Categories: Artikels, GewasproduksiePublished On: 26th January 2022

InteliGro haal die raaiwerk uit gewasoplossings

By 5 min read
975 words

crops-min

Landbousukses hang toenemend van ingeligte en akkurate besluitneming af. Van watter gewas en kultivar op ‘n spesifieke land geplant moet word tot die korrekte plantvoeding en gewasbeskermingsmaatreëls op die regte tyd. Produsente kan eenvoudig nie verkeerde besluite bekostig nie.

Landbounavorsingsinstansies in Suid-Afrika het oor die afgelope aantal jare heelwat kapasiteit verloor. Praktiese navorsing vanuit ’n neutrale oogpunt, ly ongelukkig daaronder. Die uitsondering is ’n instansie soos die Wes-Kaapse Departement Landbou wat nog steeds goeie werk op kleingraan en canola doen. Daar is ook ander instansies wat goeie kwaliteit navorsing lewer en daarvoor is daar groot waardering.

“Ons het ‘n groot gebrek aan onafhanklike, kredietwaardige data oor watter van die vele gewasbeskerming- en plantvoedingopsies die beste resultate in ‘n spesifieke stel omstandighede gee,” sê Dirk van Eeden, tegniese bemarkingspesialis by InteliGro.

InteliGro het toegang tot ’n groot verskeidenheid hoë kwaliteit produkte wat deur multinasionale en geselekteerdere generiese maatskappye verskaf word. Vanuit hierdie produk-arsenaal word die beste tegniese oplossings vir produsente saamgestel. “Die uitdaging is om die besluit wat rondom ‘n spesifieke oplossing geneem word, met relevante data te rugsteun,” sê Van Eeden.

Teen hierdie agtergrond het InteliGro vier jaar gelede die Intelekt Solutions projek van stapel gestuur om sy eie kredietwaardige wetenskaplike data te genereer wat kliënte kan help met beter besluitneming. InteliGro se studies onder die Intelekt Solutions vaandel, is aanvullend tot die navorsing wat universiteite en die Landbounavorsingsraad (LNR) doen. Die maatskappy maak ook seker dat produsente toegang tot die inligting kry deur demonstrasie- en inligtingsdae aan te bied.

“Ons sien onsself as ‘n leier in die ontwikkeling en oordrag van waardevolle, akkurate inligting,” verduidelik Van Eeden. “Ons bestaansreg berus op die doelwit om uit al die beskikbare produkte, die beste tegniese oplossings vir produsente aan te beveel en sodoende waarde toe te voeg op die plaas, waar alles begin.”

Die Intelekt Solutions waardeketting

InteliGro identifiseer elke jaar spesifieke vrae om te beantwoord, byvoorbeeld hoe beïnvloed sekere saadbehandelings en plantvoedings opbrengs, of wat is die effek van biologiese produkte wat met plant in die voor toegedien word. InteliGro se tegniese spesialiste, soos Van Eeden, stel die proefprotokolle saam en help om die proefpersele te kies. Daarna word die proses aan onafhanklike, eksterne navorsers oorhandig om die proewe te plant, produktoedienings en evaluasies te doen, en die data te ontleed en statistieke te trek.

“Die inligting moet die hoogste moontlike vlak van geloofwaardigheid geniet,” sê Van Eeden. “Almal wat in die toekoms daarmee werk, moet die data kan vertrou.”

Hierdie proewe word al vir vier jaar op koring in die Swartland gedoen, en vir drie jaar op gars in die Suid-Kaap en op sojabone en mielies in die somerrygewasstreke in die noordelike dele van Suid-Afrika. Meer onlangs is die navorsing uitgebrei na koring en canola in die Suid-Kaap.

“Op gars en koring het ons tot dusver hoofsaaklik na swamdoders gekyk om te bepaal hoe verskillende programme op verskillende kultivars in verskillende areas reageer,” verduidelik Van Eeden. Op mielies is die fokus op die rol wat biostimulante speel in opbrengs op belegging, terwyl die beheer van die gevaarlike swamsiekte Sclerotinia kopvrot op sonneblomme bestudeer word.

‘n Nuwe dimensie wat hierdie jaar in die Suid-Kaap bygekom het, is navorsing oor grondgedraagde siektes, spesifiek Fusarium kroonvrot. Die LNR se Dr. Sandra Lamprechts, spesialis op grondgedraagde siektes, het ingestem om betrokke te wees by die evaluasies van die proef.

InteliGro het ook hierdie jaar die eerste keer, saam met ProCrop, begin met proewe om toedienings-effektiwiteit te optimaliseer. ‘n Studie is gedoen om die rol van watervolume, spuitspoed en verskillende spuitstukke te bepaal in die effektiewe toediening van produkte in kleingraan.

“Voorbereiding word tans gedoen om die Intelekt Solutions program na ander gewassegmente uit te brei,” sê Van Eeden. “Die doel is om ‘n sinvolle databasis op te bou wat ons en ons kliënte in staat sal stel om beter ingeligte besluite te neem. InteliGro sal ook die inligting gebruik om ons strategieë en aanbevelings tegnies te optimaliseer.”

Hy beklemtoon dat die navorsing ‘n langtermynbehandeling is met dié dat nuwe produkte voortdurend ontwikkel word, en omdat die natuur dinamies en organismes uiters aanpasbaar is. Een van landbou se grootste uitdagings, naamlik om bestaande chemiese produkte teen die opbou van weerstand te beskerm, word ook spesifiek in die Intelekt Solutions navorsing aangespreek.

“InteliGro is hier om produsente die beste moontlike ondersteuning te gee om volhoubaar in die volle sin van die woord te wees,” sê Van Eeden. “Data is onontbeerlik vir ingeligte en effektiewe besluitneming. Daar is nooit net een antwoord vir alle vrae nie. Intelekt Solutions stel ons in staat om pasgemaakte oplossings te bou met data wat ons aanbevelings ondersteun.”

Dat die Intelekt Solutions benadering die kol tref by produsente, is duidelik uit opmerkings soos dié van Jean van Niekerk wat naby Caledon boer: “Om byvoorbeeld verskillende swamdoders op grootskaalse landerye te toets, behels te veel veranderlikes,” sê hy. “Met die Intelekt Solutions proewe sien ons alles op een plek. Dit maak my keuse van swambeheerprogramme baie makliker, en is beslis ’n waardetoevoeging tot my produksie van koring, gars en canola.”

Vir Boeta Wessels van Bredasdorp kom sien voor glo. “Die proewe en die demonstrasie- en inligtingsdae help die produsent om die regte beheerstrategieë te kies, en bevestig die belangrikheid van byvoorbeeld swambeheer.”

Jacques Bester van die Riebeeck area in die Swartland waardeer die deeglikheid waarmee swamdoders onder verskillende omstandighede getoets word. “Die Intelekt Solutions platform gee my die nodige inligting om die regte kultivarbesluite te neem.”

Marnus Kotze van die  Moorreesburg area in die Swartland gee dank aan die baanbreker werk wat jaarliks deur Inteligro Intelekt Solutions gedoen word. “Dit stel ʼn nuwe standaard in die bedryf deur boere te help om op die voorgrond van beste boerdery praktyke te wees. In vandag se uitdagende mark is die navorsingsverslae, wat deur InteliGro Intelekt Solutions verskaf word, belangrik vir elke boerdery in die land.”

Bron: InteliGro

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0