Grondmikrobiologie, die hede en die toekoms

7
deur Dr Chris Schmidt, Kynoch Kunsmis
Landbou is in ‘n tydgleuf waarin fokus al hoe sterker op die onderwerp van grondmikrobiologie en “grondgesondheid”, ronddans. Gereelde gesprekvoering oor die spektrum heen, tussen die media, produsente, adviseurs, verkoopslui, tersiêre akademiese- en navorsingsinstellings en insetverskaffers neem plaas.
Meting en die kwantifisering van ‘n grond in terme van “grondlewe” en sogenaamde gesondheidsvlakke, of indekse, word gedoen. Die afgelope twee tot drie jaar is ook gekenmerk deur werkswinkels en konferensies oor hierdie onderwerp.
Beskikbaarheid van inligting oor die afgelope jaar of twee raak baie insiggewend, waarvan seker een van die interessantste, die plant se assosiasie met mikro-organismes, is; bekend as ‘n plant mikrobioom. Alle mikrobes geassosieer met ‘n lewende plant, staan kollektief bekend as ‘n mikrobioom. Die plantbioom is belangrik, deurdat mikrobes in noue interaksie met die plant assosieer en ‘n duidelike invloed, of bydrae, tot die plant se groei, ontwikkeling en gesondheid, kan hê (‘n direkte impak op winsmarges).
Die konsep word hiernaas aangedui in Figuur 1 (Microbika, 2023).
Die filosfeer word gedefinieer as die bogrondse plant oppervlakte wat insluit blare, stamme en blomme. Hierdie plant elemente kan ‘n verskeidenheid van organismes huisves. Hierdie organismes staan as epifiete bekend en word blootgestel aan faktore soos wind, temperatuur en uitstraling; laasgenoemde veroorsaak dus dat die mikrobes tussen seisoene kan verskil.

Die endosfeer is die mikrobiese omgewing binne plantweefsel, insluitend die volumes binne en tussen plantselle in blare, stamme en wortels. Hierdie organismes staan bekend as endofiete en kan die plant binnedring deur die wortelpunte, natuurlike openinge in die plantweefsel, of kan koloniseer gedurende vroeë ontwikkeling van die plant.
Die risosfeer is die robuuste mikrobiese omgewing op en rondom die plant se wortels, insluitend die naby grondvolume rondom die wortels. Hierdie organismes sluit in daardie wat plantegroei kan bevorder deur verhoogde biobeskikbaarheid van elemente vanuit die grond, aan die betrokke plant. Terselfdertyd word anti-mikrobiese verbindings uitgeskei wat siektes en peste onderdruk.
Die besef bestaan dat die “grootgebruik” van chemie aan die grond, wel ‘n impak op grondmikrobiologiese lewe het. Verder is alle lewe in die grond nie noodwendig goed ten opsigte van gewasverbouing nie, en om hierdie rede word daar gesoek na die teenwoordigheid van “voordelige” organismes, en dus balanse tussen voordelige en nadelige organismes. Daar bestaan verskille in organisme-assosiasie en populasies tussen eenjarige gewasse (bv. mielies, koring, sojabone, sonneblom, of grondbone), teenoor meerjarige gewasse (bv. boomspesies, druiwe, ensovoorts). By die eenjarige gewasse sal hoë populasies tydens die groei van die betrokke gewas gevind word, met ‘n groot afplatting na volwassewording en afsterwe.

Tydens rus of braak lê van ‘n droëland sal spesiegetalle, in die afwesigheid van wortels, baie afneem. Hierteenoor sal populasie getalle en fluktuasies by ‘n permanente gewas ‘n ander dinamika volg. Die rol van die mikrobioom en die verband daarvan met plantgesondheid, plantproduksie en biochemiese siklusse, behoort net so veel inagneming te geniet, as die plant self (Turner et al. 2013).
Bronne:
Microbika, 2023. Unlock the Potential of the Microbiome. https://www.microbika.com/approach.
Turner et al., 2013. The plant microbiome. Genome Biology 2013, 14:209 http://genomebiology.com/2013/14/6/209.
Vir meer inligting, kontak hom by 082-885-8134, of stuur ‘n e-pos na chris.schmidt@kynoch.co.za.