Categories: NewsPublished On: 22nd January 2018

Groot uitdagings vir vrugtebedryf

By 4 min read
896 words

nektariens

Foto: Die Orania-beweging

Die knellende droogte in die Wes-Kaap plaas vrugteboere en landelike gemeenskappe onder geweldige ekonomiese en sosiaal-maatskaplike druk, meen die sagtevrugtebedryf-diensorganisasie, Hortgro.

Hortgro is ook bekommerd oor die ongegronde en onverantwoordelike uitsprake deur politici en oningeligte sosiale media gebruikers oor watergebruik deur die landboubedryf. Landbou in die algemeen, en die vrugtebedryf in die besonder, het die afgelope jare groot vordering gemaak met die uiters doeltreffende aanwending van water deur die gebruik van nuwe tegnologie.

Hortgro se bestuurder vir handel en markte, Jacques du Preez, het in ‘n verklaring gesê dat oesvooruitsigte nie rooskleurig is nie, met afnames in oesvolumes wat buitelandse uitvoere sowel as die plaaslike mark onder druk plaas.

“Dit is beslis nie ‘n maklike seisoen nie en die jongste oesskattings vir mid- tot laat pruime, laat-nektariens, appels en pere dui op laer volumes as verlede jaar. Die syfers vertel egter nie die volle verhaal nie. Ons is te midde van ‘n droogtesiklus, so wanneer die volle potensiaal van die bedryf in aanmerking geneem word, is oesskattings in sommige gevalle tot 25% minder.”

Vroeë steenvrugte het wel gebaat by die sporadiese laat reënval in Oktober en November. Hierdie voordeel is egter nou daarmee heen. Die werklike uitdaging wat waterbeskikbaarheid en vruggroei betref, word gedurende somer en herfs verwag, wanneer die grootste volumes vrugte oesgereedheid bereik.

Du Preez meen die ekonomieë en voortbestaan van die meeste landelike dorpe in die Wes-Kaap is afhanklik van die landboubedryf. Die afsny van water aan boere kan moontlik ‘n verwoestende sosiaal-maatskaplike uitwerking op die provinsie hê.

Hy wys daarop dat daar meer as 308 000 werkers en hulle afhanklikes op plase in die vrugtebedryf is – sonder in agneming van al die ander werksgeleenthede in die waardeketting. Die grootste impak is op seisoenale werkers met ‘n beraamde 22 000 werksgeleenthede wat geraak word. Verskeie boere beoefen gemengde boerderye met ‘n permanente vrugtegewas asook eenjarige groentegewasse.

Vanweë die beperking in water, het sulke boere nie hierdie seisoen eenjarige gewasse aangeplant nie om eerder water vir die permanente gewasse te prioritiseer. Dit het egter weer ‘n verdere impak op werkskepping asook op dié boere se inkomste gehad. Werkloosheid lei tot verstedeliking, wat weer verdere druk op stedelike hulpbronne plaas, meen Jacques.

Hy sê ook dat dit die impak van die droogte dramaties tussen streke en selfs tussen aangrensende plase verskil wat dit moeilik maak om ‘n eenvormige prentjie van vrugtebedryf te skets.

“Boere wat die infrastruktuur en kapasiteit het, het tot ‘n groot mate goeie krisis-strategieë aangewend, maar sommige boere – veral die wat afhanklik is van nasionale waterskemas – is onder geweldige druk.”

Buiten die droogte is daar ook hierdie seisoen weergebeure soos hael, windstorms en erge sonbrand wat die vrugtebedryf verder knel. Onder erge droogtestres is bome se blominisiasie (wat vir die volgende seisoen reeds in die huidige seisoen moet plaasvind) swakker en is die blomme ook van ‘n swakker kwaliteit met min selle en ʼn kort leeftyd. ʼn Droogte het dus ʼn aansienlike oordrag-effek wat produksie in volgende seisoene ook onder druk kan plaas.

Vrugteboorde is ‘n hoëkoste belegging. Dit duur tot vyf jaar vir ‘n boord om in produksie te kom. Indien bome ‘n droogtesiklus oorleef, duur dit soms jare vir bome om heeltemal te herstel. Wes-Kaap se vrugteboere is dekades lank reeds bewus van die water as ‘n skaars hulpbron en wend noukeurige en innoverende produksiestrategieë aan om water so optimaal as moontlik te gebruik. So byvoorbeeld is vrugteboere van die ywerigste gebruikers van die FruitLook tegnologie wat deur die Wes-Kaap Departement van Landbou beskikbaar gestel word. Met dié tegnologie wat satellietdata genereer, kan boere presies vasstel waar besproeiing nodig is.

Die impak van die droogte is nie net finansieel nie, maar ook psigies, daarom dat ongegronde politiekery onverantwoordelik is, sê Jacques. Wetgewing maak nie daarvoor voorsiening dat vrugteboere van die regering droogtehulp kan kry nie. Die Land Bank staan wel lenings toe, maar die administrasie en aansoekproses is kompleks en tydrowend. Daar is wel belanggegroepe wat saamwerk om humanitêre hulp in sekere streke te verleen.

Droogtestrategieë wat vrugteprodusente aanwend, is:

  • Die uitkap van ouer boorde. Om ʼn appelboord te vervang kos maklik R250 000 per hektaar en indien nette bygereken word, kan die syfer maklik tot naby R500 000 beloop. Boorde wat uitgehaal word om water te probeer spaar, het dus ʼn groot impak op boerderyondernemings.
  • Die gebruik van nette. Teen R250 000 per ha, is dit nie ‘n opsie wat vinnig oor ‘n groot area toegepas kan word nie. Navorsing wys dat waterbesparings van tot 25% egter verkry kan word.
  • Drupbesproeiing wat verdamping verminder kan water spaar, maar nie alle gronde is geskik nie en ouer boorde se verspreide wortelstelsels mag aanvanklik sukkel om aan te pas by die beperkte area van benatting. Dit kan die oes negatief affekteer.
  • Vrugte word van die bome verwyder.
  • Vrugteboere hersien weekliks hulle watergebruik en pas strategieë dienooreenkomstig aan. Hoë inkomste boorde kry meer water as gemiddelde boorde en swakker boorde word uitgehaal. Indien strenger waterbeperkings ingestel word of minder water beskikbaar is, kry van die beter boorde ook minder water.
  • Die gebruik van vogmeters en skedulering van besproeiing op grond van streng parameters.
  • Die gebruik van FruitLook (http://www.fruitlook.co.za/) om oorbesproeiing te identifiseer.
  • Grawe van profielgate in boorde om worteldiepte te bepaal en dan besproeiing daarvolgens aanpas.

Hortgro het reeds in Augustus (Wes-Kaap) en September (Oos-Kaap) droogte seminare aangebied waar moontlikhede om water te bespaar onder boere se aandag gebring is. Omtrent 400 boere het die seminare bygewoon.

Bron: Hortgro

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0