Categories: NuusPublished On: 2nd November 2020

Inperking kniehalter nie NWK se Grip4Charity-uitreik

By 4 min read
851 words

grip4charity

V.l.n.r. Marike Roos, stigter van Emrike Leersentrum, Lemmer Vermooten, ondervoorsitter van NWK se direksie, Jeannette van der Merwe, stigterslid van Lichies Omgee, Theo Rabe, hoof- uitvoerende beampte van NWK, Johan Bezuidenhout, groepbestuurder van Korporatiewe Bemarking en Kommunikasie by NWK en Tessa Marais, ʼn huismoeder by Compass.

NWK het op 28 Oktober 2020 meer as R211 000 aan drie nie-winsgewende organisasies geskenk as deel van die maatskappy se jaarlikse Grip4Charity-inisiatief, wat gewoonlik in die vorm van ʼn gholfdag geskied.

Die begunstigdes het hulle tjeks tydens ʼn klein geselligheid by NWK se hoofkantoor op Lichtenburg in ontvangs geneem.

Die Grip4Charity leweransiersgholfdag word jaarliks in Augustus aangebied, maar is weens die Covid-19-pandemie en gevolglike inperking, afgelas. NWK was egter vol vertroue dat sy verskaffers nie sou skroom nie om steeds hul beursies en harte oop te maak vir behoeftige organisasies wat juis tydens die inperking, meer as ooit, ʼn helpende hand nodig het.

Sakeondernemings gaan self gebuk onder laer winsmarge weens die inperking, maar verskaffers het nietemin R61 092 geskenk. NWK het sowat R145 000 bygedra. Die drie begunstigdes van hierdie jaar se Grip4Charity – Lichies Omgee, Emrike Leersentrum en Copass – kon dus elkeen R70 360 ontvang.

Twee ander verskaffers, Stark Ayres en Matus, het onderskeidelik 500 groentesaadsakkies en 21 bottels 5 liter-handontsmettingsmiddel bygedra, wat die begunstigdes ook sal kan aanwend.

“Ons bedank ons betrokke vennote vir hul bydrae, dit getuig van die oop harte en integriteit van hulle met wie ons sake doen. Ons verstaan dat die behoefte onder ons gemeenskappe baie groter is as die druppel in die emmer wat ons afstaan, maar ons moet iewers begin,” het Theo Rabe, hoof- uitvoerende beampte van NWK, by die oorhandigingsgeleentheid, gesê.

“Dit is dan ook nie die enigste hulpverleningsprojekte wat NWK hierdie jaar onderneem het nie. Ons produsente het ʼn deel van hul graanoeste geskenk wat deur Botselo Mills tot mieliemeel gemaal en onder behoeftige gemeenskappe versprei is. Ons het droogtehulpprogramme geloods en is tans besig om bydraes te lewer aan produsente wat die afgelope week onder verwoestende veldbrande deurgeloop het.

“As gemeenskappe is ons afhanklik van mekaar. NWK besef dat ons deur genade in ʼn baie geseënde posisie is en sodoende ook die nodigheid sien om terug te gee aan ons gemeenskappe. Ons vertrou dat ons bydrae ʼn verskil in iemand se lewe sal maak. Dankie vir die werk wat julle as organisasies in die gemeenskap doen, dit maak ʼn reuse verskil.”

NWK het reeds in 2006 besef dat gemeenskappe swaar trek en die visie gehad om ʼn projek te loods wat hulle tot voordeel sou strek. Die eerste leweransiersgholfdag is gevolglik op 8 Augustus 2006 op Brits aangebied. NWK sou hierdie jaar die 15e Grip4Charity-gholfdag aanbied en kon danksy dié inisiatief die afgelope 15 jaar reeds R1 942 080 aan 25 instellings skenk.

Verskaffers wat tot hierdie jaar se Grip4Charity bygedra het, sluit Prodist, Santam Landbou, Landmark Underwriting Agency, Snappy Chef Trading, Central Media Group (OFM), Zinzaco 203 (UD Trucks Lichtenburg), Sheq Safety, Lemken South Africa, Total, Landbouweekblad en Omnia, in.

Meer oor die begunstigdes

Lichies Omgee

Lichies Omgee is ʼn liefdadigheidsprojek wat kospakkies vier keer per jaar tydens die skoolvakansies aan 120 behoeftige gesinne in Lichtenburg verskaf.

Die inhoud word grootliks deur skenkings bepaal en die waarde per pakkie beloop ongeveer R350. Buiten kos sluit dit ook toiletware en skoonmaakmiddels in.

Gesinne met ʼn inkomste van minder as R5 000 per maand, pensionarisse en diegene wat medies ongeskik is, ontvang hulp. Klere, meubels en komberse word ook aan behoeftiges voorsien en geringe mediese uitgawes word gedek.

“NWK se skenking gaan spesifiek aangewend word om kospakkies tydens die komende feesseisoen saam te stel,” het Jeanette van der Merwe, stigterslid van Lichies Omgee, gesê. 

Emrike Leersentrum

Dit is ʼn private tuisonderrigsentrum vir leerders met leergestremdhede of enige spesiale behoefte. Dit is in Mei 2019 gestig en groei teen ʼn ongelooflike tempo weens die reuse behoefte aan ʼn heenkome vir leerders met spesiale behoeftes in ʼn plattelandse gebied soos Lichtenburg, wat nie in hoofstroomskole bevredig kan word nie.

Gestremdhede wissel van Down-sindroom tot outisme en aandag-afleibaarheid. Die leerders sien weekliks ʼn fisioterapeut wat op leerders se fyn spiere, balans en konsentrasie fokus. Hulle gehoor en sig word ook jaarliks geëvalueer.

Emrike is grootliks afhanklik van skenkings soos skryfbehoeftes en meubels. “Ons het ʼn groot behoefte aan bykomende klaskamers. Ons het ook ʼn klein watertenk by die skool en wil NWK se skenking aanwend om ʼn groter een aan te skaf,” het Marike Roos, stigter van Emrike Leersentrum, gesê.

Compass

Community Provision and Social Services (Compass) is in 2004 gestig deur dr. past. Jude Martin en sy vrou, Debbie, met die doel om enkelmas en verwaarloosde kinders by te staan. Compass verrig diens regoor Suid-Afrika.

Fondse word ingesamel en kospakkies word van deur-tot-deur aan behoeftige ma’s en kinders uitgedeel.

Van hulle word ook in plekke van bewaring gehuisves waar hulle daagliks voedsame etes ontvang, badgeriewe het en klere, toiletware en linne ontvang. ʼn Voltydse dagsorg met opgeleide versorgers sien na die kinders om.

Volwassenes leer bepaalde vaardighede in ʼn jaarlange program. Vroue woon ook werkswinkels by waar hulle die nodige vaardighede aanleer om na die werkplek te kan terugkeer en finansieel onafhanklik te word. Kinders word by skole ingeskryf en ontvang die beste opvoeding moontlik.

“Hierdie skenking beteken die wêreld vir Compass. Ons het talle donateurs weens Covid verloor wat ons met klein goedjies soos kruideniersware bygestaan het. Ons wil graag die geld gekry om ʼn tweede huis aan te skaf wat vroue en kinders kan huisves,” het Tessa Marais, uitvoerende konsultant Compass, gesê.

Bron: NWK

0
Tags:

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0