Gaan jy meer vir brandstof in Desember betaal?

brandstof
Deur Fanie Brink, Onafhanklike Landbou-Ekonoom
Die pryse van brandstof kan na verwagting in Desember skerp styg weens die verdere styging in die ru-olieprys en die verswakking in die wisselkoers.
Volgens die jongste inligting van die Departement van Energie wat vanoggend bekend gemaak is, kan die prys van petrol 93 (ULP & LRP) in Gauteng op Woensdag, 6 Desember 2017 moontlik met 71,9c per liter en die prys van diesel met ‘n 0,005% swaelinhoud moontlik met 61,1c per liter styg.
Volgens internasionale bronne het die gemiddelde daaglikse Brent ru-olieprys hierdie maand tot sy hoogste vlak sedert Junie 2015 van $64,27 per vat gestyg.
Die lede van die Organisasie vir Petroleumuitvoerlande en Rusland vergader weer later hierdie week om te besluit oor ‘n verlenging van hulle nege maande ooreenkoms wat in Julie vanjaar bereik was om die internasionale vraag en aanbod in ‘n beter balans te bring deur die vermindering van sy olieproduksie.
Weens die styging in die ru-olieprys kan die gemiddelde internasionale prys van petrol moontlik met 45,7c per liter styg en die prys van diesel moontlik met 34,3c per liter in die dieselprys.
Die daaglikse gemiddelde R/$-wisselkoers het die afgelope maand van ongeveer R/$13,80 tot R/$14,20 verswak weens die politieke onsekerheid en verdere ekonomiese agteruitgang wat verlede week tot verdere afgraderings in die kredietstatus van die land aanleiding gegee het.
Hierdie verswakking in die wisselkoers sal na verwagting stygings van 26,2c per liter in die petrolprys en 26,8c per liter in die dieselprys tot gevolg hê.
Die finale prysveranderings sal deur die Minister van Energie bekend gemaak word.
Bron: Departement van Energie