Categories: Artikels, NuusPublished On: 23rd June 2025

Georganiseerde landbou is nie ’n luuksheid nie, dis ‘n noodsaaklikheid: Waarom elke boer lid van TLU SA behoort te wees

By 2 min read
456 words

Bennie van Zyl_TLU SA

Bennie van Zyl is die hoof bestuurder van TLU SA. Die landbou unie glo dat landbou die enkele grootste stabiliserende invloed op die Suid-Afrikaanse ekonomie uitoefen en dat alle landbou beleide aan ekonomiese beginsels getoets moet word in plaas daarvan om politieke agendas te bevorder.

deur Bennie van Zyl, TLU SA

In die moderne Suid-Afrika waar boere daagliks gekonfronteer word met beleidsdruk, grondonsekerheid, infrastruktuurverval, misdaad en internasionale bemarkingsbeperkings, is daar eenvoudig geen ruimte meer vir stil toekyk nie. Die boer wat nie georganiseer is nie, is blootgestel.

Daarom staan TLU SA al vir meer as 120 jaar aan die voorpunt om kommersiële boere in Suid-Afrika se belange aktief te beskerm en bevorder.

“Ons kan nie wag vir iemand anders om ons regte te beskerm nie,” sê Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA. “Die staat het bewys dat hy nie belangstel in die volhoubaarheid van kommersiële landbou nie. Dit is die boere self wat moet opstaan, saamstaan en wys wees. En dis presies wat georganiseerde landbou doen.”

TLU SA is nie net ’n spreekbuis nie. Dit is ’n aksiebeweging. Die organisasie tree proaktief op by beleidsforums, parlementêre komitees en regsprosesse. Lede het toegang tot regsadvies, navorsing, strategieë vir risiko-bestuur en netwerkondersteuning van boere oor die hele land. Dis ’n familie van boere wat mekaar dra, ondersteun en saam opstaan vir hulle regte en hulle plaaslewe.

Boere wat deel is van TLU SA, dra by tot ’n kollektiewe stem wat nie maklik geïgnoreer kan word nie. Elke nuwe lid versterk die hand van die organisasie. “Ons veg nie net vir vandag se boer nie, maar ook vir die reg van jou kinders en kleinkinders om eendag op daardie plaas te kan boer,” sê Bennie van Zyl.

Daar is ook ’n sterk gemeenskapsdimensie aan georganiseerde landbou. In ’n beroep waar eensaamheid, druk en verwarring dikwels deel van die dag-tot-dag werklikheid is, bied TLU SA ’n platform van samehorigheid, beginselvastheid en sinvolle betrokkenheid. Hier kry boere die geleentheid om mekaar te leer ken, kennis te deel, oplossings te bou en sinvolle netwerkverbintenisse te vorm.

TLU SA is ’n organisasie wat in jou eiendomsreg glo. In ekonomiese vryheid. In verantwoordelike bestuur. In Christelike waardes. En in die reg van die vrye boer om op sy eie grond ’n toekoms te bou.

Om nie betrokke te wees nie beteken om buite die beskerming, invloed en ondersteuning van ’n gevestigde struktuur te staan. Elke boer in Suid-Afrika wat omgee vir sy plaas, sy gesin en sy land, behoort lid van TLU SA te wees.

“Ons sal altyd aanhou praat en optree, maar ons het elke boer nodig om saam met ons te staan,” sê Bennie van Zyl. “Dis nie ’n tyd om aan die kantlyn te staan nie. Dit is tyd om verantwoordelikheid te neem. Want as landbou leef, leef die land.”

Vir meer inligting oor die werksaamhede van TLU SA kan boere gerus die webwerf besoek by www.tlu.co.za, stuur ‘n e-pos aan navrae@tlu.co.za of skakel (+27)12-804-8031.

2

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

2