Ian Cunningham: Agri-Wes-Kaap se Santam Jongboer van die Jaar
Ian Cunningham (37) boer met sagtevrugte en wyndruiwe in Elgin en Villiersdorp. Hy is aangewys as Agri Wes-Kaap se Santam Landbou Jongboer van die Jaar vir 2022.
Hierdie jong boer is gekweek
Ian het grootgeword in die Ixopo-distrik van KwaZulu-Natal waar sy stiefpa met hout, aartappels en vleisbeeste geboer het.
Hy het skoolgegaan in ՚n plaasskool in Lynford, wat sy stiefpa saam met die gemeenskap gestig het. Daarna is hy na Hilton College in Hilton waar hy in 2003 gematrikuleer het. In sy oorbruggingsjaar het hy op die Middellandse see gaan vaar.
Tussen 2005 en 2009 het hy Bedryfswetenskap, Ekonomie en Finansies aan die Universiteit van Kaapstad studeer.
Hy is gekies om deel te neem aan die Standardbank Leiersontwikkellingsprogram voordat hy by PSG Batebestuur as ՚n fondsadministrateur aangesluit het.
Hy het sy vrou, Inge tydens die program ontmoet en hulle het nou twee seuns, MacGregor (4) en baba Harvey (8 maande).
Die pad na die Wes-Kaap
“Die plaas in KZN is in 2009 onteien. Daarna het ons Fine Farms in Elgin gekoop waar ons nou met appels, pere en wyndruiwe boer. Van die begin af het ons net van krag tot krag gegroei,” vertel Ian.
Fine Farms bestaan uit 160 ha waarvan 120 ha bewerkbare grond is waarop appels, pere en wyndruiwe verbou word.
In 2020 het hulle die plaas High Noon by Crookes Brothers Limited gekoop. Die 1 800 ha plaas is geleë in ՚n goeie appelverbouingstreek en het ՚n standhoudende waterbron. Dit het ook ՚n unieke mikroklimaat met die koue-eenhede wat appels nodig het. Teen die einde van dieselfde jaar het hulle ook Carmel bygekoop, ՚n klein stukkie grond met strategiese waterbronne.
Die jong boer en sy nalatenskap
Die nalatenshap wat hy graag agter wil laat is tweevoudig: “Ek wil graag die grond in ՚n beter toestand agterlaat as wat ek dit gekry het. Aanhoudende grondbewerking het ՚n negatiewe uitwerking op die grond. Om dit teë te werk het ek getrou dekgewasse geplant, en kompos en ՚n deklaag gebruik om soveel as moontlik organiese materiaal terug in die grond te kry.”
Ian glo ook dat ՚n boer ՚n inklusiewe verhouding met sy werknemers moet handhaaf. Dit is sy tweede strewe. “Jy het ՚n werksmag nodig waarop jy kan staatmaak. Ek het besef daar was ՚n behoefte om die gemeenskap op te hef. Dit los baie maatskaplike euwels op en is uiteindelik goed vir die plaas,” verduidelik Ian.
“Om twee seuns te hê het my laat besef watse invloed die familie-omgewing op die jeug kan hê.” Hy het twee jeugsentrums opgerig om ՚n veilige hawe te skep waar dwelm- en alkoholmisbruik bestry kan word.
Dié jong boer het goeie mentors gehad
Ian beskou sy wyle pa en stiefpa as sy twee grootste mentors. “Hulle het ՚n liefde vir die natuur, plaaslewe en die buitelug in my ingeprent. Al het ek finansies studeer, boer my familie al vir drie geslagte,” sê hy.
Hy het ՚n hoë agting vir sy ma, Janine Richmond. Sy het al op verskeie plekke geboer en elke uitdaging wat sy teëgekom het oorwin. “Ek is bevoorreg dat sy die familie-onderneming aan my toevertrou het.”
Bokkie Thiersen, plaasbestuurder by Fine Farms is nog ՚n kosbare mentor. “Hy is soos ՚n pa vir my en het my al die tegniese kundigheid van appelboerdery geleer,” sê hy. “Ek waardeer ook Inge se waardevolle insette; ek bespreek besluite altyd eers met haar. Dit verg ՚n vennootskap om ‘n onderneming te bestuur.”
Hierdie jong boer het ook uitdagings
Nes ander bedrywe het boerdery ook uitdagings soos die stygende insetkoste. “Ons is prysnemers en ons kan niks doen behalwe om slimmer te werk te gaan nie.”
Die verdriedubbeling in kunsmiskostes het hulle meer na kompos laat kyk. “Ek staan op die skouers van reuse: ek het geleer hoe om kompos te gebruik deur ZZ2 se Natuurboerdery fyn dop te hou en saam met die natuur te werk, nie daarteen nie. Ek het ook geleer van dekgewasse van die graanboere.”
Arbeid en landbou loop hand aan hand
“Landbou kan ՚n groot aantal ongeskoolde arbeiders in diens neem al beteken dit die arbeidonkostes verhoog. In die uitvoerbedryf gee ons relatief bekostigbare arbeiders ons ՚n mededingende voordeel teenoor ander lande waar arbeid heelwat duurder is.
“Ons kan nie boer sonder arbeid nie, so in plaas daarvan om ons werkers te verminder, moet ons hulle uitsette vermeerder.”
Klimaatsverandering raak boere ook
“Ons is vasgevang in hierdie omgewing en al wat ons kan doen is om die risiko te bestuur. Ons gebruik toestelle om heeltyd die grond se vogtigheid te toets en gedurende die droë jare het ons in die aand besproei om transpirasie te verminder. Ons gebruik ook skadunet om te verhoed dat ons Granny Smith-appels sonbrand kry. Boere in Ceres gebruik dit gewoonlik om haelskade te voorkom.”
Hy glo dat verbeterde plantpatalogie wat plante sterker en meer robuust maak, ook dien as ՚n vorm van bestuur wat die grond verbeter en klimaatverandering beveg.
“Ek is positief oor landbou. Die wêreld kan nie sonder ons bestaan nie, want daar is altyd ՚n behoefte aan kos — en nes ander sektore moet ons ook vindingryk wees.
“Ons geslag soek onmiddellike bevrediging. Met die ongelooflike hoeveelheid leesstof, is ons nie bang om vrae te vra nie. Ons hoef ook nie goed op dieselfde manier as ons pa’s of oupas te doen nie. Tegnologie lei ons in die regte rigting.”
Ander deelnemers aan die Jong Boerkompetisie was Christiaan Cronjé (29), van Riversdal, Chris-Thys Groenewald (30) van Riviersonderend, Derec Giles (40) van Uniondale, Kleinjan Teubes (32) van Vredendal en Lochner Eksteen (24) van Piketberg.
Die paneel beoordeelaars het elke deelnemer op sy plaas besoek. Volgens Jannie Kleinhans, uitvoerende hoof van Agri Wes-Kaap, is die jong boere se vermoë om hulle kommoditeite te bestuur in ag geneem, maar hulle bestuursbenadering was deurslaggewend.
Ander lede van die paneel was die boere, Inus Oosthuizen van die Koue Bokkeveld, Sas Oosthuizen van Wellington en Louis Wessels van Albertinia, André Bloem, ՚n arbeidspesialis, Pieter Plaatjies van Santam Landbou, asook Arno Cloete en Andries van Zyl van FNB.