Categories: Crop production, SeedPublished On: 10th December 2014

Geen keer aan K2 se groei nie

By 3 min read
661 words
So lyk een van die netjiese tonnelstelsels wat as deel van KLEIN KAROO Saadbemarking se opleidingsprogram aan gemeenskappe beskikbaar gestel word.
 
So eg Suid-Afrikaans soos biltong, boerewors en mieliepap. KLEIN KAROO Saad Bemarking, ook bekend as K2, het in eie bodem wortel geskiet toe ’n groep boere in 1947 die behoefte gehad het aan die ontwikkeling van goeie lusernsaad.
 
Net so kragtig soos die groei wat uit die saadmaatskappy se produkte spruit, het K2 self ook gegroei tot dié maatskappy in Suid-Afrika wat die wydste saadpakket, van graan en gras tot groente, beskikbaar het, met toegang tot wêreldwye tegnologie.
 
Die jongste verwikkeling is dat die maatskappy deur ’n reuse belegging van die bekende beleggingsmaatskappy, PSG, uit die KLEIN KAROO-groep gekoop is en nou finaal op sy eie bene staan. PSG se landboubeleggingsafdeling, Zeder, het vele nuwe deure oopgemaak en K2 is besig om sy vlerke oor kontinente heen te sprei.
 
“Mense begin ons al beter ken as K2, want waar ons nou oral saad verkoop, sukkel hulle nogal om die woorde KLEIN KAROO op die tong te kry,” vertel Johan Pieterse, Afrika uitvoerbestuurder.
 
Met proefplase so ver as in Nederland en Jordanië en ’n reeks handelsname, soos Top Harvest, Monarch en Bakker Brothers, is K2 besig om internasionaal naam te maak.
 
Regte gras = groot groei
 
“Ons groei veral in Afrika met kantore in Zambië, Zimbabwe en Mosambiek,” sê Johan. “Deur ons weidingsprogram in Zambië saam met die reuse boerderymaatskappy, Zambeef, kon ons byvoorbeeld bewys dat die voerkraalbeeste met ons raaigras, Enhancer, tussen 400 en 500 gram per dag beter groei getoon het.”
 
Suid-Afrikaanse boere hoef glad nie afgeskeep te voel nie. Al die kundigheid van die wye wêreld kom terug huis toe om in KLEIN KAROO se plaaslike saadontwikkeling wortel te skiet.
Op die proefplase net buite Oudtshoorn en by Bapsfontein naby Pretoria is plantwetenskaplikes voortdurend aan die woeker om vir plaaslike boere net die beste groente-, weiding- en graankultivars te ontwikkel. Afrigro is die bekende handelsnaam vir groentesaad en K2 Agri is die naam wat graanen vleisboere goed ken.
 
Benewens die proefplase, is daar ’n verpakkingsaanleg by KLEIN KAROO Saad Bemarking se nuwe hoofkantoor op Oudtshoorn en ’n saadverwerkingsaanleg op Bethal. Van die aanlegte af word die saad na depots by Potchefstroom, Louis Trichardt, Senekal en Potgietersrus gestuur, met verteenwoordigers wat landwyd op die plaas die boer met raad en saad bedien.
 
Die saad is ook landwyd in al die bekende landbouwinkels beskikbaar vir boere wat dalk voorraad wil aanvul en vir kleiner boere of die huismark, met al meer stedelinge wat ook daarvan hou om hulle eie vars tamaties agter in die tuin te pluk.
 
As deel van die belegging in eie bodem, het KLEIN KAROO Saad Bemarking ook ’n tydjie gelede met die KLEIN KAROO Akademie begin. Die Akademie is betrokke by landbouprojekte in gemeenskappe, maar op ’n heel unieke manier.
 
Belowende toekomstige boere word in die gemeenskappe geïdentifiseer en dan na die proefplaas by Oudtshoorn geneem waar hulle praktiese opleiding van drie weke lank ondergaan.
 
“Ons begin by die begin,” vertel Pierre Maritz, bestuurder van die proefplaas. “Van die hantering van saad tot by die bemarking van hulle produkte, ontvang hulle al die nodige inligting.” Inligting is nie al nie wat hulle ontvang nie. Terug by die huis rig KLEIN KAROO vir hulle ’n tonnel op en vestig ’n stelsel wat prakties vir die omgewing sal werk.
 
Alles wat hulle nodig het vir die eerste 12 maande se produksie, word voorsien en daar word ook voortdurend ondersteuning en raad gegee. “Ons het al baie suksesverhale beleef,” vertel Pierre.
 
Op pad na die proefplaas by Oudtshoorn gesels Jan Meyer, weidingspesialis en streekbestuurder, oor die ontwikkeling van hulle raaigraspakkette en die kuilvoermielies, KKS8408 en KKS8410, wat nou al die afgelope drie jaar die beste presteer in die LNR se proewe. Hy sê: “Dit gaan vir ons oor tonne en gehalte.”
 
Tonne gehalte is wat enige boer, voornemend, klein of kommersieel, gaan ontvang deur die pad saam met K2 te stap.
0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0