Categories: NewsPublished On: 1st March 2017

Georganiseerde landbou hét oplossings vir die grondvraagstuk

By 4 min read
713 words
Vrystaat Landbou

Vrystaat-Landbou-logo-275×275

Uitlatings deur pres. Jacob Zuma en Gugile Nkwinti, minister van Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling, dat die regering oorweeg om grondhervorming te versnel deur grond sonder vergoeding te onteien, geniet Vrystaat Landbou (VL) se onverdeelde aandag. Die organisasie is van mening dat deelname aan hierdie debat nie vir diegene is wat nie die sensitiwiteit van die debat verstaan nie.

Die wese van die debat het sy ontstaan in die geskiedkundige ontsegging van basiese menseregte, spesifiek die reg om grond te besit. Erkenning van hierdie feit, tesame met ‘n vaste oortuiging dat ons die vraagstuk ekonomies en grondwetlik kan aanspreek, moet deel vorm van hierdie sensitiewe debat, aldus Dan Kriek, president van VL. Die uitdaging vandag is om eiendomsreg te beskerm, terwyl ons die reg daartoe aan nuwe toetreders wil uitbrei. Miljoene Suid-Afrikaners besit vandag eiendom en sal hulle hard verdiende grondwetlike regte beskerm. Ons sal hieraan meedoen en meewerk. VL is onverbiddelik in sy standpunte oor die beskerming van eiendomsreg.

In ’n poging om die grondvraagstuk aan te spreek het die regering grondteikens daargestel, sonder ‘n aanduiding hoe die persentasies bereken is en meer belangrik sonder ‘n verbintenis hoe daarby uitgekom sou word.

Die onlangse uitlatings word nou aan georganiseerde landbou as ‘n strategiese denkfout toegedig. Waarmee ons hier te make het, is ’n regering wat so in ‘n hoek gedryf is oor sy eie gebrek aan implimentering en korrupsie, dat hulle hulself nou wend na sulke onverantwoordelike uitsprake. Die ANC-regering het inderdaad nou vol sirkel beweeg vanaf die veroordeling van eiendomsreg skendings onder die apartheidsregering, na beoogde skending van eiendomsreg in eie reg. Die Grondwet waarvan hulle medeskrywers was en hierdie menseregte sou verskans, word nou die skuld gegee vir hulle eie mislukkings. VL sal hierdie voornemens van die President aanspreek met alles tot ons beskikking en op elke front denkbaar. Ons sal ook progressief denkende vennote soek wat dieselfde waardes as ons deel, ten einde die uitbouing en verbreding van ons grondwetlike waardes te verseker.

VL het hom deurentyd daarvoor beywer om ‘n ekonomies en grondwetlike gefundeerde benadering hiertoe te volg. Die eerste VL grondplan is reeds tydens die 2006 Kongres goedgekeur, waarna dit tydens ’n beraad op Bethlehem in 2007 aan oud-president Thabo Mbeki oorhandig is. Ons het ons ware kleure gewys deur ‘n grond-oudit van die Vrystaat suksesvol af te handel. In die afwesigheid van massiewe vlakke van korrupsie, wanbesteding en burokratiese rompslomp sou die vrye mark al lankal beduidende vordering hiermee gemaak het. Daar is reeds talle voorbeelde waar ons lede uit hulle eie, asook in samewerking met die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming (DRDLR), suksesvolle projekte opgerig het. Van hierdie lede was selfs sprekers op ons 2016 Kongres. Die uitbou van hierdie inisiatiewe sal verder aangemoedig en ondersteun word.

Tweedens is dit ‘n gegewe dat die wyse waarop die regering grondhervorming toepas tot ’n verlies aan voedselproduksie lei. VL het hom al telkemale hieroor uitgespreek en is tans in gesprek met DRDLR om die meer as 200 plase wat in die provinsie in onbruik verval het, weer in produksie te kry. Ons lede neem die inisiatief in hierdie verband en het reeds met werkbare voorstelle vorendag gekom. Kommoditeitsorganisasies en landboubesighede is instrumenteel in boerontwikkelingsprojekte en is tans die leiers op hierdie terrein. Aanhoudende kommunikasie en samewerking met die betrokke departemente (Landbou en DRDLR) is nodig om hierdie suksesverhale te vermenigvuldig.

Die ironie is dat vir al die politieke retoriek en leunstoel kritiek, daar eenvoudig beter werkbare oplossings bestaan. VL is deel van Agri SA wat reeds in 2014 ‘n holistiese grondplan ter tafel gelê het. ‘n Finansieringsmodel is gedurende 2015 voorgestel en aanvaar. Hierdie twee elemente het die potensiaal om grondhervorming suksesvol te laat geskied. Ons sal aanhou om die Regering op alle vlakke te oorreed dat ‘n inklusiewe benadering in hierdie verband tot defnitiewe vordering sal lei. VL verstaan dat onlangse gebeure die vlakke van onsekerheid by ons lede ernstig verhoog en sal alles in sy vermoë doen om tot voordeel van ons lede op te tree. ’n Ekonomiese en grondwetlike benadering tot grondhervorming bly ononderhandelbaar. Ten laaste bied die groeiende vraag na bekostigbare, veilige voedsel ’n geleentheid vir meer toetreders tot die sektor, wat kan lei tot die normalisering van die bedryf. Die regte benadering sal wees om hierdie groei geleenthede met ‘n inklusiewe benadering aan te pak.

Bron: Vrystaat Landbou

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0