GWM Tank 300: Verrassing uit China rol SA binne

GWM Tank 300HEV – Image supplied
GWM is een van die grootste motorvervaardigers in privaat besit in China en is reeds 16 jaar bedrywig in Suid-Afrika waar dit tans as een van die Top 10 handelsmerke handel dryf. Tans ding dit mee aan die voorpunt in die luukser SUV mark met Haval asook met die gewilde P-series luukse dubbelkajuitbakkies.
Die GWM Ora bied ook die mees bekostigbare vol-elektriese voertuig aan Suid-Afrikaners. Met die nuwe Tank 300, wat reeds as ‘n gewilde leefstyl veldryer in China en Australië gevestig is, het GWM in Suid-Afrika nou ‘n luukse en bekwame leefstyl SUV reeks wat op gelyke voet wil meeding met van SA se gewildste familie sportnutse soos die Toyota Fortuner, Mitsubishi Pajero Sport, Ford Everest en Isuzu MU-X.
Voorkoms en Ontwerp
Met die eerste oogopslag het die Tank 300 baie ooreenkomste met die Jeep Wrangler, Ford Bronco, Toyota FJ Cruiser en selfs Mercedes se G-Klas. Die voorkoms is hoekig, robuust en duidelik gerig op veldry.
Volgens GWM het die vervaardiger se witjasse elke aspek van veldry ge-evalueer ten einde die Tank as ‘n luukse leefstyl SUV aan klante te bied sonder om in te boet op rygerief of veldryvermoëns.
Van buite is die groot swart sierrooster met LED hoofligte wat met horisontale LED dagryliggies deurstreep word asook die groot Tank kenteken en die skulpdop enjinkap, opvallend. Die veldry voorbuffer het LED misligte ingebou.
Van die kant beskou is die prominente swart wielboog beskermstroke, kanttrappe en groot 18”sierwiele met Michelin veldrybande treffend. Agter het die hoekige buffer ‘n sleepstang geïntegreer, terwyl ‘n volgrootte allooi spaarwiel op die deur gemonteer en moderne LED ligte die prentjie netjies afrond.
Die GWM Tank 300 is gebou op ‘n sterk leerrraam-onderstel, gebasseer op die van die P-series, wat soos met die bakwerk meestal uit 1500Mpa staal vervaardig is om goeie bak rigiditeit en integriteit tydens botsings te verseker.
Verder loop die Tank 300 met ‘n moderne multi-link veerstelsel agter terwyl ‘n bewese dubbel mik vering voor diens doen om saam met die spesiale rubberhegpunte die ritdinamika en gehalte van te bevorder en ook padgeraas en vibrasie in die kajuit te minimaliseer.
Wat opval is die verskeie sleep en herwinningspunte wat die Tank 300 bied.
Kajuit en Toerusting
Die Tank 300 HEV Super Luxury se kajuit is opvallend luuks afgewerk met materiale van gehalte en besonder goed toegerus met ‘n lang lys van standaard toerusting en weelde items.
Die gerieflike sitplekke is met geborduurde leer beklee met die voorste sitplekke wat elektries verstelbaar is. Die leeroorgetrekte stuurwiel het skakelaars vir klank, ritinligting,foonskakeling en spoedbeheer. Verder bied die stuurkolom ratwisselspane asook reik- en hoogteverstelling.
Die twee groot 12,3” digitale kleurskerms – een wat as instrumentepaneel diens doen en die ander vir die infotainment in die middel.
Laasgenoemde bied onder meer die beelde van die 360° kamera asook die Tank se veldryfunksies met nuttige info soos hoogte bo seespieël, kompaslesings, bakrolhoeke, stuurwiel- en wielhoeke asook lugdruk. Dit bied ook die banddruklesings van elke wiel.
Die klank- en kommunikasieinfo, SatNav, voertuig en ritinligting word ook hier vertoon en dan uiteraard ook die beelde van die tru-kamera. Ook die kajuitbeligting met verskeie kleuropsies kan hier gekies word. Sleutellose toegang en aan/afskakel is ook ingesluit.
Verdere toerusting soos outomatiese ligte, outomatiese ruitveërs, dubbelsone klimaatbeheer, ‘n koordlose laaiblad vir slimfone asook ‘n hoë gehalte klankstelsel is onder die lang lys van weelde-funksies en items wat as standaard in die Tank 300 HEV ingesluit is. Daar is tipe A en C USB sokke voor, Tipe A vir die 2de ry sitplekke en ‘n 12V kragpunt in die laairuimte agter, asook ‘n 220V kragpunt vir die HEV in Super Luxury afwerking.
Enjin en Verrigting
Die Tank 300 is tans plaaslik beskikbaar met een enjinweergawe, naamlik GWM se bekende 2.0liter petrolturbo wat 180kW/380Nm se piekkragte lewer. Hierdie enjin word met ‘n elektriese motor wat 78kW lewer gekombineer in wat bekend is as die HEV (Hybrid Electric Vehicle). Hierdie model is ook toegerus met ‘n iBooster slim remstelsel wat energie tydens remwrywing “oes”.
Gekombineerde kraglewering is 255kW en 648 Nm se piek wringkrag. Aandrywing is na al 4 wiele danksy ‘n 9-spoed hidroliese outomatiese ratkas.
Amptelike brandstofverbruik word aangegee as 8.4 liter / 100 km in ‘n gekombineerde siklus.
Paddinamika en Veldry
Tydens die bekendstellingsroete in Limpopo het ons die topmodel Tank 300HEV oor verskeie padoppervlakke kon toets. Tydens snelweg gedeeltes het die Tank beïndruk met ‘n heerlike ritgehalte en relatief lae wind- en padgeraas. Op die slaggat-besaaide agterpaaie en sinkplaat grondpad gedeeltes het die veerstelsel van die Tank 300 indrukwekkend presteer, terwyl die modderpaaie bykans ongemerk getem is. Die enigste steurnis was ‘n té harde flikkerligklik en ‘n rits ander irriterende klingels van die verskeie elektroniese veiligheidswaarskuwing-gonsers, maar dit kan gelukkig omseil en uitgeskakel word.
Die stuur het effe lig gevoel teen stadige spoed, maar het geleidelik swaarder geraak soos die spoed toeneem met die Tank wat in die algeheel gemaklik hanteer het. Deur die draaie was die gewig van die Tank se 2,4ton lyf egter merkbaar.
Tydens ons strawwe veldry ekskursie het die Tank 300 se slim 4-trek stelsel ons aangenaam verras. Die Tank 300 HEV is toegerus met permanente vierwiel aandrywing asook ‘n lae-strek ratkas. Die stelsel maak gebruik van ‘n slim elektroniese beheerstelsel uniek tot die Tank 300 HEV en bied die bestuurder volle beheer oor alle terreine danksy rit- en ratkasmodusse soos Normaal, Ekonomies, Sport, Klip, Sneeu, Sand en Lae-strek (4L, asook die hulp van ‘n elektroniese beheerde ewenaarslot op die agteras.
Met ‘n grondvryhoogte van 224mm, ‘n klimgradient van 70°, intreehoek van 33°, oorklimhoek van 23,1° en waterrydiepte van 700mm kan die Tank 300 omtrent enige terrein baasraak.
Wat verder help is die gespesialiseerde “Crawl Cruise Control” waar die stelsel, wat vanuit die kajuit deur die bestuurder verstel en beheer word, traksie gelykmatig hou in gevalle waar rotsagtige steil afdraendes of klipperige rivierbeddings aangedurf moet word.
‘n Verdere pluspunt tydens uitdagende veldry is die “Tank Turn”- funksie waar die stelsel tydens skerp draaie die binneste agterwiel “sluit” en al die krag na die ander 3 wiele kanaliseer ten einde die kleinste moontlike draaisirkel te bewerkstellig.
Prys en Waarborg
GWM het die Tank 300 met ‘n omvattende lys van die nuutste bestuurderhulpstelsels asook aktiewe en passiewe veiligheidstelsels toegerus.
Die verkoopprys van die 2024 GWM Tank 300HEV sluit ook in ‘n omvattende 7 jaar/200 000 km waarborg, ‘n 5 jaar/75 000km diensplan en ‘n 8 jaar/150 000 km batterywaarborg.
Diensintervalle is 15 000 km of 12 maande wat ookal eerste kom.
Pryse GWM TANK 300 reeks:
Tank 300 2.0T 8AT 4×4 Super Luxury R725 950 (Laat in Q1 beskikbaar)
Tank 300 2.0T 8AT 4×4 Ultra Luxury R775 950 (Laat in Q1 beskikbaar)
Tank 300 2.0T 9HAT 4×4 Super Luxury R851 950