Categories: Artikels, GewasproduksiePublished On: 24th January 2024

Groentetuin vir beginners deel 8: Maak jou eie kompos

By 7 min read
1335 words

kompos 2

Die beste en goedkoopste manier om te verseker dat jou tuingrond van goeie gehalte is, goed dreineer en terselfdertyd vog behou, is om jou eie kompos te maak en in die grond in te werk.

Kompostering is ՚n proses wat organiese materiaal, soos blare, takkies, grassnysels en kombuisafval soos skille en ou groente en vrugte afbreek tot ryk, krummelrige donkerkleurige kompos wat na gesonde grond ruik. Die afgebreekte plantmateriaal wemel van voordelige mikro-organismes en erdwurms en as jy dit in jou tuingrond inwerk skep jy ՚n gesonde groeimedium.

Hoekom kompos?

  • Kompos is omgewingsvriendelik. As jy kompos maak van kombuis- en tuinafval gaan minder daarvan na stortingsterreine, wat die impak op die omgewing verminder.
  • Kompos verryk die grond op natuurlike wyse en jy het nie chemiese kunsmis nodig nie.
  • Komposryke grond het beter waterhouvermoë, so jy hoef minder dikwels jou tuin nat te spuit, wat water bespaar.
  • Komposryke grond absorbeer vog en verhoed dat die tuin verspoel.
  • Buitendien, hoekom iets weggooi wat vir jou van groot waarde kan wees?

ABC van komposmaak

A. Waar moet die komposhoop geplaas word?

  • Die grond onder die hoop of houer moet goed dreineer;
  • Daar moet bietjie skaduwee wees;
  • Dit moet toeganklik wees vanaf jou kombuis;
  • Dit moet naby ՚n kraan wees sodat jy die hoop kan klam hou;
  • Dit moet buite bereik van troeteldiere en klein kindertjies wees;
  • Vir ՚n huistuin moet daar genoeg plek wees om die komposhoop van sowat ՚n meter hoog en ՚n meter wyd te huisves.

Komposwurms, in Engels bekend as wigglers, kan by die kompos gevoeg word om die organiese materiaal te help afbreek.

B. ՚n Hoop of ՚n houer?

Sommer net ՚n hoop

՚n Hoop kompos in ՚n weggesteekte hoek in jou tuin is voldoende, mits jy kans sien vir ՚n ietwat onordelike hoop plantmateriaal wat aan ՚n mossienes herinner…

՚n Maklike kas

Jy kan ook jou eie komposhouer bou. Jy kan bakstene, sementblokke of houtlatte gebruik. Bou twee houers langs mekaar: wanneer die tweede een vol is, behoort die kompos in die eerste en gereed wees om te gebruik.

Houers te koop

Daar is verskeie komposhouers in die handel beskikbaar, soos ՚n tuimelaar wat jy met ՚n slinger kan draai en omdop om die kompos uit te gooi, of ՚n komposhouer met ՚n deksel bo sodat jy materiaal kan byvoeg en ՚n deurtjie onder waardeur jy die kompos wat gereed is om te gebruik kan uithaal. Die plasing van die houer berus op dieselfde beginsels as ՚n komposhoop.

Mens kry ook komposteerders wat jy in jou kombuis kan hou om kombuisafval te verwerk, maar hulle is nogal duur.

C. Hoe bou jy ՚n komposhoop?

  • Voor jy begin, spit die grond onder die komposhoop- of houer om sodat water vrylik kan dreineer en erdwurms uit die grond die organiese materiaal in die komposhoop of -houer kan bereik en help afbreek.
  • Plaas groen en bruin lae materiaal afwisselend sowat 30 cm dik in die houer. Die groen materiaal is vars en stikstofryk, terwyl die bruinlaag koolstofryk is.
  • Groen materiaal is vars materiaal, terwyl bruin materiaal droog is.
  • Om die proses aan te help kan jy ՚n lagie aktiveerder, wat in die handel beskikbaar is, of dieremis/korrels tussen die lae strooi.
  • Gooi die lae nat soos wat jy die hoop bou, maar die materiaal moet klam, nie deurweek wees nie.
  • Wanneer die houer vol is moet jy dit bedek met iets wat lug sal deurlaat, maar nie ՚n stortbui nie. Te veel water laat die inhoud vrot, terwyl die natuurlike komposteringproses nie sal plaasvind as die plantmateriaal te droog is nie.
  • Laat die kompos vir ՚n maand lank staan sodat dit natuurliker wyshitte kan opbou wat sal klaar speel met onkruidsaad of plantsiektes.
  • Keer die kompos om met ՚n tuinvurk en bedek weer.
  • Herhaal minstens nog een keer voordat die proses voltooi behoort te wees en die natuur jou seën met ryk, donkerkleurige, krummelrige kompos wat soos skoon, nat grond lyk en soos grond in ՚n woud ruik.

D. Wat kan jy gebruik?

  • Vrugte- en groenteskille en stukkies vrugte en groente wat weggegooi sou word
  • Koffiemoer en teeblare
  • Gebruikte koffiefilters, papierservette en -handdoeke
  • Versnipperde of opgeskeurde karton, eierhouers en koerantpapier, maar nie glanspapier soos advertensieblaaie nie
  • Tuinafval, soos grassnysels, verlepte blomme, blare en takkies en selfs onkruid wat nog nie saadgeskiet het nie
  • Fyngebreekte eierdoppe
  • Neutedoppe
  • Houtsaagsels of -skaafsels van onbehandelde hout. Pasop net dat die houtskaafsels, net soos te veel grassnysels, nie op ՚n hoop lê en die komposteringsproses smoor nie.

Moenie die volgende gebruik nie:

  • Troeteldiermis of katsand
  • Vleis, bene, vis of pluimvee
  • Gaar kos
  • Suiwelprodukte
  • Steenkoolas of houtskool, maar klein hoeveelhede as van ՚n houtvuur is goed
  • Groot stukke hout
  • Skaafsels of saagsels van behandelde hout
  • Vet of kookolie, of papiervadoeke waarmee jy die olie opgevee het
  • Tuinafval wat voorheen met insek-of onkruiddoder behandel is.
  • Siek plante
  • Plastiek of enige ander materiaalwat nie bio-afbreekbaar is nie

Tuinafval soos grassnysels, blare en takkies is ideale groen, stikstofryke materiaal om in die kompos te gebruik.

E. Gebruik jou kompos

Wanneer die organiese materiaal opgebreek het tot ՚n ryk, donker krummelrige kompos, is dit gereed om in die tuin gebruik te word. Jy kan dit met pot- of tuingrond meng of dit bo-op die grond gooi.

Jy kan ook kompostee maak deur ՚n bietjie van die kompos tot twee dae lank in water te week en dit dan op die plante spuit.

F. Alternatiewe bemesting

Bokashi-emmer

Die Bokashi-emmer is aanlyn en by sommige tuinsentrums beskikbaar. Dit is ideaal om plantaardige afval uit die kombuis in kompos te omskep. Groenteskille en ander kombuisafval word in die emmer geplaas en ՚n handvol Bokashi-mengsel word bo-oor gestrooi. Soos wat die emmer vol raak, word die inhoud saamgepers om lugholtes te verwyder. Die gegiste vloeistof loop deur die plastiekdreineringsplaat in die emmer tot in die opgaarhouer aan die onderkant en kan dan met die kraantjie fgetap word en verdun op plante gebruik word. Wanneer die emmer vol is, lyk die gegiste organiese materiaal soos sagte, vloeibare slyk. Dit kan in die grond ingewerk word of as bolaag gebruik word. Die laaste fase van die gistingsproses vind in die grond plaas.

Wurmplaas

՚n Wurmplaas bestaan uit ՚n paar lae houers wat op mekaar gestapel word en in ՚n koel, maar nie koue plek weg van direkte sonlig gehou word. Die wurms, hetsy erdwurms of komposwurms (wigglers) word kombuisafval gevoer en hulle skei ryk swart erdwurmkompos (vermicast) uit. Die erdwurmkompos kan in saailingmengsels, potgrondmengsels of as bolaag gebruik word. Vloeistof wat afgeskei word, dreineer deur die boonste houers tot in die onderste houer met ՚n soliede basis. Die vloeistof kan met die kraantjie afgetap word en om die helfte met water gemeng word vir vloeibare kompos wat net so aangewend kan word.

Groenbemesting

Plante wat vinnig volgroeid raak en in ՚n bedding geplant word nadat jy die groente geoes het, voeg organiese materiaal en stikstof by die grond. Dit sluit mosterd, hawer, lusern, peulgewasse en gars in. Plant die gewasse in die winter en spit die plante in die grond in sodra blomme begin vorm.

Tuisgemaakte vloeibare kunsmis:

Gebruik seewier, mis van plantvreters, kruie en plante om vloeibare kunsmis te maak. Week ՚n lap of sak met dieremis (nie troeteldiermis nie!) of plante daarin in ՚n groot emmer en laat dit twee dae staan. Verdun met water sodat dit soos flou tee lyk en gooi rondom plante.

Kommersieel vervaardigde organiese kunsmis:

Daar is verskeie produkte op die mark. Dit sluit droë miskorrels, vloeibare miskonsentraat, seewierkonsentraat, viskonsentraat en beenmeel in. Beenmeel is goedkoop, maar jou hond gaan die plantjies uitgrou as hy snuf in die neus kry…

Droë mis van vee, perde en hoenders kan by die kompos gevoeg word.

Ajmera, R. (2021) How to Start Composting at Home. Healthline https://www.healthline.com/nutri-tion/composting-beginners-guide

Anthony, D. (2014) Enigeen kan groente kweek. Metz Press ISBN: 978-1-928201-12-0

Durand, F. (2020) Maak jou eie kompos. Die wêreld om ons. https://wereldomons.co.za/2020/03/02/maak-jou-eie-kompos/#page-content

McNulty, T. (2016) So maak jy jou eie kompos. Tuis https://www.netwerk24.com/tuis/Tuine/Tuindagboek/so-maak-jy-jou-eie-kompos-2017091

1

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

1