Categories: NewsPublished On: 20th October 2016

HORTGRO belê R2,5-miljoen in studente

By 2 min read
350 words

presser-2

HORTGRO het vanjaar meer as R2,5-miljoen bewillig vir beurse aan studente in die landbouwetenskappe.

“Hopelik sal elkeen van julle mettertyd julle eie nis êrens in die landboubedryf vind. Daar is baie geleenthede, julle moet dit net aangryp,” het HORTGRO se uitvoerende direkteur, Anton Rabe, aan studente gesê tydens ‘n beursfunksie op Stellenbosch. Oor die afgelope tien jaar het HORTGRO meer as R20-miljoen aan beursgelde betaal en die organisasie sien dit as ‘n “belegging om jong landbouwetenskaplikes vir die toekoms te kweek”.

Volgens Anton het 65 studente finansiële steun ontvang. Die studente is versprei oor die land vanaf Elsenburg Landboukollege en die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie, tot die Universiteit van Limpopo, die Universiteit van Pretoria en die Universiteit van Stellenbosch.

Die studente, wat hoofsaaklik uit swart gemeenskappe kom, het vroeër die middag deelgeneem aan ‘n toer deur die Suid-Afrikaanse Plantverbeteringsorganisasie (SAPO Trust) se fasiliteit op Stellenbosch. Daarna het prof Wiehann Steyn, HORTGRO Science se programbestuurder vir Produksie, hulle aangemoedig “om nooit op te gee nie”.

Prof Wiehann, wat self ‘n HORTGRO-beurshouer was, het in ‘n motiveringspraatjie sy eie lewensreis met die studente gedeel. “Elkeen van julle wat ‘n beurs gekry het, is ongeag julle omstandighede, bevoorreg. Julle behoort aan ‘n uitgesoekte groep Suid-Afrikaners wat die geleentheid het om te studeer,” het hy gesê. Hy het ook aan die groep gesê dat hy die eerste persoon in sy familie was wat die geleentheid gehad het om te studeer en dat dit ‘n enorme motivering was wanneer dinge moeilik geraak het.

Een van die studente wat die funksie bygewoon het, is die 22-jarige, Faith Mokapane. Faith, vanaf die Vrystaat, is tans besig met haar finale jaar in BSc Agric. “Ek wil bitter graag eendag my eie grond hê waarop ek kan boer met bloubessies of granate,” het die jong vrou met Hortologie en Plantpatologie as hoofvakke, gesê. Maar eers wil sy haarself verder bekwaam. “Ek wil graag my studies voortsit en beplan om volgende jaar ‘n meestersgraad te doen oor die na-oes bestuur van granate.”

Bron: HORTGRO

Foto: (van links) Lebotse Kamogelo, Faith Mokapane en Msizi Mdakiane (HORTGRO beurshouers).

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0