Categories: NewsPublished On: 6th February 2017

Jag met honde bly ‘n probleem

By 5 min read
938 words
honde

honde jag

Die nasionale RPO(Rooivleisprodusente-organisasie) het tydens sy afgelope uitvoerende raadsvergadering die probleem van die onwettige jag met honde breedvoerig bespreek en het meer hieroor uitgebrei in hulle nuusbrief van Februarie. Boere wil weet wat hulle te doen staan as daar onwettig op hulle plase gejag word met honde.

Dit het ‘n sport geword en daar is gevalle waar sogenaamde taxi-jagtogte gereël word waar duur wild op ‘n georganiseerde basis gejag word.

Status van diere in die reg

Diere word in die Suid-Afrikaanse reg beskou as sake wat in sekere gevalle as eiendom besit kan word. Wilde diere word in ons reg as “res nullius” beskou, met ander woorde sake wat aan niemand behoort nie, maar wat deur middel van fisiese beheer toegeeïen kan word in eiendomsreg. Vee en troeteldiere behoort normaalweg aan iemand en geniet beskerming as die eiendom van sodanige eienaar, maar nie in eie reg nie. Daar bestaan wel sekere wetgewing oos natuurbewarings-ordonnansies wat wilde diere tot ‘n mate beskerm – veral sekere spesies wat as bedreig beskou word. Dan is daar natuurlik ook teen-wreedheidswette soos die Dierebeskermingswet wat sekere optredes teenoor diere verbied en strafbaar maak.

Beheer oor diere

Omdat mak diere as eiendom beskou word, word daar van die eienaar verwag om behoorlike beheer oor sy/haar diere uit te oefen om sodoende te verhoed dat daardie diere skade doen of ‘n steurnis vir ander mense veroorsaak. Daarom kan ‘n persoon wat skade ly as gevolg van ‘n dier wat aan iemand behoort, ‘n skadevergoedingsaksie teen die eienaar instel indien die eienaar se nalatigheid, deur byvoorbeeld nie ‘n gevaarlike hond op sy/haar erf te hou nie, instel. Daar is selfs aksies waar ‘n eienaar skadeloos aanspreeklik gehou kan word, soos die ou Romeinsregtelike “actio de pauperie”, waarvolgens ‘n eienaar aanspreeklik kan wees vir skadevergoeding, selfs al was hy/sy nie nalatig nie.

Die meeste munisipaliteite het munisipale regulasies wat van toepassing is op die beheer van troeteldiere. Gewoonlik bepaal sodanige regulasies dat slegs ‘n sekere aantal honde/katte per erf aangehou mag word, dat erwe behoorlik omhein moet wees en dat diere wat uit hulle erwe geneem word op ‘n leiband of andersins onder beheer van die persoon in beheer van so dier moet wees. Honde moet ‘n halsband en identifikasie-skyfie dra sodat die eienaar identifiseerbaar is en mag nie rondloop op openbare of privaatgrond van ander persone nie. Nie-nakoming van die bepalings van sodanige regulasies is strafbaar. Die betrokke honde kan ook geskut word.

Relevante wetgewing

Daar bestaan verskeie wette wat van toepassing kan wees op ‘n situasie waar daar onwettig met honde op ‘n plaas gejag word.

Dit sluit die volgende in:

  • Die Wet op Oortreding, Wet 6 van 1959 – in terme van hierdie wetgewing is die betreding van eiendom sonder toestemming ‘n misdryf en kan ‘n kriminele klag teen die betreder gelê word;
  • Die Dierebeskermingswet, Wet 71 van 1962, wat bepaal dat dit ‘n misdryf is om ‘n dier bloot te stel aan ‘n aanval deur ‘n ander dier of ‘n wilde dier;
  • Die Wet op Veediefstal, Wet 57 van 1959 wat bepaal dat dit ‘n misdryf is om op grond te kom met die bedoeling om vee te steel;
  • Die Wet op Diefstal van Wild, Wet 105 van 1991 bevat soortgelyke bepalings aan die Veediefstalwet;

Daar bestaan ook verskeie toepaslike Provinsiale Natuurbewaringsordonnansies.

Remedies vir boere

Die remedies wat tot beskikking is van vee- of wildboere wat skade ly as gevolg van rondloperhonde is dus die volgende:

  • Die lê van klagtes van betreding;
  • Die lê van klagtes van wreedheid teenoor diere in terme van die Dierebeskermingswet;
  • Die lê van klagtes in terme van die Wet op Veediefstal of die Wet of Wilddiefstal;
  • Die lê van klagtes in terme van natuurbewaringsordonnansies;
  • Die lê van ‘n klag in terme van die betrokke munisipale regulasies, sodat die munisipaliteit kan optree;
  • Die instel van ‘n skadevergoedingsaksie teen die eienaar van die hond indien die eienaar bekend is. Dit kan geskied of op die basis van nalatigheid of skuldlose aanspreeklikheid waar daar aan die vereistes van die “actio de pauperie” voldoen word;
  • Die skiet van die honde in ‘n situasie van noodweer.

Die Polisie beveel aan dat honde waar moontlik gevang en aan die Dierebeskermingsvereniging oorhandig moet word. Dit is riskant vir ‘n grondeienaar om honde te skiet, alhoewel sommige van die natuurbewaringsordonnansies dit wel magtig. Grondeienaars is regtens gemagtig om te skiet wanneer hulle in noodweer optree om hulle eiendom te beskerm.

Die vereistes vir ‘n suksesvolle beroep op noodweer is die volgende:

  • ‘n Regsbelang in die vorm van lewe of eiendom moet bedreig word;
  • Daar moet ‘n noodsituasie bestaan met ‘n onmiddellike bedreiging;
  • Die dreigende noodsituasie moet spruit uit onregmatige optrede;
  • Die optrede moet noodsaaklik wees om die dreigende gevaar aan te spreek;
  • Die skade veroorsaak deur die optrede moet nie buite verband wees met die belang wat beskerm word nie.

Die grense van noodweer kan oorskry word in welke geval ‘n grondeienaar nie sal slaag met sodanige verweer in ‘n skadevergoedingsaksie deur die hond se eienaar nie en kan selfs onder sekere omstandighede die grondeienaar blootstel aan vervolging. Die regverdiging van besluit om ‘n hond te skiet sal van die omstandighede van elke geval afhang. Die hond moet op daardie oomblik ‘n gevaar inhou vir vee of wild, as die onmiddellike gevaar nie bestaan of meer bestaan nie, sou dit nie geregverdig wees om in noodweer op te tree nie.

Samewerking tussen die Polisie, Natuurbewaring, die Dierebeskermingsvereniging en munisipaliteite word sterk aanbeveel. Vuurwapens moet natuurlik te alle tye op ‘n verantwoordelike wyse gebruik word – die onverantwoordelike gebruik van ‘n vuurwapen kan daartoe lei dat ‘n person onbekwaam verklaar word om ‘n wapen te besit.

Bron: RPO se Februarie 2017 Nuusbrief

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0