Categories: NewsPublished On: 11th January 2017

Gebruik antibiotika verantwoordelik

By 3 min read
512 words

inenting

Die dieregesondheidsbedryf voorsien waarde aan die gemeenskap deur diere en gevolglik mense teen siektes te beskerm. So sê Health-for-Animals,‘n nie-winsgewende, nie-regeringsorganisasie wat die vervaardigers van veeartsenykundige produkte, entstof en ander dieregesondheidsprodukte regdeur die wêreld verteenwoordig.

Antibiotika genees nie net mense van bakteriese siektes nie, maar ook diere. Op dié manier word die morele verpligting teenoor diere wat in die mens se sorg is, vervul. Antibotika speel ‘n rol in volhoubare veeproduksie deur vermorsing en ondoeltreffendheid wat deur siektes veroorsaak word, te voorkom. Dit help ook om te verseker dat die kosprodukte wat van diere verkry word, veilig is.

Antibiotika moet altyd verantwoordelik en volgens veeartsenykundige voorskrif gebruik word. Dit moet ook net gebruik word as dit regtig nodig is. Antibiotika is kragtige werktuie wat vir die komende geslagte bewaar moet word. Daarom moet dit altyd so gebruik word dat die moontlikheid van die stimulering van weerstandige bakteriese stamme beperk word.

Dit vereis korrekte beleid en strategieë. Ingeligte besluitneming berus op betroubare feite en daar moet onderskeid getref word tussen mites en taktieke om beleidsmakers en die publiek te mislei.

Onder die groot aantal wanopvattings oor die rol van antibiotika in landbou is die volgende bewerings:

  • “Antibiotika word net toegedien om groei te bevorder” – Antibiotika word egter by plaasdiere om presies dieselfde redes gebruik as wat die geval is by mense – om siektes te voorkom en te beheer. Alle sogenaamde groeibevorderende antibiotiese produkte is in 2006 in Europa verban en die gebruik van medies belangrike antibiotika om gewigstoename en voerdoeltreffendheid te verbeter sal oor die volgende twee jaar in Amerika en Kanada onttrek word. Ander groot landbou-ekonomieë het soortgelyke beleide aanvaar.
  • “Antibiotika word net gebruik om swak boerderypraktyke te verdoesel.” – Daar word geglo dat diere wat naby aan mekaar in hokke aangehou en gespanne is, makliker siektes sal kry en dus meer antibiotika nodig sal hê. Moderne landbou-eenhede is egter baie suksesvol omdat die diere produktief is. Diere is net produktief as hulle gesond en ontspanne is. Oor die algemeen kan swak dierewelsyn tot siektes lei en diere se vatbaarheid vir siektes verhoog. Veranderinge in die veebedryf het positiewe gevolge gehad, soos beter higïene en beter biosekuriteitsmaatreëls, wat die risiko van siektes verlaag.
  • “Plaasdiere is ‘n groot bron van besmetting waarteen mense weerstandig is.” – Sommige stamme van bakterieë wat weerstandig is word in plaasdiere gevind en daar is ‘n teoretiese risiko dat dit gesondheidsprobleme in mense kan veroorsaak, deur òf regstreeks van dier na mens oorgedra te word, òf deur die bakteriese besmetting van kos, òf deur weerstandige gene wat tussen menslike en dierelike bakteriese stamme uitgeruil word. Hoewel boere en veeartse toegee dat sulke risiko’s wel bestaan, is dit duidelik dat dit nie ‘n belangrike faktor is in die ontwikkeling van multi-middelweerstandige bakteriële besmetting van mense nie.
  • “Weerstandigheid word maklik van diere na mense oorgedra”. – Die meerderheid bakterieë is aangepas om op ‘n sekere gasheerspesie te oorleef, wat beteken dat ‘n bakteriële stam wat in beeste of skape gevind word, waarskynlik nie in mense sal oorleef nie.

 

Bron: RPO Bulletin Januarie 2017

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0