Categories: NuusPublished On: 24th February 2022

Gewilde begroting sorg vir vrae

By 2 min read
473 words

Godongwana

Minister van Finansies, Enoch Godongwana

Die 2022 begrotingsrede is beslis ’n gewilde een en daar is belowende aspekte, maar vir TLU SA bly die uitdaging van enige plan die uitvoering.

Die Minister van Finansies, Enoch Godongwana het gister 23 Februarie 2022 sy eerste volwaardige begrotingsrede gelewer. 

“Minister Godongwana sê al die regte dinge oor ekonomiese groei, belasting-aansporings en sy beslistheid oor staatsinstellings. Vir ons kom dit egter altyd terug na uitvoering. Weens kader-ontplooiing is daar ’n groot te kort aan kundigheid om idees tot uitvoering te bring,” het mnr. Bennie van Zyl, TLU SA Hoofbestuurder gesê.

Die toevoeging van R8,7 miljard by die polisie se begroting is welkome nuus. 

“Dit is vir ons belangrik om die versekering te kry dat die geld na die regte kanale en mense gaan om ’n verskil te maak aan die misdaadsyfers. Weens korrupsie – waarna die minister verwys het – is daar steeds ’n groot mate van wantroue en onsekerheid. As die geld net na mense gaan wat eie gewin najaag, beteken dit heeltemal niks. Vir die geld om impak te maak, moet die polisie gesuiwer word.”

Suid-Afrika betaal nou toelaes aan meer as 46% van die bevolking.

“Wyle Dries Joubert het destyds gesê dat as jy in Afrika ’n tier opsaal, kan jy nooit afklim nie en dit is waarmee ons nou te doen het met die maatskaplike toelaes. Weens die beleidsomgewing, swak ekonomiese groei en ongelooflike hoë werkloosheid is ons land en sy inwoners in grootskaalse armoede vasgevang. Dit kan eenvoudig nie net gestaak word nie…Dit is egter reuse-uitgawe vir ons land. En om eerlik te wees, as so groot deel van die bevolking afhanklik van die staat is, bevind ons ons reeds in ’n sosialistiese bestel wat baie gevaarlik is.”

Die aksynsbelasting op drank is ’n terugslag. “Die wynbedryf moes reeds heelwat terugslae weens Covid-inperkings oorkom en dié verhoogte pryse gaan nog ’n uitdaging wees,” het mnr. Van Zyl gesê.

Die begroting sluit R5,2 miljard se belastingverligting in om die ekonomiese herstel te help ondersteun, ’n bietjie blaaskans van brandstofbelastingverhogings te bied en aansporings vir werkverskaffing by die jeug te bevorder. In 2021 het die binnelandse petrolprys R20 per liter oorskry. Die hoër pryse het druk geplaas op die koste van vervoer, voedsel en ander goedere en dienste.

Geen verhogings tot die algemene brandstofheffing op petrol en diesel vir 2022/23 nie. Dit sal belastingverligting van R3,5 miljard aan Suid-Afrikaners bied. Daar sal ook geen verhoging in die Padongelukkefondsheffing wees nie.

“Wat TLU SA vir Suid-Afrika soek is ’n begroting wat die ekonomie sal stimuleer, en nie net stemme vir die ANC wil koop nie. ’n Begroting wat beleggings sal lok, wat die belasting basis sal verbreed en die mense uit die moeras van toelaes, na die werkende ekonomie sal plaas. Ons soek ’n sterk onderwysstelsel, wat inwoners produseer wat bou en bydra, nie plunder en brand nie,” het mnr. Van Zyl bygevoeg.

Bron: TLU SA

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0