Grysblaarvlek slaan toe op die Hoëveld

Grysblaarvlek-6
grysblaarvlek
Tot nog redelik onlangs, het mielieprodusente op die Hoëveld hulle nie juis aan praatjies oor grysblaarvlek gesteur nie, aangesien die siekte hoofsaaklik tot KwaZulu-Natal en die Lydenburg-omgewing in die Laeveld beperk was. Die situasie is egter vinnig besig om te verander.
“’n Week of twee gelede het ek mielielande naby Middelburg in Mpumalanga gesien wat oortrek was van grysblaarvlek,” sê Hanlie Geldenhuys, rygewaskenner by Syngenta Suid-Afrika.
“Dit was bevestiging van die feit dat die siekte besig is om in ‘n probleem van ekonomiese belang in die noordelik dele van die land te ontwikkel.”
Grysblaarvlek is ook al in Noordwes en die Vrystaat waargeneem, en selfs op besproeiingsmielies in die Noord-Kaap en Limpopo, afhangend van die seisoen.
Verstaan die siekte
Onder gunstige omgewingstoestande is grysblaarvlek een van die mees verwoestende blaarsiektes op mielies. Oesverliese van tot 70% word veroorsaak deur die grootskaalse verlies aan fotosinterende blaaroppervlak wat graanvul nadelig beïnvloed. Mielieplante onttrek dan suikers uit hul stamme om die koppe vol te maak, en dit laat die plante meer vatbaar vir stam-infeksies en wortelvrotpatogene. Laasgenoemde veroorsaak dat mielies omval en lae skepelgewig het.
Die swam wat grysblaarvlek veroorsaak, oorleef op mieliereste en stel massas spore in die lente vry wat deur wind en reën versprei word. Studies het bevind dat die spore tot ≥40 km ver gewaai kan word, afhangend van windspoed. Gunstige omstandighede vir die siekte om te ontwikkel, is lang periodes van hoë humiditeit met matige tot hoë temperature (22 °C tot 30 °C).
Die eerste simptome – speldekopgrootte vlekkies met ’n geel ring – verskyn op die onderste blare van die plant 10 tot 12 dae na infeksie. Simptome is gewoonlik sigbaar vanaf pluimstoot- of baardverskyningstadium, maar infeksie kan vroeër begin.
Grysblaarvlek veroorsaak reghoekige letsels wat deur die blaarnerwe begrens word. Soos die siekte ontwikkel, vorm meer letsels op die blaar en vloei uiteindelik ineen. Ouer letsels verander van ligbruin na grys en begin om spore vry te stel wat na die boonste blare en aangrensende plante versprei.

Hanlie Geldenhuys, rygewaskenner by Syngenta Suid-Afrika
Voorkoming en beheer
Vir die huidige seisoen is dit reeds te laat om die siekte te beheer, behalwe vir lande wat nog in bestuiwing is en waarop ‘n mate van beheer moontlik is. Swamdoders kan nog toegedien word tot groenmielie- of R3-stadium, indien dit sin maak gegewe winsgrense en die tipe swamdoder.
As grysblaarvlek egter in hierdie seisoen in lande teenwoordig was, behoort produsente aan te neem dat dit ook in die volgende seisoen ’n probleem gaan wees en voorkomend optree. “Hou in gedagte dat die siekte reeds sy tande in jou gewas, opbrengs en wins geslaan het teen die tyd dat simptome verskyn,” herinner Geldenhuys.
Wisselbouprogramme en bewerkingspraktyke moet beplan word met grysblaarvlek in gedagte, veral in die lig van die feit dat die vinnig groeiende mieliekultivars wat toenemend geplant word, baie vatbaar is vir die siekte.
Aangesien mielies grysblaarvlek se enigste gasheer is, is wisselbou besonder effektief om siekterisiko te verlaag en siektedruk te verminder (maar nie om die siekte te beheer nie). Bewerkingspraktyke is ‘n meer komplekse aangeleentheid omdat bewaringsbewerking wat grondgesondheid prioritiseer, ‘n habitat vir grysblaarvlekspore kan skep. Die spore kan vir jare op oesreste oorleef totdat toestande gunstig is vir die siekte om te ontwikkel. Die belangrikheid van grondgesondheid stel dus spesifieke vereistes vir siektebeheer en beklemtoon die noodsaaklikheid van ‘n geïntegreerde benadering.
Sodanige benadering sluit uiteraard ook chemiese beheer in, veral as ’n voorkomende maatreël. Swamdoders word toegedien om swaminfeksies te verhoed, plantgesondheid te beskerm en opbrengs te verhoog. Dit word hoofsaaklik bereik deur die boonste blare van die mielieplant wat bokant die kop is, te beskerm wanneer die plant sy reproduktiewe stadium binnegaan. Die hoeveelheid suiker wat deur groen, gesonde blare geproduseer en in die pitte gestoor word, bepaal skepelgewig en dus finale opbrengs.
Alhoewel nuwe chemiese produkte deesdae uiters skaars is, kan dié wat wel bekendgestel word, ware impakspelers wees. Dit is die geval met Syngenta se MIRAVIS Neo wat in 2021 die plaaslike mark betree het en uitstekende beheer teen grysblaarvlek gee.
Maar, waarsku Geldenhuys, dit is ‘n fout is om te dink chemie sal alle swamsiekteprobleme oplos.
“Dit help nie mens spuit net nie. Die regte swamdoder op die verkeerde tyd gaan nie die oplossing wees nie en jou skade word net erger.”
Die effektiwiteit van ‘n swamdodertoediening word bepaal deur die swamdoder se werking, tydige toediening, die tipe siekte, infeksietyd, siektedruk en heersende omgewingstoestande. Die produk se ekonomiese waarde hang op sy beurt af van die faktore wat siektedruk beïnvloed (temperatuur, vog, teenwoordigheid van die patogeen, vorige gewas, bewerkingspraktyk), vatbaarheid van die gewas en tydsberekening van die toediening.
Grysblaarvlek is besig om ’n wesenlike probleem regoor die land te word, maar uiters effetiewe beheer is moontlik deur ’n behoorlike en omvattende geïntegreerde strategie vroegtydig van stapel te stuur.
Bron: Syngenta