Categories: NuusPublished On: 30th March 2026

Heidelberg se pampoenkoning wen wéér!

By 4 min read
681 words

Pampoen goliat

Groot pampoene word by die Goliat van Gat-kompetisie by die Lavender Kontreimark in Pretoria-Noord uitgestal waar Wykus Lamprecht van Meyerton met die grootste pampoen van 653 kg in die eerste plek geëindig het. (Bron: https://www.northwestnewspapers.co.za/noordwester/news/latest-news/goliat-pampoenfees-reuse-sukses?fbclid=IwY2xjawQ3CUJleHRuA2FlbQIxMABicmlkETF6UzJ4Znh4clZKd3FCSFBxc3J0YwZhcHBfaWQQMjIyMDM5MTc4ODIwMDg5MgABHsE1PAt-uqD29L_W-Mhon9BiXGhTamlvLsvggr0SwM3UoInymzn5r8AvumRT_aem_7pfpsME1CBY6WNhlBIGHFA

Piet Lotz, Heidelberg se bekende pampoenkweker, kweek toe weer die grootste pampoen in die land en in die Suidelike Halfrond.

Die bielie van ’n pampoen, wat Saterdag 28 Maart 2026 op die Groot Pampoenfees in Heidelberg uitgestal is, het ’n allemintige 1 221 kg op die platskaal geweeg. John Booysen se pampoen van 816 kg was tweede en Pieter Conradie se 793 kg-pampoen was in die derde plek.

Piet, wat tussen Riversdal en Stilbaai boer, het nou vir die vierde jaar die swaarste pampoen gekweek. Volgens hom is die geheim van die ‘Groot Pampoen’ dat die grond reg moet wees. Hy gee nie spesiale voeding nie; net aandag en liefde.

‘Mens moet maar saam met die natuur werk’

Die weer het vanjaar nie lekker saamgespeel nie.

“Dit was vanjaar nie maklik om pampoene te kweek nie want hulle hou nie van ekstreme nie. Eers het ons die kwaai droogte gehad, wat volgens my pa die ergste was wat hy nog ooit gesien het. En toe kry ons ’n week se reën. Maar ’n mens kan nie die weer beheer nie, mens moet maar saam met die natuur werk,” sê hy.

Klimaatstoestande soos hitte en droogte speel natuurlik ’n rol maar die pampoenkwekers, wat nie almal noodwendig boere is nie en die pampoene in hul tuine vertroetel, maak voorsiening daarvoor met ’n skuiling teen die ergste elemente. Hulle versorg die pampoene minstens ses maande lank in ’n poging om die gesogte titel te wen.

Die kompetisie het in 2007 ontstaan en die eerste wenpampoen het 45 kg geweeg. Die mikpunt was om ’n pampoen van 100 kg te kweek. En kyk waar trek dit nou al!

Volgens Piet sal hy net ophou om die wêreldtitel na te jaag sodra hy dié titel na Suid-Afrika kan bring.

Die grootste pampoen en wêreldrekordhouer van 1 278,8 kg, is deur Ian en Stewie Paton van Lymington in Hampshire, Verenigde Koninkry, gekweek. (Bron: https://www.backyardgardener.com/garden-forum-education/pumpkins/pumpkin-records/)

Britse tweeling is wêreldrekordhouers

Die grootste pampoen- en wêreldrekordhouer van sowat 1 278,8 kg, is deur Ian en Stewie, ’n tweeling van Lymington in Hampshire, Verenigde Koninkryk, gekweek. Hierdie monsterpampoen is net 57,8 kg swaarder as Piet se pampoen, so Piet is amper daar! Die Paton-broers se name pryk op die webtuiste van The Great Pumpkin Commonwealth (GPC).

Volgens die organiseerders van die Heidelberg-pampoenfees word elke pampoen wat hier geweeg word op dié webtuiste uitbebeeld, maak nie saak hoe groot die pampoen is nie. Daarvoor kon hulle nie meer ’n skaal met ’n haak gebruik soos in die verlede nie, maar ’n nuwe platskaal wat meer akkuraat is, word nou ingespan.

Die grootte van die pampoen beteken nie noodwendig dit is die swaarste een nie. As die pampoen se vleis lekker dik is, trek hy die skaal swaarder. Die yslike pampoene is ook nie noodwendig baie smaaklik nie, maar kos is kos!

Ná die kompetisie word die pitte geoes en aan kleinboere geskenk, terwyl die pampoene aan sopkombuise geskenk word. Die opbrengs van die fees word aan instansies soos skole en tehuise vir bejaardes geskenk.

Piet Lotz by sy reusepampoen van 1 221 kg waarmee hy vanjaar weer die Heidelberg Groot Pampoen-kompetisie gewen het. (Bron: Verskaf)

Ander kwekers woeker ook

Intussen sukkel deelnemers aan die Goliat van Gat-kompetisie om by Piet se kampioen-pampoene by te bly. Die wenners van die 22ste Goliat van Gat-fees wat vanjaar by die Lavender Kontreimark in Pretoria-Noord aangebied is, was Wykus Lamprecht van Meyerton met die grootste pampoen van 653 kg in die eerste plek. Pieter Botha van Pretoria het tweede plek verower met ’n pampoen van 562 kg, en Jacky Smal van Sundra se pampoen van 549,4 kg het derde gekom.

Bronverwysings

Strauss, Z. (2026) Goliat pampoenfees  reuse sukses Noordwester https://www.northwestnewspapers.co.za/noordwester/news/latest-news/goliat-pampoenfees-reuse-sukses?fbclid=IwY2xjawQ3CUJleHRuA2FlbQIxMABicmlkETF6UzJ4Znh4clZKd3FCSFBxc3J0YwZhcHBfaWQQMjIyMDM5MTc4ODIwMDg5MgABHsE1PAt-uqD29L_W-Mhon9BiXGhTamlvLsvggr0SwM3UoInymzn5r8AvumRT_aem_7pfpsME1CBY6WNhlBIGHFA

Giant Pumpkin Records in the World – Country, State, & Province (2025) https://www.backyardgardener.com/garden-forum-education/pumpkins/pumpkin-records/

Van der Merwe, K. (2026) Boer stel weer rekord op vir grootste pampoen in SA Netwerk24 https://www.netwerk24.com/nuus/aktueel/boer-stel-weer-rekord-op-vir-grootste-pampoen-in-sa-20260329-1023

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0