Herwinning op jou plaas is elkeen se verantwoordelikheid

Herwin 2
Vaste afval kan deur aanlegte verwerk word sodat die rou materiaal weer gebruik kan word.
Herwinning is ՚n gonswoord wat op almal se senuwees werk. Jy voel skoon skuldig as jy nié ՚n plastiek- of glasbottel in die herwinningsak in jou kombuis gooi nie.
Maar dit is nog maklik – een maal ՚n week kom haal ՚n lorrie die sakke en jy het jou kant gebring. Maar wat doen boere met al die afvalmateriaal op die plaas? Boere se oplossing is gewoonlik “begrawe dit, of verbrand dit”! “Ons het ՚n vullisgat op die plaas – ՚n tipe landfill,” vertel een boer. “Ons gooi die ou inspuitingsnaalde in leë plastiek medisynehouers tot dit vol is en gooi dan bietjie suur – die soort waarmee melkmasjiene gewas word – in die houer om die naalde te laat oproes en gooi die houer in die gat. Die gat word een maal per jaar gebrand en elke paar jaar toegegooi as ՚n nuwe een langsaan gegrawe word. Dit is seker nie so omgewingsvriendelik nie, maar dis wat
ons kan doen.”
Wêreldherwinningsdag
Wêreldherwinningsdag is op 18 Maart vanjaar gevier. Die dag beklemtoon die belangrikheid van verantwoordelike afvalbestuur en die rol wat herwinning in ՚n gesonde omgewing speel. Dit help natuurlik mense om ook geld te spaar. Soos wat bevolkings aanwas, raak dit al belangriker om afval behoorlik te bestuur om ՚n negatiewe invloed op die
omgewing en natuurlike hulpbronne soos grond, water en skoon lug te beperk. Soos die boer hierbo sê: “Dit is seker nie so omgewingsvriendelik nie …”
Herwinning kom daarop neer dat bruikbare materiaal soos papier, plastiek, glas, metale en organiese materiaal nie sommer goedsmoeds weggegooi word nie, maar sover moontlik uit stortingsterreine gehou word. Die materiale kan weer gebruik word om ՚n sirkel-ekonomie te skep waar min of niks verlore gaan nie. Hierdie artikel fokus op die herwinning van materiaal wat nog bruikbaar kan wees en nie op organiese materiaal soos afvalkos of plantreste wat in kompos of biogas omgesit kan word nie. Die herwinningsproses vir nieorganiese materiaal verloop gewoonlik so: Afval word in woonbuurte en by kommersiële en industriële bronne versamel en vervoer na ondernemings wat dit verwerk.
By die verwerkingsaanleg word die materiaal sorteer en verwerk in ՚n bruikbare vorm sodat dit hergebruik kan word. By ՚n groot onderneming in Kaapstad word afvalplastiek byvoorbeeld verwerk tot plastiekkorrels wat weer gebruik kan word in die vervaardiging van plastiese tuinmeubels wat vir ewig hou.
- Besproeiingsmateriaal is gewoonlik ook van plastiek wat herwin kan word. (Bron: Marc Pell, Unsplash.com)
- Leë houers waarin plaagdoder was moet met groot sorg hanteer word om te voorkom dat water, grond, diere of mense vergiftig word. (Bron: Markus Winkler, Unsplash.com)
Hoe kan boere herwin?
Dit is geen geheim dat landbou die hoeksteen van Suid-Afrika se ekonomie is nie. Die sektor verskaf nie net miljoene werksgeleenthede nie, maar maak ook seker dat daar kos op die tafel is. Die vinnige groei van die sektor en die invloed wat landboupraktyke, en veral afvalbestuur op plase op die natuurlike omgewing het, is ՚n bron van kommer.
Die bestuur van afval op plase is kritiek vir die omgewing, die welstand van mense en diere en uiteindelik ook die ekonomie: “Om nie te mors nie, is ook ՚n manier van spaar,” het oom Willem de Waal, ՚n gesoute boer van Moorreesburg in die Wes-Kaap op ՚n dag gesê.
Plastiek is die grootste sondebok op plase, want feitlik alles wat op ՚n plaas gebruik word bestaan uit plastiek of word daarin verpak. Die plastiek beland uiteindelik in ՚n gat in die grond vanwaar giftige stowwe uitloog en tot water-, grond- en lugbesoedeling lei wat die hele ekosisteem vergiftig. Nuwe navorsing in die VSA het getoon dat plaagdoders en kunsmis wat in die grond en waterbronne beland ՚n hoër voorkoms van kanker kan veroorsaak.
Die Suid-Afrikaanse regering doen moeite om beleide te skep om plastiekrommel te verminder deur produsente en vervaardigers aan te moedig om verantwoordelikheid te neem vir die hele lewensiklus van hul produkte, wat insluit wat met hierdie produkte gebeur wanneer dit opgebruik is. Dit is baie belangrik dat boere moet saamwerk. Hoewel die Wes-Kaapse regering saam met munisipaliteite, sakeondernemings en gemeenskappe werk om beter afvalbestuurstelsels in plek te kry, word boere se behoeftes aan spesiale herwinningsdienste dikwels uit die oog verloor.
Boere sit met ՚n magdom afval – kyk om jou rond op ՚n plaaswerf – die rommel sluit onder meer die volgende in:
• Toerusting vir son-, wind- en elektriese kragopwekking, huishoudelike (ketels, broodroosters) en kragtoerusting (bore, sae), IT- en kommunikasietoerusting wat kabels en elektroniese komponente insluit, beligtingsmateriaal, ou batterye en onderdele vir voertuie en plaasimplemente.
• Verpakkingsmateriaal soos plastiek en houtkratte, baalplastiek en -tou, kartonbokse, gifkanne, botteltjies ou medisyne en spuitnaalde.
• Ou besproeiingstoerusting, plastiek of ander materiaal wat as deklaag of vir tonnels gebruik word, nette wat boorde en wingerde beskerm.
Noem maar op – dis g՚n wonder ՚n plaaswerf lyk dikwels soos ՚n rommelhoop nie. Gelukkig is daar instansies wat kan help om die probleem van ՚n kant af aan te pak.
Diensverskaffers wat kan help
Daar is verskeie instansies wat kan help dat weggooigoed op die regte plek beland waar dit veilig herwin kan word. ERA is een van die diensverskaffers wat boere kan help om van sekere afval ontslae te raak. Volgens Bronte Moeti, hul verteenwoordiger, is ERA ՚n geregistreerde maatskappy sonder winsbejag sowel as ՚n produsenteverantwoordelikheidsorganisasie (PRO) wat help om riglyne te ontwikkel vir die herwinning van elektriese en elektroniese toerusting, asook e-rommel, beligting en batterye.
ERA werk saam met die regering, produsente, herwinners en die publiek om seker te maak daar word verantwoordelik weggedoen met hierdie afvalmateriaal.
Hulle kom haal die rommel teen ՚n tarief wat weer aangewend word om die herwinningsinfrastruktuur te onwikkel en uit te brei, rommel te versamel, vervoer en verwerk, gemeenskappe meer bewus te maak en hul gewoontes te verander, en om vennootskappe oor die hele rommelwaardeketting te versterk. “Die belangrikste is om die verantwoordelikheid vir afvalbestuur van munisipaliteite na produsente te skuif om seker te maak produkte word veilig herwin met die minste impak op die omgewing. Dit ondersteun werkskepping en ekonomiese ontwikkeling.
Boere kan kleiner goed wat hulle wil laat herwin in houers buite verskeie groot ondernemings, soos Makro, Pick n Pay en Builders Warehouse plaas.
Boere in die Wes-Kaap, Gauteng en KwaZulu-Natal kan ERA ook kontak om groter goed op die plaas te kom haal. ERA sorg dat toerusting veilig uitmekaar gehaal word, dat skadelike komponente behandel word en dat koper, litium en ander skaars metale herwin word.

Stortingsterreine is vir munisipaliteite ’n kopseer omdat dit al meer ruimte
beslaan en baie goeie bestuur verg sodat die invloed op die omgewing beperk kan word. (Bron: Elbert Lora, Unsplash.com)
Kontakbesonderhede vir ERA
ERA Waste Recycling Authority NPC: eranpc.co.za
Elektriese, elektroniese en beligtingstoerusting, papier en verpakkingsmateriaal
Kontakpersoon: Ashley du Plooy by 078-533-286 of e-pos ashley@eranpc.co.za
Verteenwoordiger: Bronte Moeti by 078-347-3671 of e-pos bronte@eranpc.co.za
Ander diensverskaffers
Hier is ’n lys van diensverskaffers en die tipe materiaal wat hulle hanteer, asook hul kontakbesonderhede.
Polyco
www.polyco.co.za
Papier en verpakkingsmateriaal
Kontakpersoon: Partricia Pillay by 082-564 -1092 of e-pos patricia@polyco.co.za
Verteenwoordiger: Feroze Shaik by feroze@polyco.co.za
The Glass Recycling Company:
theglassrecyclingcompany.co.za
Papier en verpakkingsmateriaal
Kontakpersoon: Shabeer Jhetam by 011-463-5644 of e-pos sjhetam@tgrc.co.za
Verteenwoordiger: James Webster by finance@tgrc.co.za
CroplifeSA
www.croplife.co.za | Plaagdoder
Verteenwoordiger: Gerhard
Verdoorn by 082-446-8946 of e-pos gerhard@croplife.co.za
Circular Energy
www.circular-energy.org
Draagbare batterye, smeerolies, elektriese, elektroniese en beligtingstoerusting, papier en verpakkingsmateriaal.
Verteenwoordiger: Patricia
Schröder by 087-354-9046 of e-pos info@circular-energy.org
eWASA
www.ewasa.org
Smeerolie, draagbare batterye, beligtingstoerusting, papier en verpakkingsmateriaal
Kontakpersoon: Keith Anderson by 082-553-0373 of e-pos info@ewasa
Verteenwoordiger: Sakhile Sithole by 031-535-7146 of e-pos sakhile@ewasa.org
MetPacSA
www.metpacsa.org.za
Papier en verpakkingsmateriaal
Kontakpersoon: Kishan Singh by 031-785-1019 of e-pos ceo@metpacsa.org.za
Verteenwoordiger: Bonté Edwards by 083-564-3810 of e-pos Bonte@circular-vision.com
Petco
www.petco.com
Papier en verpakkingsmateriaal
Kontakpersoon: Cheri Scholtz by 021-794-6300 of e-pos cheri.scholtz@petco.co.za
Verteenwoordiger: Tlou Sebola by 011-615-8875 of e-pos tlou.sebola@petco.co.za
Vir meer inligting oor herwinning in die Wes-Kaap, kontak Zeta Smith by die afdeling afvalbeleid en -minimalisering by die departement van omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning by 021-483-8107 of e-pos Zeta.Smith@westerncape.gov.za of besoek die webtuiste by www.westerncape.gov.za/eadp
Bronverwysing
Agricultural Waste Management in South Africa. (2025) A-THERMAL
https://athermal.co.za/2025/03/25/agricultural-waste-management-in-south-africa/
Beamer, A.J. (2026) Iowa’s Cancer Crisis Linked to Pesticides, PFAS, Fertilizer and Radon, Report Says Inside Climate News. https://insideclimatenews.org/news/25032026/iowa-environmental-risk-factors-contribute-to-cancer-crisis/
Extended Producer Responsibility Regulations, 2020
https://cer.org.za/wp-content/uploads/2009/07/NEMWA-Extended-Producer-Responsibility-Regulations-2020.pdf
Van Zyl, P., Steyn, T. (2016) Meesterboere Denkers en Doeners Turksvy ISBN 978-0-620-69523-7
Zbotek, R. (2023) Afvalbestuur as ’n innoverende oplossing vir ’n groener toekoms Zbotek https://zbotek.com/af/waste-management-as-aninnovative-
solution-for-a-greener-future/

