hardu Prinsloo van JGP Boerdery in Delmas.
‘n Tapkar vir elke boer en elke plaas
Hardu se eerste AgriCAD-tapkarre kan 24 000 liter hou, maar soos wat sy produksie gegroei het, moes die grootte van sy tapkarre ook groei. Vandag het hy twee van 24 000 ℓ en twee van 34 000 ℓ.
“Ons het ‘n behoefte aan groter tapkarre gehad en daar was nie ‘n vreeslike verskeidenheid in Suid Afrika beskikbaar nie. Omdat die stropers en my kapasiteit al hoe groter word, het ons oorbeweeg na AgriCAD se TF34C, wat ‘n lieflike produk is,” vertel Hardu.
Ruan Jonas, AgriCAD se bemarker en internasionale verkoopsverteenwoordiger, vertel dat dié tapkarre in vyf groottes kom.
- Die TF16C van 16 000 ℓ of 13 ton
- Die TF24C van 24 000 ℓ of 20 ton
- Die TF27C van 27,000 ℓ of 22 ton
- Die TF34C van 34 000 ℓ of 28 ton
- Die TF38C van 38 000 ℓ of 31 ton
Tapkarre met balans
Ruan verduidelik dat hulle tapkarre met hoëflotasiebande toegerus is, wat die gewig van die tapkar en sy inhoud lag-lag dra, selfs al ry jy oor kontoere waar een van die bande dalk meer van die gewig sal moet dra. Hierdie bande trap ook nie die grond so vas nie.
- Die TF24C het 710 mm bande
- Die TF27C het 800 mm bande
- Die TF34C het 850 mm bande
- Die TF38C het 900 mm bande
Een van die groot voordele van AgriCADtapkarre is dat hulle so goed gebalanseer is dat die tapkar die gewig van die vrag dra en nie die trekker se sleephaak nie, “Wanneer die 34 000-liter tapkar vol is, plaas dit net 3,5 ton gewig op jou trekker se haak omdat die as so geplaas is dat dit die vrag dra,” verduidelik Ruan.
Hadru vertel dat hulle oor die jare al met baie tapkarre te doen gehad het en gesukkel het omdat hulle baie swaar op die trekker se sleephaak is.
“Wanneer jy met ‘n vol vrag werk, is die hoeveelheid druk wat ‘n ongebalanseerde tapkar op jou trekker se haak uitoefen enorm, sodat die haak selfs kan breek. So ‘n tapkar beweeg ook nie gemaklik in die land nie en sit makliker vas. Omdat AgriCAD se tapkarre baie goed gebalanseer is, trek hulle partykeer selfs deur modder waardeur jy nie eers kan loop nie,” sê Hardu.
Al gebruik Hardu groot trekkers, benodig die tapkar slegs 200 kW om hom lekker losweg deur die lande te sleep.

AgriCAD-tapkarre is met skale toegerus om jou oes te weeg.
Hou ‘n oog oor jou oes
Een van die groot voordele vir Hardu is dat jy ‘n skaal in jou tapkar kan laat installeer en ‘n drukker in jou trekker. Die stelsel weeg die oes wat in die tapkar gelaai en dan weer afgelaai word, dus kan operateurs teken vir die oes wat hulle aflaai en kan dit diefstal verminder.
“Alles kos maar baie geld, maar ek kan verseker sê dat die tapkarre waarde vir geld is,” sê Hardu.
Omdat Hardu se tapkarre nog nuut is, het hy nog nie veel onderhoud aan hulle gedoen nie, maar hy vertel dat die TF24C-tapkarre wat hulle eerste aangeskaf het minimale onderhoud geverg het.

’n Drukker in die trekkerkajuit druk ‘n bewys van die vrag wat die tapkar afgelaai het.
Hierdie tapkarre word plaaslik vervaardig en is ontwerp om op te slaan sodat dit in kratte uitgevoer kan word na ander lande.
Die tapkar se unieke awegaar is ontwerp om slytasie te beperk en ‘n lang lewe te verseker. Die tapkar self is modulêr gebou sodat panele vervang kan woord in die geval van skade.
Elke onderdeel van die tapkar is met microdot-tegnologie gemerk. Indien iets gesteel was en weer eers gevind word, kan AgriCAD met ‘n spesiale toestel na die reeksnommer op die onderdeel kyk en weet aan wie dit behoort.
“Ons is baie tevrede met AgricCAD se werktuie,” sê Hardu. “Ons gebruik al ‘n klompie jare ‘n verskeidenheid van hulle produkte. Die vervangbare onderdele wat jy benodig om die tapkar te versien of te herstel is enige plek beskikbaar. Dit is nie onderdele wat jy ver hoef te gaan soek nie. En natuurlik is die diens altyd die belangrikste. Daar is baie goeie werktuie in die land beskikbaar, maar baie min maatskappye wat vir jou die goeie diens saamgee, en uiteindelik is dienslewering die belangrikste ding. Ek dink ek kan enige ding aanbeveel solank hy deur ‘n goeie diens gerugsteun word.”
Om meer uit te vind oor AgriCAD se produkte besoek hulle webtuiste by www.agricad.co.za.