Categories: Artikels, WielePublished On: 25th October 2024

Foton Tunland G7 TLX dubbelkajuit 4×4 outomaties: ‘n Verrassingsbakkie uit China

834 words

foton 4

Die Foton handelsnaam is nie onbekend aan Suid-Afrikaners nie. Die Foton Tunland bakkies het ‘n paar jaar gelede plaaslik gedebuteer, maar het nie juis suksesvol gewees om die gemiddelde plaaslike bakkie koper te oortuig nie, en die Tunland bakkie het daarna in 2018 stil-stil van die toneel verdwyn. Afgesien van swak verkope was ondergemiddelde bougehalte en swak naverkoopdiens grootliks die rede. Die Foton handelsnaam het egter plaaslik vasgebyt.

Met hierdie geskiedenis in die agterkop, kan plaaslike kopers se skeptisisme nie juis verkwalik word nie.

Foton SA het egter ‘n Tunland G7 TLX 4×4 outomatiese dubbelkajuit weergawe ingeskryf in die 2024 SA Bakkie van die jaar kompetisie waar dit deelgeneem het in Kategorie A vir dubbelkajuit 4×4 outomatiese bakkies met ‘n enjingrootte van tussen 100-125kW.

Die bakkies is aan meer as ‘n 150 strawwe toetse onderwerp in 3 toetskategorieë, naamlik Sleep (met ‘n 1,5Ton MobiLodge boskaravaan), 4×4 oor sand, klip en verskeie uitdagende roetes asook dinamiese hantering op teer en grond deur meer  as 20 ervare beoordelaars. Ten spyte van almal se aanvanklike vooroordele het die Tunland G7 TLX soos getoets almal verras en boonop beïndruk deur vele duurder en meer gerekende deelnemers in sommige toetse die loef af te steek.

Die Foton Tunland G7 TLX Outomatiese 4×4 dubbelkajuit bakkie kompeteer plaaslik in terme van enjin kapasiteit met onder meer die JAC T9, Mahindra  Pik Up,  Isuzu D-Max 1.9Tdi, Toyota Hilux 2.4Tdi, LDV T60, Ford Ranger 125kW en Peugeot Landtrek. Prysgewys is daar egter net ‘n paar bakkies, meestal Chinese handelsname wat kan kompeteer in terme van gelykwaardige toerustingvlakke.

Ons toetsmodel word aangedryf  met ‘n  2,0-liter, 4-silinder turbodiesel AuCan  enjin  wat deur  Foton in samewerking met Cummins ontwikkel is- vandaar die rooi “C” in Aucan. Die enjin lewer maksimum  120 kW en 390 Nm se piekkragte. Krag word na die wiele gestuur deur ‘n ZF 8-spoed outomatiese ratkas wat uitstekend met die enjin kommunikeer vir ‘n uitstekende en soomlose kraglewering. Dit is juis hierdie ratkas se vermoë om die krag optimaal na die wiele te stuur, selfs tydens die uitdagende 4×4 en sleeptoetste wat bygedra het dat die Tunland G7 TLX as wenner gekroon was  in sy enjin klas by die 2024 SA Bakkie van die Jaar-kompetisie teen veel meer gerekende handelsname in SA.

Die Tunland G7 TLX het ook tydens hierdie kompetisie die beste brandstofverbruik (11,7L/100 km) gemeet tydens die sleeptoetse behaal met die 1500 kg Mobilodge gehak in stormagtige winterweer.

Volgens Foton is die enjin ontwikkel en getoets om 500 000km te hou as daar behoorlike onderhoud gedoen word, wat die gemiddelde bestuurder wat net 25 000 km per jaar aflê tot 20jaar sal neem.

Die Tunland bakkies kan by 40+ handelaars in SA gediens word en parte word beskikbaar gemaak en versprei deur Mandarin Parts Distributors.

Wat ontwerp betref vertoon die voorkoms van buite vaagweg soos ‘n Hilux van ‘n jaar of wat gelede, maar met die Tunland se dimensies van  5 34 mm lank, 1 940 mm breed en 1 870 mm hoog is die Chinees 15 mm langer, 40 mm wyer, en 55 mm hoër as die  Toyota Hilux Legend. Die Tunland se grondvryhoogte word aangegee as 210mm (danksy die 18” allooiwiele op ons toetsmodel) en die Chinees kan 3000 kg sleep. Die Tunland het egter uniek ontwerte baklyne, kurwes en hoeke wat die  voorkoms treffend maak.

Die nuwe Foton Tunland  is ‘n groot verbetering op die vorige model en dit sluit ALLE aspekte in soos enjin, ratkas, onderstel en vering asook ‘n uiters goed toegeruste en moderne kajuit waarvan die afwerking sekere veel duurder en meer gerekende luukse dubbelkajuitbakkie die loef afsteek. Veral die ontwerp en tegnologie binne die kajuit is indrukwekkend om die minste te sê.

Die leerbeklede kajuit van ons TLX model soos getoets tref binne met goeie uitleg en moderne gehalte afwerking. Die groot  12,3-duim infotainment skerm wat in een  paneel met die digitale instrumente huls  gehuisves word, is rerig treffend en is ‘n eerste in die dubbelkajuit bakkie segment.

Daar is te veel standaard gerief- en veiligheidsfunksies in die TLX om hier te lys, maar dit is werd om te noem dat ingesluit die elektriese sondak, is die Tunland G7 TLX met uitsondering van die GWM P500 HEV (2024 SABOTY wenner algeheel), die bes toegeruste luukse dubbelkajuit bakkie in Suid-Afrika tot hede getoets.

Opsomming

Die Foton Tunland G7 TLX is nie perfek of sonder foutjies nie. ‘n Sagter veersytelsel sal vir beter ritgehalte sorg op ongelyke grond- en teerpaaie sorg. Die enjin is grof en rukkerig op koue oggende wanneer jy aanskakel en wil wegtrek. Na 5min se geluier is die probleem weg.

Hier en daar is van die plastiekafwerking in die kajuit net effe te blink, maar daar is meer sagter oppervlaktes as by meeste luukse dubbelkajuitbakkies tans beskikbaar.

Algeheel egter bied die Foton Tunland G7 TLX dubbelkajuit 4×4 outomaties verrassende bougehalte,  toerustingvlakke en verrigting met uitsonderlike waarde vir geld teen R559 900 soos getoets.

Gaan ry hom gerus as jy my nie wil glo nie!

Prys en waarborge

Foton Tunland G7 Double Cab 4×4 TLX 8AT – R559 900

Ingesluit by die koopprys is ‘n a 5 jaar/onbeperkte kilometer waarborg, ‘n 5 jaar padbystanddiens en ‘n 3-jaar/50 000 km diensplan.

 

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0