Categories: NuusPublished On: 28th November 2025

Francois Rossouw: Wes-Kaap se Jongboer kraai koning

By 5 min read
1066 words

Francois Rossouw is vroeër vanjaar aangewys as Agri Wes-Kaap se Jongboer van die Jaar 2025. (Bron: Agri Wes-Kaap)

Francois Rossouw is vroeër vanjaar aangewys as die nasionale Toyota SA/AgriSA se Jongboer van die Jaar.

Francois, die vierde geslag wat op Mooigezicht-landgoed, hul familieplaas in De Doorns in die Hexriviervallei met tafeldruiwe boer, is op 26 November as die Wes-Kaap se Jongboer van die Jaar aangewys.

“Dit was ’n ongelooflike voorreg om by die funksie te kon wees,” sê Francois. “Dit was baie lekker om die ander provinsies se jongboere te ontmoet – ek het baie respek vir hulle as ongelooflike mense en uitstekende boere. Die beoordelaars het beklemtoon hoe naby die uitslae was en hoe sterk die groep van finaliste was en ek is bevoorreg om tyd saam met hulle te kon deurbring.”

Volgens Francois was dit ook goed om die uitvoerende bestuurders van die provinsiale Agri-verenigings te ontmoet, asook die hoofbestuur van Toyota, die hoofborg, wat baie moeite gedoen en geld in die kompetisie belê het, veral ten opsigte vandie gala-aand en almal daar te kry – sowel as die pryse wat hulle borg.

“Ek het die toekenning glad nie verwag nie, maar ontvang dit met die grootste nederigheid en dankbaarheid. Ek beskou dit as ’n genade. Ek is opgewonde oor wat die toekoms vir landbou inhou, maar ook watter invloed die toekenning in die toekoms op my lewe kan hê.

“Dit is nie ’n individuele prestasie nie, maar iets waarop ons hele maatskappy trots is. Dit is ’n prestasie van die hele maatskappy, want ek sal as jongboer nie my passie kan uitleef sonder dat elkeen van ons personeel hulle nie so goed van hulle taak kwyt en baie lang en harde ure insit nie.

“Dit is vir my lekker om te sien dat die mense in ons maatskappy opgewonde is oor die toekenning – dis belangrik, want dis waaroor dit gaan. Ek dra die toekenning aan hulle op. Dit is ook vir my familie en my vrou wat my so ongelooflik ondersteun.”

Francois sê vier goed van die nasionale kompetisie staan vir hom uit: “Die feit dat ek kon deel wees van die kompetisie het my oë laat oopgaan en my wêreld verbreed. Ek was bevoorreg om met ons landbouleiers en die minister te doen te kry en te sien watter ongelooflike werk hulle doen, asook hulle positiwiteit oor landbou, veral te midde van die baie kritiek wat hulle kry. As ’n mens dit nie ervaar nie, sien ’n mens dalk net die slegste raak, maar ek dink die departement kry glad nie genoeg erkenning vir wat hulle doen en insit in landbou nie.”

Francois Rossouw is in November aangewys as Agri SA se Jongboer van die Jaar. Hier is hy saam met John Steenhuisen, minister van landbou, sy vrou, Jean-Marie, en Jannie Strydom, uitvoerende hoof van Agri Wes-Kaap. (Bron: Verskaf)

Dit was vir hom ook lekker om groot ondernemings soos Toyota en Santam se beplanning betreffende en betrokkenheid by landbou te sien. “Dit maak ’n mens ongelooflik positief.”

Georganiseerde landbou is ook vir hom uitsonderlik. “Ek het nog altyd daarvan geweet, maar voor die kompetisie nie genoeg kennis daarvan gedra nie. Hulle kry definitief ook nie altyd die erkenning wat hulle toekom vir al die probleme wat hulle moet oplos nie. Dit was lekker om te sien wat hulle alles vermag en die ondersteuning wat hulle vir boere bied – dit laat mens verstaan hoekom georganiseerde landbou al 200 jaar bestaan!”

Dit was ’n belewenis om die ander jong boere te ontmoet, sê Francois. “Dit gee vir my die versekering dat landbou se toekoms in baie goeie hande is. Dit is boere wat elkeen ook hulle eie uitdagings het, maar positief is en die uitdagings oorkom, wat vorentoe gaan en volhoubaar boer, wat rentmeesters is en wat landbou weer kan oorgee aan die volgende geslag. Hulle stel ook belang in die gemeenskap. Hulle glo daarin dat landbou ekonomiese en sosiale stabiliteit in hulle eie gemeenskappe, hulle provinsie en die res van die land skep.”

Die kompetisie het Francois opnuut oortuig dat boere moet hande vat met georganiseerde landbou, groot maatskappye wat landbou ondersteun, die regering en ander jongboere om landbou vorentoe te vat. “Landbou speel so ’n groot rol, ons kan nie anders as om positief daaroor te wees nie.”

Mooigezicht-landgoed

Die Mooigezicht-boerdery staan op vier bene, naamlik produksie, bemarking en logistieke en pakmateriaal wat gesamentlik maksimum waarde tot die produk voeg. Daar is tien produksie-eenhede wat 400 ha tafeldruiwe, waarvan 18 pitlose variëteite, produseer – en wat regoor die wêreld, van Kanada tot Amerika, Europa, die Verenigde Koninkryk, die Midde-Ooste, Suidoos-Asië en China uitgevoer word.

Die familieboerdery sluit sy pa, Francois sr., besturende direkteur, sy oom Stephan,mede-eieaar en bemarkingsdirekteur, Laetitia, sy pa se jongste suster wat ook betrokke is by bemarking, asook haar man, Tyron Jardim, wat op Mooigezicht se direksie dien en die logistieke bestuurder is.

Francois dien ook op die direksie en hy help om die strategiese en finansiële take te hanteer. Hy is verantwoordelik vir vyf van die tien produksie-eenhede, en sy take sluit die daaglikse bestuur en begrotings van hierdie eenhede in. Francois verrig ook verskeie oorhoofse take op die plaas, soos grondvoorbereiding, besproeiing en spuitprogramme. Tans werk hy ook aan ’n groot son-energieprojek wat binnekort in werking gestel gaan word.

Francois en Jean-Marie by die voertuig wat hy as prys van Toyota SA ontvang het.

 Volgens Francois is opleiding en die opheffing van hulle werkers, wat sowat 2 000 in die seisoen beloop, belangrik en hy sê die boerdery hou talle voordele vir hulle in, waaronder sosiale ontwikkelingsprgrogramme vir die volwassenes en kinders, asook ’n kliniek en biblioteek op die plaas. “Met die groot aantal werkers  in die seisoen, moet ons korrek optree en vooruitdenkend wees om te voldoen aan wetgewing,” het hy vroeër in ’n onderhoud met ProAgri Media gesê.

 Jannie Strydom, uitvoerende hoof van Agri Wes-Kaap, het Francois ná sy aanwysing as Agri Wes-Kaap se Jongboer van die Jaar so beskryf: “Francois is die soort jong boer wat hoop gee vir die toekoms van landbou in ons provinsie. Sy benadering tot bestuur – van presisieboerdery en tegnologie tot mense-ontwikkeling en gemeenskapsbetrokkenheid – toon ’n buitengewone balans van kundigheid en menslikheid. Hy is ’n waardige ambassadeur vir ons provinsie.”

Agri SA het Francois geluk gewens met sy toekenning as syJongboer van die Jaar. “Francois se leiding by Mooigezicht Estates, sy tegnologie-gedrewe benadering tot water en voeding, en sy fokus op mense-ontwikkeling maak hom ’n ware kampioen van die Hexriviervallei. Sy visie dra by tot ’n mededingende, volhoubare tafeldruifbedryf.”

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0