Categories: Boer slim!, HulpbronbestuurPublished On: 14th April 2026

Innoveer of stagneer: ORV se Skaapboeredag wys die pad vorentoe

By 4 min read
703 words

1 (14)

Net buite Prieska staan Oranjeriviervoere (ORV) se voeraanleg. So indrukwekkend as wat dit is, is dit ook die getuienis van die Botha-familie se harde werk en hul strewe om vir hul kliënte die beste produkte te lewer.

Elke twee jaar bied Oranjeriviervoere hul Skaapboeredag aan. Die dag bring boere van oor die hele Suid-Afrika en self Namibië bymekaar om nie net te netwerk nie, maar ook waardevolle kennis oor die bedryf en die toekoms van skaapboerdery op te doen.

Die heel eerste boeredag is in 2018 aangebied en jaarliks verwelkom die Bothas en ORV sowat 300 gaste. Oor die jare heen het die Skaapboeredag gegroei tot ’n belangrike ontmoetingspunt vir die streek se boerderygemeenskap.

“Die boeredag is geskep om ’n waardevolle platform vir ons kliënte te bied, veral dié wat ons veevoer gebruik, en om ’n ruimte te skep waar skaapboere kan netwerk, idees uitruil en saam gesels oor die uitdagings en geleenthede in skaapboerdery. Dit is ook vir ons ’n geleentheid om iets terug te gee aan die kliënte en gemeenskap wat ons oor die jare getrou ondersteun het,” vertel Johan Botha, ORV se Uitvoerdende Hoof.

Innoveer of stagneer

Hierdie jaar se tema is ‘Innoveer of Stagneer’ – ’n slagspreek wat moderne boerdery mooi opsom. Vanjaar lê ORV die klem daarop dat skaapboere nie meer kan voortgaan soos voorheen as hulle suksesvol wil wees nie. Die vinnig veranderende skaapboerderybedryf bied elke jaar nuwe uitdagings – en toenemende druk word op winsgewendheid geplaas.

“Klimaatsverandering, stygende insetkoste, veranderende markvereistes en die beskikbaarheid van moderne tegnologie beteken dat boere wat innoverende praktyke aanneem – soos beter voedingstrategieë, genetiese vordering, slim weidingbestuur en data-gedrewe besluitneming – meer veerkragtig en mededingend moet word,” verduidelik Johan.

Stagneer is dus glad nie ’n opsie nie; om te stagneer beteken om agteruit te boer, wat kan lei tot hoër risiko’s en ’n verlies aan markvoordeel. Innovasie is nie meer ’n luuksheid nie, dit is ’n noodsaaklikheid.

Hoe lyk innovasie op ’n skaapplaas?

Hoewel dit oorweldigend kan wees om aan verandering en moderne boerderypraktyke te dink, kan dit alles saamgevat word in kleiner, slimmer aanpassings wat jou boerdery se produksie verbeter:

  • Voeding: Gebruik strategieë wat elke fase van die ooi en lam se siklus ondersteun.
  • Genetika: Bestuur vordering doelgerig deur ramme te kies wat groei, vrugbaarheid en aanpasbaarheid verbeter.
  • Veldbeheer: Bestuur weiding slimmer sodat elke hektaar meer dra en vinniger herstel.
  • Tegnologie: Gebruik stelsels soos elektroniese identifikasie (EID), weegstelsels en eenvoudige data-opnames om besluite op feite eerder as raaiwerk te baseer.

“Innovasie sluit ook volhoubare praktyke in, soos waterbesparing, beter parasietbeheer en die beskerming van veld, wat die boerdery se langtermyngesondheid verseker. Praktiese innovasie beteken dus nie groot geld of groot risiko nie, maar om elke jaar net ’n bietjie slimmer, meer doelgerig en meer doeltreffend te boer,” sê Johan. Dis nie een groot verandering nie, maar ’n klomp klein veranderings wat saam ’n groot effek het.

Is hierdie praktyke net vir groot boerderye?

Jy hoef nie ’n megaboer te wees om vandag slimmer te begin boer nie. Johan verduidelik dat dit net so belangrik, en miskien selfs belangriker is vir opkomende boere om hierdie praktyke aan te neem. Dit gee hulle ’n mededingende voorsprong, verkort die leerkurwe en bou ’n boerdery wat vinniger volhoubaar word.

Moenie die boeredag mis nie

ORV se Skaapboeredag vind vanjaar op 6 Mei plaas. Die sprekers bring ’n rykdom van ervaring en praktiese kennis:

  • Dawie Maree (FNB Landbou): Deel riglyne oor hoe finansierders na boerderye kyk en wat ’n onderneming finansieel volhoubaar maak.
  • Jannie Putter: Inspireer boere om uitdagings met ’n positiewe ingesteldheid en veerkragtigheid aan te pak.
  • Hennie de Swart (FNB): Fokus op hoe om ’n boerdery slim en volhoubaar vir die toekoms te struktureer.
  • Buks Olivier en Dries Pienaar: Ondersoek die unieke geleenthede van die Karoo en beantwoord die vraag of innovasie op ’n skaapplaas in die Karoo moontlik is.
  • Andre Fourie: Hy gaan kyk na die voordele en nadele van die intensifisering van veeboerdery

Maak seker jy mis nie hierdie belangrike dag nie. Plek is beperk, so registreer vandag nog. Skakel 082-808-4129 voor 22 April 2026.

Kliek hier om te registreer.

Paneelbespreking met Pieter Moller, Kallie Schoeman (Schoeman Bdy), Pieter du Toit (News24), Grant Naudé (MerinoSA), PG Strauss (VKB), Dawie Maree (FNB), Chris Burgess (Landbouweekblad).

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0