Hoër koringinvoertarief kan brood duurder maak

brood
Brood is stapelvoedsel vir baie Suid-Afrikaners en binnekort gaan een brood verbruikers byna R1 meer uit die sak jaag. “Dit is as gevolg van die invoerprys van koring wat verhoog het,” sê die Nasionale Meulenaarskamer.
Die invoertarief het vanaf R1 224,31 na R1 591,40 per ton hierdie week gestyg.
“Die regstreekse algehele impak van R1 591,40 per ton invoerbelasting op die broodprys word geskat op 99,5c per brood, wat byna R1 is,” sê die uitvoerende direkteur van die Meulenaarskamer, Boikanyo Mokgatle.
Die Kamer verteenwoordig groot voedselverwerkers soos Tiger Brands (TBS), wat reeds geraak is deur die swakker rand en die droogte.
Invoerbelasting op koring het met meer as 900% in byna twee jaar vanaf R157 per ton verhoog.
“Die Nasionale Meulenaarskamer is bekommerd oor die impak van buitensporig hoë koring-invoerbelasting op die prys van brood en ander verwante produkte,” sê Boikanyo.
Die Landboubesigheidskamer se hoof van Ekonomiese- en Agribesigheidsinligting, Wandile Sihlobo, sê: “Die invoerbelasting in beginsel is bedoel om plaaslike boere teen die invoer van gesubsidieerde koring te ondersteun. Met ander woorde, dit is nie gemik op die verhoging van die binnelandse koringpryse nie, maar eerder om te verseker dat (binnelandse) koringpryse lewensvatbaar bly en om te verhoed dat pryse tot vlakke wat plaaslike produksie onmededingend maak sal val.”
SA is ‘n netto invoerder van koring, wat gebruik word as ‘n inset in die produksie van ‘n aantal voedselprodukte.
Bron: AFP en bizcommunity