Groentetuin vir beginners 4: Ken jou groente

groente-2
deur Tisha Steyn
Al die groente wat ons eet behoort tot ՚n spesifieke groep van groente. Om te weet tot watter groep jou gunsteling groente behoort, help met die beplanning van jou groentetuin.
Die verskillende groentegroep sluit die volgende in:
• Uie-familie: uie, knoffel, preie en grasuie;
• Beet-familie: beet, spinasiebeet en spinasie;
• Kopkool- of mosterdfamilie: kopkool, blomkool, brokkoli en radyse:
• Pampoenfamilie: komkommers, pampoene, skorsies en murgpampoentjies;
• Boontjiefamilie: groenbone en ertjies;
• Aartappelfamilie: aartappels, tamaties, eiervrug, patats en soeten brandrissies;
• Wortel- of pietersieliefamilie: wortels, seldery en vinkel;
• Sonneblomfamilie: blaarslaai, artisjokke en Jerusalem-artisjokke;
• Ander: soetmielies, aspersies, rabarber, okra en gemmer. Groente van dieselfde groep groei dikwels nie so lekker saam nie omdat hulle voedingsbehoeftes dieselfde is en hulle dus met mekaar meeding.
Sommige lede van ՚n groep aard beter in koeler omstandighede, terwyl ander in ՚n warm klimaat floreer. Die geheim van ՚n groentetuin is om klein te begin en namate jy meer ondervinding opdoen en selfvertroue kry, kan jy uitbrei met ander groentesoorte. Begin met vyf tot tien groentesoorte wat jy die graagste in jou tuin wil plant. Die maklikste is om aanvanklik saailinge by ՚n kwekery te koop, want om saad in kissies te saai en hulle groot te kry, klink makliker as wat dit is.
Daar is gewoonlik ses saailinge in ՚n bakkie. Om ՚n gesin van vier uit jou eie tuin kos te gee, kan jy begin deur radyse, tamaties, eiervrug, groenbone, komkommers, murgpampoentjies, blaarslaai, spinasie, mielies en rissies te plant. Kruie wat onontbeerlik is in ՚n groentetuin is roosmaryn en tiemie, basiliekruid, oreganum, marjolein en salie. Seldery, pietersielie en gras- of sprietuie groei vinnig en is heerlik en mooi as garnering. Ment is lekker, maar versprei vinnig en neem gou ՚n bedding oor. ՚n Suurlemoenboom en aarbeie rond jou groentetuin af.

Al hierdie groente en kruie groei maklik en vinnig. In die volgende hoofstukke sal meer inligting gegee word oor die verskillende stappe, maar hierdie is ՚n vertrekpunt.
1. Berei die grond voor.
2. Plant die saailinge in volson of halfskadu volgens die aanduiding op die saadbakkie.
3. Strooi gebreekte eierdoppe rondom die stammetjies om slakke weg te hou.
4. Plaas strooi bo-op die bedding om grondvog te bewaar en onkruid in toom te hou.
5. Trek die onkruid uit wat wel opkom.
6. Gee gereeld genoeg water.
7. Inspekteer jou plante daagliks om seker te maak daar is nie ongewenste insekte op nie.
8. Siek plante word veroorsaak deur ՚n virus, swam of bakterie. Trek uit en vernietig.
9. Die blare se kleur dui aan of die plant genoeg voedingstowwe kry of ՚n tekort het.
10. Voed die grond met kompos of vloeibare voeding.
11. Oes blaargroente deur buiteblare met ՚n skerp, skoon skêr af te sny.
12. Pluk groente soos dit ryp word.
13. Verwyder die plantreste van seisoenale eenjarige plante.
14. Plant nuwe saailinge.
15. Gooi plantreste op die komposhoop.
Groentesoorte
Tamaties (Lycopersicon esculentum)
(Capsicum-spp).
Tamaties behoort, net soos aartappels, eiervrug, soet- en brandrissies, tot die aartappelfamilie (Capsicum-spp). Daar is duisende kultivars wat almal tot net twee groeiwyses behoort, naamlik die wat stoel en die wat rank. Die kultivars wat stoel is geskik vir ՚n klein tuin, want hulle groei op een plek en rank nie die hele tuin vol nie. Jy het dus nie stutte nodig nie. Die tamaties word vinniger ryp as ranktamaties, wat heel seisoen lank dra. Tamaties is ՚n somergewas en is gevoelig vir ryp. Plant saailinge in die middel van die lente op ՚n beskutte plek met volson in grond wat baie kompos bevat en goed dreineer.
Tamaties kort gereeld water, want as jy dit op een slag te veel water gee, kan dit blom-endverrotting (blossom-end rot) veroorsaak en die ryp tamaties laat bars. Plant die saailinge sowat 60 cm uitmekaar sodat hulle goed geventileer is om swamsiektes te ontmoedig. ՚n Deklaag of kompos wat die wortels koel hou, help om die grond vogtig te hou. Breek die sylote weerskante en net bokant die hoofblaarstele af om te verseker dat die plant aanhou sterk groei en dra. Wees op die uitkyk vir swam- en virussiektes, blaarvlek, myte, ruspes, witvlieg en groen kewers. Tuisrate soos ՚n knoffel- en skottelgoedseepmengsel in water kan help teen witvlieg en luise, maar hou in gedagte dat gesonde plante nie so maklik of gereeld aangeval word deur insekte of siektes nie. Plantkundiges sê meer as 90% van “plantsiektes” is eintlik voedingstekorte.
Tamaties kan teen ՚n lae temperatuur in die oond gedroog word. Tamaties vries goed en jy hoef nie eers die skille af te trek nie – spoel die gevriesde heel tamatie onder die kraan af en die skil kom in jou hand af net soos wanneer jy ՚n vars tamatie in kookwater dompel. Gevriesde tamaties werk in bredies en souse, maar nie in slaai nie!
Eiervrug (Solanum melongena)
Eiervrug kom in verskeie vorms en kleure, maar die lieflike diep-pers (aubergine) eiervrug is die volopste, gevolg deur die wit-en-pers gestreeptes. Baba-eiervrug is ook deesdae beskikbaar. Eiervrug groei goed in volson in los, vrugbare grond. Moenie naby aartappels of tamaties plant nie, want hulle behoort tot dieselfde familie en hulle ding met mekaar mee om voedingstowwe in die grond. Die plant word selde hoër as een meter, maar begin lank voor dit daardie hoogte bereik blomme maak en vrugte dra. Hoër kultivars moet gestut word, want die vrugte raak swaar.
As jou eiervrugplante skielik begin verwelk, is dit waarskynlik verlepsiekte (wilt disease), wat veroorsaak word deur Fusarium en verticillium-fungi. Jy kan daar niks aan doen nie, so trek maar die plante uit en vernietig. Oes die eiervrugte terwyl die vel nog blink is, want as die vrug sy glans verloor, raak dit bitter, en om die eiervrug in skywe te sny en sout daarop te strooi sodat dit kan sweet, help nie.
Blaarslaai (Lactuca sativa)
Blaarslaai behoort tot die sonneblomfamilie Asteraceae. ՚n Groot verskeidenheid hibriede in verskillende vorms, kleure en teksture is beskikbaar. Blaarslaai kan heeljaar deur in gematigde gebiede gesaai word. Saai of plant regstreeks in ՚n sonnige plek in grond wat verryk is. Gooi gereeld nat in warm, droë weer om te keer dat die blaarslaai saadskiet. Wanneer dit gebeur, raak die blare hard en bitter. Die blaarslaai kan elke twee weke gevoed word met vloeibare kunsmis sodat die blare soet en sappig bly.
Waar dit baie warm en droog is, kan halfskadu die blaarslaai help teen uitdroging. ՚n Deklaag sal die grondvog bewaar, en gebreekte eierdoppe om die stam sal jong plantjies teen slakke beskerm. Wanneer jy blare oes vir slaai, breek die buitenste blare af sodat die binneste blare aanhou groei. Blaarslaai hou langer in die yskas in ՚n verseëlbare houer met ՚n papiervadoek onder en bo-oor die blare.
Kyk uit vir genoemde slakke, naakslakke, plantluise, donsskimmel en sagtevrot, wat ՚n bakteriese siekte is. Maak altyd seker dat jy blaarslaai in soutwater laat lê voor jy dit in slaai, op broodjies of as ՚n toevoublaar (wrap) gebruik om seker te maak jy kry nie per ongeluk ՚n wesentjie in wat skadelik vir jou gesondheid is nie.
Bronverwysings
Anthony, D. (2014) Enigeen kan groete kweek. Metz Press. ISBN978-1-928201-12-0
Wilt diseases (n.d.) Texas Plant Disease Handbook. Texas A&M Agrilife Extension https://plantdiseasehandbook.tamu.edu/problems-treatments/problems-affecting-multiplecrops/wilt-diseases/