Groot oorwinning vir landbou: Privaat BKS-inenting moontlik na skikking

bek en klou
Foto: Shutterstock
’n Skikkingsooreenkoms tussen die Departement van Landbou Vrystaat Landbou, Saai en Sakeliga, verbreek die staatmonopolie op die invoer en toediening van bek-en-klouseer (BKS) entstowwe.
Hierdie ontwikkeling volg op ’n deurslaggewende hofuitspraak vroeër vanjaar waarin die Pretoriase Hooggeregshof bevestig het dat veeboere wettiglik geregistreerde BKS-entstowwe privaat mag bekom en aan hul diere mag toedien.
Francois Wilken, president van Vrystaat Landbou, sê dat die uitspraak en uiteindelike skikking ’n belangrike keerpunt in die bestuur van die BKS-krisis in Suid-Afrika verteenwoordig. “Dit verwyder onnodige regulatoriese struikelblokke en staatsmonopolie en maak dit vir die private sektor moontlik om ’n daadwerklike rol te speel in die beskerming van die nasionale kudde.”
Wilken sê verder dat Vrystaat Landbou deurentyd volgehou het dat samewerking tussen die staat en die private sektor noodsaaklik is om die verspreiding van die siekte effektief te beperk. Die organisasie het saam met ander rolspelers, Sakeliga en Saai, regsaksie ingestel om die staat se belemmering van privaat invoer – en inentingspogings te beëindig en sodoende praktiese oplossings vir produsente te verseker.
“Hierdie skikking bevestig wat ons van die begin af gestel het, naamlik dat boere deel van die oplossing moet wees. Dit verleen aan produsente die nodige reg om hul kuddes te beskerm en dra by tot groter stabiliteit in die landbousektor,” sê Wilken.
Vrystaat Landbou, asook die Minister van Landbou, mnr Willie Aucamp, is dit eens dat die pad vorentoe gefokus moet wees op samewerking, voldoende beskikbaarheid van entstowwe en ’n gekoördineerde, nasionale inentingsstrategie.
Vrystaat Landbou bly verbind tot die beskerming van voedselsekerheid, die volhoubaarheid van die veesektor en die bevordering van praktiese, werkbare oplossings vir sy lede en die breër landbougemeenskap.
Bron: Vrystaat Landbou