Categories: WheelsPublished On: 26th January 2015

Isuzu reg vir die nuwe jaar

By 2 min read
377 words

Isuzu

Niemand verander iets deur niks te doen nie, sê Craig Uren, operasionele hoofbestuurder van Isuzu Trucks SA. Mnr Uren het op ’n media-ontbyt die afgelope jaar se ekonomiese plus- en minuspunte uitgelig en die maatskappy se verwagtinge vir 2015 geskets. 

Mnr Uren sê 2014 was ‘n moeilike jaar en dit word weerspieël in die nominale groei van 2% in swaarvoertuigverkope. Hy verwag nie ‘n groot verbetering in 2015 nie, maar het bygevoeg dat die bedryf nie negatief moet word nie, want dit is moontlik om voort te gaan met verkope van 31 500 vragmotors per jaar. 

Isuzu self het vir die tweede jaar agtereenvolgend meer as 4 000 swaarvoertuie verkoop en bly die markleier in die mediumswaar kommersiële voertuig (MCV) gedeelte van die mark met 12,8% van die verkope. 

Ondanks die wye stakings verlede jaar het Isuzu Trucks se fabriek in Port Elizabeth produksie van 4 500 voertuie gehandhaaf; dit is 20 per dag.    

Oor die algemeen egter het slegs die verkope van ekstra swaar kommersiële voertuie ‘n styging getoon, want soos mnr Uren gesê het, “die steenkool moet by die kragstasies kom.” 

Die verkope van ligte afleweringsvoertuie het gedaal en een van die redes is die swak toestand van paaie wat ondernemings noop om na stewiger voertuie te kyk. 

Indien busse en ligte afleweringsvoertuie buite rekening gelaat word, verkoop die Japanese vervaardiger die meeste vragmotors in Suid-Afrika. 

Isuzu se N-reeks was die topverkoper in sy klas met 2 300 eenhede wat verkoop is en die F-reeks het goed presteer in die swaarvoertuigklas met 1 279 verkope. 

Met betrekking tot die ekonomiese en politieke situasie het mnr Uren maar ‘n swart prentjie geskets. Die openbare sektor verval, daar is ‘n gebrek aan politieke leierskap, gebrek aan ekonomiese groei en dan is daar nog faktore soos E-Tol en Eskom. 

Hy het die joernaliste laat glimlag met sy beskrywing van “Eishkom!”, maar gesê dit help nie om daaroor te kla nie. Ondernemings moet dit as ‘n gegewe aanvaar en rondom die gebrekkige dienslewering beplan. 

Isuzu het heelwat planne om in plaaslike ondernemings te belê en ondernemerskap te bevorder. Navorsing oor die gebruik van natuurvriendelike brandstof gaan voort en verbruikers sal kan aanhou om die voordele van AMT (Automated Manual Transmission) te geniet.

 

Craig Uren van Isuzu Trucks SA spreek joernaliste toe in Johannesburg oor die maatskappy se verwagtinge vir die jaar.

 

 

 

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0