Auto & Truck Tyres (ATT): Waar die regte band die gewig van die myn dra

DSCF2058
In die mynbedryf is ’n band veel meer as bloot die raakpunt tussen ’n voertuig en die grond. Dit dra geweldige vragte, moet ruwe terrein trotseer en moet dag ná dag betroubaar presteer in ’n omgewing waar onbeplande stilstand ’n direkte invloed op produksie en winsgewendheid het.
Dit is binne hierdie veeleisende werksomgewing waar Auto & Truck Tyres (ATT) oor amper vier dekades heen sy kundigheid opgebou het.
ProAgri het tydens Electra Mining Africa 2026 by ATT Mining Solutions gaan aanklop om meer te hoor oor die bande, tegniese kennis en ondersteuningsdienste waarmee die onderneming die mynsektor bedien.
Van een bandehandelaar tot ’n nasionale rolspeler
ATT se verhaal het in 1987 begin toe Rob Beaumont ’n enkele bandehandelaar in Wadeville, Johannesburg, gevestig het. Sedertdien het die onderneming saam met die veranderende behoeftes van sy kliënte gegroei en ontwikkel tot ’n omvattende verskaffer van bande en verwante dienste aan verskeie sektore.
Vandag strek ATT se aanbod oor passasiers-, kommersiële, landbou-, industriële, vurkhyser-, hawe- en mynboutoepassings. Die onderneming bied ’n veelvuldige handelsmerkportefeulje wat verskillende prysklasse en bedryfsvereistes dek, eerder as om elke toepassing met dieselfde oplossing te probeer bedien.
Juis hierdie benadering is belangrik in mynbou, waar die verkeerde bandkeuse duur gevolge kan hê.
Bande wat vir mynbou gekies word
ATT Mining Solutions voorsien bande vir sowel oopgroef- as ondergrondse mynbou, asook vir ondersteunende voertuie en toerusting soos ligte afleweringsvoertuie, vurkhysers en ander industriële toepassings.
In oopgroefmyne moet groot voertuie swaar vragte teen ’n hoë werktempo verskuif, dikwels oor ongelyke terrein en onder wisselende weersomstandighede. Ondergronds verander die uitdagings weer: beperkte ruimte, moeilike oppervlaktes en weens die voortdurende behoefte om stilstand tot die minimum te beperk moet bande aan verskeie vereistes voldoen.
ATT werk onder meer met handelsmerke soos Triangle, Techking en Tianli om bande vir hierdie uiteenlopende mynvereistes te verskaf. Volgens die onderneming word daar sterk gefokus op duursaamheid, lewensduur, betroubaarheid en die totale afstand wat ’n band binne sy toepassing kan lewer.
Die gesprek gaan dus nie bloot oor die aanvanklike koopprys van ’n band nie, maar oor die waarde wat dit gedurende die duur van sy bruikbare leeftyd kan lewer.

Wanneer ’n band ’n tweede lewe kry
Een van ATT se indrukwekkendste bedrywighede lê egter nie by nuwe bande nie, maar by die vernuwing van bestaande bande.
ATT het reeds in 1990 sy eerste loopvlakvernuwingsaanleg gevestig. Vandag beskryf die onderneming sy fasiliteit as die grootste van sy soort ter wêreld wat onder een dak gehuisves word. Die huidige aanleg kan meer as 1 000 bande per dag verwerk en is volgens ISO 9001:2015 gesertifiseer.
Die proses behels veel meer as slegs die aanbring van nuwe rubber. Bande word ontvang en met Radiofrekwensie-identifikasie (RFID)-tegnologie gemerk, waarna die karkas deeglik ondersoek en voorberei word.
Die ou loopvlak word verwyder, die karkas word vir strukturele gebreke nagegaan en die nodige herstelwerk word gedoen voordat ’n nuwe loopvlak aangebring en gevulkaniseer word. Kliënte kan hul bande regdeur die proses volg en selfs inligting en beelde ontvang wanneer ’n karkas afgekeur word.
Loopvlakvernuwing bied ook ’n interessante ekonomiese én omgewingsvoordeel. ATT sê dat ’n vernude band die bruikbare leeftyd van ’n karkas aansienlik kan verleng, koste per kilometer kan verminder en terselfdertyd minder afvalbande na stortingsterreine stuur.
Volgens die onderneming verg die vervaardiging van ’n nuwe band ongeveer 83 liter olie, teenoor sowat 26 liter vir ’n vernieuwde band.
Dit maak die band nie bloot ’n verbruiksartikel wat ná een leeftyd weggegooi word nie, maar ’n bate waarvan die waarde verder ontgin kan word.
Meer as slegs rubber
ATT se waarde lê uiteindelik nie net in die omvang van sy bandevoorraad nie. Die onderneming ondersteun sy produkte met dienste soos bandbestuur en -instandhouding, velg-ingenieurswerk (rim engineering), poeierbedekking, ’n Truck Drive-Thru-sentrum en ’n 24-uur nasionale onklaarrakingsdiens.
Vir ’n myn of vlootoperateur beteken dit dat bandkeuse, instandhouding en die bestuur van die band se lewensiklus as deel van ’n groter bedryfsoplossing benader kan word.
ATT se teenwoordigheid by Electra Mining Africa het juis hierdie boodskap beklemtoon: in ’n bedryf waar elke ton, kilometer en uur tel, moet die regte band nie bloot die voertuig dra nie, dit moet tot die produktiwiteit van die hele onderneming bydra.
Hou jou onderneming aan die rol
Of die behoefte by ’n oopgroefmyn, ondergrondse operasie, kommersiële vloot of landbou-onderneming lê, ATT bied ’n omvangryke reeks nuwe en vernude bande, ondersteun deur tegniese kundigheid en nasionale diens.
Vir meer inligting oor ATT se bande en oplossings, skakel die nasionale dienssentrum by 086-999-0107 of besoek Auto & Truck Tyres. Vir noodgevalle is ATT se 24-uur onklaarrakingsdiens beskikbaar by 087-059-1111.

