Groentetuin vir beginners deel 7: Geenbewerkingtuinmaak

woman-gardner-greenhouse_1303-14063
Geenbewerking, in Engels no-till, is ՚n bekende begrip in landbou en al meer boere begin die waarde daarvan besef, veral in die lig van klimaatsverandering. Daar is talle redes waarom jy ook die beginsel in jou nuwe groentetuin kan toepas.
Tuinmaak met geenbewerking beteken presies dit: Vergeet van grond omdolwe. Pak lae vrugbare materiaal op mekaar soos wat jy ՚n lasagne in ՚n bakskottel sal bou, en siedaar! Jou tuin is gereed om te beplant.
Daar is verskillende maniere om ՚n geenbewerking-tuin aan te pak, naamlik die genoemde lasagne-metode as jy ՚n stukkie grond so groot soos jou kombuisdeur het of in potte as jy net ՚n balkon het, maar smag na vars groente. Jy kan ook jou groente in strooibale of in plastieksakke plant.
Met al hierdie metodes sal jy erosie en gepaardgaande verlies van voedingstowwe teenwerk, maar die beste rede is dat jy nie hoef te spit en spook om die grond te bewerk nie: as jou bedding of potte gereed is, kan jy dadelik saad saai of saailinge plant.
Waarom word geenbewerking al meer gebruik?
Tuinmaak verg tyd en moeite, veral as jy daarmee begin. Jy moet die grond minstens 15 cm diep omspit en van die vorige jaar se plantwortels, gras en bossies ontslae raak voor jy die plantjies in die grond kan kry. Wanneer die grond omgespit word, word die struktuur daarvan versteur, tesame met die mikroörganismes en erdwurms wat in die plantreste in die grond voorkom. Die los struktuur van die grond lei daartoe dat reën of besproeiingswater die laaste bietjie voedingstowwe uitwas en saam met die modder wegspoel, of die wind waai die stof tot binne-in jou huis.
Hoe maak mens
Dit is nie moeilik of harde werk om ՚n geenbewerking-bedding te maak nie.
• Beplan waar jy die beddings wil hê – onthou plante moet minstens ses uur sonskyn per dag kry om na wense te groei.
• Sorg dat die beddings naby ՚n kraan is sodat jy die groente sonder sukkel kan water gee.
• Kry al die materiaal waarmee jy die beddings gaan bou bymekaar. Dit sluit in kartondose, wat jy gratis by die supermark kan kry, ou koerante, kompos, hoendermis (as jy dit kan kry), en ander organiese materiaal soos gesnyde gras of ander tuinafval wat jy as molm of ՚n deklaag kan gebruik. As jy nog nie kompos gemaak het nie, kan jy dit by ՚n kwekery kry; sommige ysterwarewinkels hou dit ook aan.
- Bees-, vark of skaapmis wat verouder is kan as organiese bemesting in die geenbewerking-bedding ingewerk word. (Bron: Pixabay)
- ՚n Laag molm of deklaag verhoed dat die grond vinnig uitdroog, voorkomdat die grond en voedingstowwe wegspoel en dat onkruid en goggas vatplek kry. Wees bedag daarop dat slakke onder die deklaag kan wegkruip.(Bron: Pixabay)
Beplan die uitleg
Die belangrikste aspek is om nie die grond te versteur nie – jy bou die beddings bo-op die grond.
Meet die beddings uit – dit kan so lank wees as waarvoor jy plek het, maar dit moenie so wyd wees dat jy in die bedding moet trap om die plante te bereik nie.
Plaas die beddings so dat jy die plante in die middel van die bedding vanaf die paadjie(s) tussen die beddings kan bereik.
Gebruik dieselfde beginsel as jy verhewe beddings soos houtkaste of ander houers gebruik.
- Omdat geenbewerking nie skerptoerusting of enige chemiesestowwe behels nie, is dit veilig virkinders om te help tuinmaak.(Bron: Pixabay)
- Grassnysels kan as organiese materiaal ingewerk word of as deklaag gebruik word. (Bron: Pixabay)
Bou die bedding
Plaas die kartondose of koerantpapier in lae op die grond. Jy hoef nie die gras of bossies uit die nuwe bedding te verwyder nie, hulle sal vrek omdat hulle nie son kry nie. Die laag sal mettertyd heeltemal afbreek en deel word van die grond.
• Bedek die karton of papier met minstens 15 cm kompos.
• Gooi ՚n laag hoendermis wat reeds afgebreek is of organiese bemesting bo-oor. Enige verouderde mis sal werk, maar nie die mis van troeteldiere of ander omnivore nie. As jy vars mis gebruik moet jy dit kans gee om eers af te breek anders sal dit die wortels van die jong plantjies brand.
• Gooi nou ՚n laag molm of deklaag (mulch) bo-oor. Laasgenoemde kan bestaan uit versnipperde blare, grassnysels, skaafsels van onbehandelde hout, stukkies boombas, strooi of hooi.
Plant
Jy kan dadelik saadjies saai of saailinge plant. Saailinge werk beter want hulle is sterker as die fyn worteltjies van ontkiemende saad. Gooi nat.

Minder besproeiing is nodig want die organiese materiaal neem water op en behou vog en die deklaag verminder verdamping en hou die grond koel. (Bron: Pixabay)
Onderhoud
• Hardnekkige onkruid sal altyd opkom. Trek dit met die hand uit voordat dit te diep wortels maak.
• Omdat die saad of plantjies in ՚n dik laag ryk kompos geplant is, het jy nie baie bemesting nodig nie. Indien jy organiese bemesting soos ghwano wat in water verdun is gebruik, sal dit nie die wortels brand of die grond besoedel soos in die geval van chemiese bemesting nie.
• Omdat die molm of deklaag voorkom dat die vog verdamp hoef jy nie so dikwels te besproei nie.
• Omdat die voedingstowwe nie saam met die bogrond wegspoel of wegwaai nie, kan jy deur die seisoen nog plantjies plant en oes soos wat jy die groente nodig het.
• Aan die einde van die seisoen trek jy nie die dooie plante met wortel en tak uit nie, jy knip net die dooie stingels teen die grond af. Die wortels bly net waar hulle is as organiese materiaal wat saam met die molm afbreek en as voeding vir die volgende seisoen se plante dien.
• Met die aanvang van die nuwe seisoen gooi jy weer ՚n laag kompos en molm oor en plant jou plantjies.

Geenbewerking beteken dat die grond nie omgedolwe word nie. Die struktuur word nie versteur nie sodat plantmateriaal en mikroörganismes daarin behoue bly om voedingstowwe aan die plante te verskaf. (Bron: Pixabay)
Lasagne-metode
Die lasagne-tegniek verwys na die manier waarop die organiese materiaal in lae in die bedding geplaas word en wat herinner aan die manier hoe die gewilde pastagereg gemaak word. Dit verskil effens van wat hierbo uiteengesit is.
Daar is verskillende menings oor hoe ՚n lasagne-bedding gemaak moet word, maar dit kom kortliks daarop neer dat die grond meer voedsaam word namate die lae organiese materiaal afbreek.
• Plaas ՚n laag karton of lae koerantpapier, maar nie plastiek nie, op die grond waar jy die bedding wil maak.
• Gooi ՚n laag absorberende organiese materiaal soos houtskaafsels of grassnysels sowat 10 cm diep op die karton of papier.
• Gooi ՚n laag organiese materiaal soos kompos en organiese bemesting soos hoendermis sowat 20 cm diep bo-oor.
• Gooi die bedding bietjie nat sodat die afbreekproses kan begin en voedingstowwe vrygestel kan word.
• As die bedding gedurende die winter voorberei word, kan dekgewasse soos klawer of akkerboon (cowpea) in die bedding gesaai word. Die plante sal verhoed dat die bedding deur winter wegspoel en boonop die grond met stikstof verryk. In die lente kan die dekgewasse bo die grond afgeknip word en die plantjies kan geplant word.
- Plant groente nader aan mekaar as in tradisionele boerdery en bedek die grond met ‘n deklaag vir voordele soos laer waterverbruik en minder peste en plae. (Bron: Pixabay)
- Baie boere skakel oor na geenbewerking, maar daar is uitdagings soos om metodes te vind om die pH van die grond te herstel na monokultuurgewasse soos mielies en koring. In jou tuin, waar mens gewoonlik net genoeg groente vir jou gesin kweek, is geenbewerking haalbaar. (Bron: Pixabay)
Voordele van geenbewerking
• Geenbewerking is minder werk as konvensionele tuinmaak, want jy hoef nie pik te slaan en te grou nie.
• Die bedding hoef nie weer voorberei te word nie – gooi net ՚n nuwe laag kompos en molm oor.
• Die groente word organies verbou sonder enige chemiese bemesting en pes- of plaagbeheermiddels.
• Omdat die molm keer dat die vog verdamp, is minder water nodig.
• Die beskermende laag kompos en molm keer dat die voedingstowwe en grond wegspoel.
• Hoe ouer die bedding word, hoe meer voedingstowwe word opgegaar.
• Dit is minder werk en meer pret. Die kinders kan help tuinmaak omdat daar nie gevaarlike toerusting of giftige middels gebruik word nie.

Konvensionele boerdery is arbeidsintensief, het duur masjinerie nodig, asook baie water, bemesting en onkruid- en plaagbeheer. (Bron: Pixabay)
Bronverwysings Leichty, C. (2023) How to Start a No-Till Garden: A Complete Step-By-Step Guide https://donotdisturbgardening.com/how-to-start-a-no-tillgarden-a-complete-step-bystep-guide/





