Categories: NuusPublished On: 13th November 2025

Graanboer van die Jaar 2025: Landbou ‘’n riskante besigheid’

By 7 min read
1449 words

1

Richard Krige, voorsitter van Graan SA, Luc Henry, besturende direkteur van Syngenta, Dihan, Hansie, Wilmarie, Henrikus en Kobus Viljoen, en dr. Tobias Douer, uitvoerende hoof van Graan SA. (Bron: Graan SA)

Hansie Viljoen van Leeudoringstad is onlangs aangewys as Graan SA/Syngenta se Graanboer van die Jaar 2025.

Hansie en sy vrou, Wilmarie, en hulle drie seuns, Kobus, Dihan en Henrikus, bedryf die Viljoen Boerdery naby Leeudoringstad in die Noordwes provinsie.

Hierdie gesogte toekenning gee erkenning aan Hansie se innoverende en gedissiplineerde, inligtinggedrewe benadering tot graanboerdery. Presisieboerdery-tegnologie, die bestuur van grondgesondheid en ’n sterk besigheidsin gee hom ’n voorsprong in die landbousektor.

Hansie se boerdery is ’n toonbeeld van volhoubare diversifikasie met die produksie van mielies, sojabone en ander gewasse. Sy mensgedrewe bestuursfilosofie en voortdurende belegging in vaardighede en tegnologie sorg vir ’n wenresep.

Sy benadering is gerig op generasienalatenskap en hy doen alles in sy vermoë om gesonde grond vir sy nageslag na te laat. “Ek besef die ware prys van sukses lê nie in tonnemaat nie, maar in die gesondheid van die grond wat ons agterlaat.”

Presisieboerdery dryf volhoubaarheid

Hansie maak intensief gebruik van presisieboerdery, slim besproeiing en
GPS-tegnologie om sy hulpbronne sonder vermorsing ten volle te benut. Dit stel hom in staat om elke vierkante meter van sy plaas optimaal en volhoubaar te bestuur.

Hy bewys dat ’n toekomsbestande boerdery, gebou op beplanning, tegnologie en respek vir die grond, ten spyte van ekonomiese uitdagings suksesvol kan wees.

Van familieplaas na gesinsonderneming

Hansie het sy liefde vir boerdery by sy ouers gekry. Hy het in 1986 met ’n BAgric-graad van die Universiteit van die Vrystaat saam met sy ouers in ’n gemengde boerdery met graan, vee, ’n voerkraal en ’n melkery begin boer.

Mettertyd het hy die boerdery oorgeneem en dit ontwikkel van ’n familieplaas na ’n groot, gestruktureerde gesinsonderneming waarby sy drie seuns ook betrokke is.

Elkeen van die seuns dra met sy eie belangstelling en vaardighede by tot die boerdery. “Dis makliker om suksesvol te wees as jy kinders het wat saam met jou wil boer,” sê Hansie. “Mense is ’n onmisbare deel van jou besigheid.”

Kobus is saam met sy oupa by Tau Meule, Dihan hanteer die beesvertakking en Henrikus is betrokke by die besproeiings- en die wildboerdery.

Hansie Viljoen, patriarg van die Viljoen Boerdery van Leeudoringstad in die Noordwes provinsie, wat pas aangewys is as Graan SA/Syngenta se Graanboer van die Jaar 2025. (Bron: Graan SA)

Boerdery oor landsgrense heen

Die Viljoen-boerdery strek oor dele van die Vrystaat en Noordwes, asook Ghanzi in Botswana. Dit sluit droëland- sowel as besproeiingsproduksie in en is gekoppel aan hulle eie meule wat die waardeketting verleng en diversifiseer.

Hulle verbou mielies, sojabone, aartappels en koring, het  ’n Droughtmaster- en ’n Simmentaler-stoet én ’n kommersiële Charolais-kudde.

Vir Hansie is risikoverspreiding belangrik – van mielies en sojabone op droëland tot aangeplante weidings, ’n voerkraal en selfs aartappelproduksie.

Hierdie kombinasie bied stabiliteit in ’n bedryf waar die produsent nie beheer het oor pryse, klimaat en insetkoste nie. “Die beeste is vir ons ’n buffer – as die graanprys swaar kry, dra die diere by om die risiko te balanseer.”

Viljoen Boerdery sluit droëland- en besproeiingsproduksie in en is gekoppel aan ’n eie meule wat die waardeketting aanvul. (Bron: Graan SA)

Presisie, tegnologie en grondgesondheid

Hansie is ’n groot voorstander van presisieboerdery sowel as die gebruik van tegnologie om opbrengste en doeltreffendheid te verbeter. Volgens hom funksioneer hulle planters, trekkers en stropers soos ’n “geoliede masjien”, selfs snags, danksy moderne beligting en GPS-tegnologie.

Mielies is die hoofgewas, en word ongeveer elke vier jaar met sojabone afgewissel; lande met laer potensiaal word oorgelê indien daar nie genoeg vog in die grond is nie. Die vorige paar seisoene was die vensterperiode om klaar te plant 14 dae.

Presisieboerdery fokus op grondgesondheid. Met variërende kalktoediening, rotasies en die insluiting van biologiese produkte werk die Viljoens daaraan om die biologie van hul gronde te versterk. Wisselbou met sojabone het ook tot merkbare verbeterings in grondstruktuur en opbrengste gelei.

Jaarlikse kultivarkeuses word baseer op hulle kennis van die gewas, en proewe word vir nuwe kultivars geplant wat hul potensiaal toon. Opbrengsdoelwitte word bepaal volgens die potensiaal van gekarteerde gronde, en langtermyn gemiddelde data word ingespan om te meet en met die omgewings- en nasionale opbrengste te vergelyk.

Viljoen Boerdery boer naas graangewasse ook met ’n Droughtmaster- en Simmentaler-stoet sowel as ’n kommersiële Charolais-kudde wat in swak graanjare die boerdery deurdra. (Bron: Graan SA)

Balans tussen chemie en biologie

Hoewel chemiese middels steeds ’n rol speel, beweeg Hansie doelbewus na ’n meer geïntegreerde en biologiese benadering. Hoewel proewe bewys dat biologiese oplossings soms gelyke of selfs beter resultate as konvensionele chemiese middels bied, meen hy ’n balans moet gehandhaaf word.

“Enige stremming, hetsy ’n plaag, onkruid, hitte of wind, kos jou opbrengs. Hoe beter jy daardie stremming uitskakel, hoe sterker trek jou plant weg.”

Plantgesondheid word deur blaarontledings gemonitor met die doel om plante se groeikrag vir maksimum beskerming te stimuleer ter wille van wortelontwikkeling.

Dissipline en risiko-versagting

Viljoen beskryf boerdery as ’n “riskante besigheid” waar twee swak seisoene ’n mens kan breek.

Hy hou boek van alle koste, opbrengste en besluite – en het ’n nuwe stelsel, Xero, geïmplementeer om rekordhouding te verbeter.  Xero bied fyn insig in elke vertakking se koste en opbrengste, asook voertuig- en trekkeruitgawes.

Boonop span Hansie Africlock in om die werknemers se ure en dieselverbruik na te spoor.

Alle aankope gaan deur ’n streng goedkeuringsproses, van kwotasies en bestellings tot WhatsApp-bevestigings wat daarna in Excel ingevoer word.

Begrotings word streng nagevolg en maandeliks hersien. Begrotings en kontantvloei word ook op Excel gemonitor en reggestel – en Hansie-hulle besin ook gereeld oor gelykbreekpunte en prysscenario’s. “Ons moet altyd weet teen watter prys ons wins kan maak. As jy nie jou syfers ken nie, bestuur jy blind,” sê Hansie.

Maksimum uitset, minimum koste

Die Viljoens se trekkervloot bestaan uit trekkers van 75 kW tot meer as 300 kW, aangevul deur selfaangedrewe spuite en stropers vir mielies en sojabone. Trekkers word nie blindelings vervang nie, maar eers na sowat 6 000 ure en ook net wanneer dit finansieel en prakties geregverdig is.

Die 200 kW-trekkers word elke vierde of vyfde jaar vervang na gelang van hul finansiële posisie. Die 9 000-reeks trekkers lewer gemiddeld 1 700 tot 2 000 ure per jaar en jaarliks word een vervang.

Stropers, wat swaar werk op sojabone doen, word sowat elke drie jaar of op grond van tonnemaat vervang.

Koste-analise is vir Hansie belangrik: “Daar is altyd ’n sweet spot tussen herstelkoste en vervangingskoste. Ons stelsels wys wanneer dit tyd is om oor te skuif.”

John Deere se Operations Centre monitor die trekkers se werksure en diensrekords digitaal, en plaasbestuurders en WhatsApp-verslae help om inligting op Excel vas te lê.’n Eie span werktuigkundiges en streng instandhouding beteken selfs ouer trekkers is steeds produktief.

Spanwerk en motivering

Met meer as sewe plaasbestuurders en verskeie spanne werknemers, verg die bestuur van arbeid besondere aandag.

Hansie glo in oop kommunikasie en winsdeling. Die werknemers ontvang ekstra vergoeding vir nagskofte en word betrek by beplanning en besluitneming. “Ons sit elke oggend saam oor koffie en praat oor die dag se werk. Dit bou ’n spangees en gee vir elkeen ’n gevoel van eienaarskap,” verduidelik Hansie.

“Langtermynverhoudings is vir ons belangrik – van die mense werk al meer as 20 jaar hier.”

Slim risikobestuur

Met groot volumes graan en beesvleis wat die mark betree, is bemarking en verskansing ’n kritieke deel van die boerdery.

Benewens beesvertakking is Dihan ook verantwoordelik vir die kontraktering van graan en gebruik vooruit-kontrakte, pryspoele en verskansingsmeganismes om prysskommelings te bestuur.

Die gewasse en hoeveelhede wat geplant moet word, word gekoppel aan prysscenario’s en uitvoerpariteit. “Ons moet altyd vra watter kultivar die beste netto uitkoms per hektaar gee. Dit gaan nie net oor tonnemaat nie, maar oor wins­gewendheid,” sê Hansie.

Hy is ook in beheer van veebemarking. Die beeste word elektronies op Livestock Intelligence gelaai. – die diere beweeg deur drukgange, word geweeg, geklas en selfs geskei en al die inligting word outomaties op die stelsel gelaai.

Henrikus is in beheer van die wildboerdery waar .teelgroepe elande op vier plekke voorkom. Seleksie berus op fisieke grootte en horings, terwyl DNS-monsters naspeurbaarheid verseker.

’n Pad vorentoe:  Doeltreffender, gesonder en volhoubaar

Hansie glo dat opbrengste verder verhoog kan word deur beter kultivars, verbeterde biologiese grondgesondheid en meer doeltreffende gebruik van sonlig en water.

“Hierdie toekenning is nie net myne nie, maar ook vir my gesin en ons span. Boerdery gaan oor tydsberekening, spanwerk en vertroue, en ek is trots om deel te wees van ’n sektor wat steeds groei, aanpas en ons volk voed.”

Bronverwysings

Gomes, A. (2025) Graanprodusent van die Jaar – finaliste bekendgestel. Graan SA. https://sagrainmag.co.za/2025/10/08/graanprodusent-van-die-jaar-finaliste-bekendgestel/

Grain SA honours excellence in agriculture at the 2025 Grain Producer of the Year Awards (2025) GraanSA. https://www.grainsa.co.za/news-headlines/press-releases/grain-sa-honours-excellence-in-agriculture-at-the–2025-grain-producer-of-the-year-awards

Hansie Viljoen: ‘n Lewe van Volhoubare Groei en Generasienalatenskap (2025) AgriNews. https://agrinews.co.za/hansie-viljoen-n-lewe-van-volhoubare-groei/

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0