Categories: WheelsPublished On: 24th September 2015

Ford se stylvolle nuwe B-MAX bring vars denke na kleinmotorsegment

By 4 min read
810 words

ford-b-max__open door

Deur Dirk Gallowitz

Ons het onlangs Ford se “Ford Go Further Africa”-konferensie bygewoon waar Ford ‘n paar opwindende nuwe modelle gewys het wat ons oor die volgende jaar in Suid-Afrika kan verwag. Dit is duidelik dat die Blou Ovaal binnekort ‘n gerekende en invloedryke motorvervaardiger in Afrika en veral Afrika suid van die Sahara gaan wees. Die nuwe Ranger-bakkie is binnekort hier om behoorlik in die bakkiearena stof op te skop. Dan is daar ook die indrukwekkende Everest wat binnekort bekendgestel word en veral die Toyota Fortuner se glans gaan laat taan.

Onder die jappie stoftrappers is daar die ‘über’-oulike Edge wat baie kopers onder die jong avontuurlustige ek-wil-raakgesien-word beeldbewustes behoort te trek indien dit hier bekendgestel gaan word. Ford se langverwagte Mustang is ook een van die dae hier in regterhandstuur-mondering, maar dit was veral die afslaankap wat asems laat snak het toe dit tydens die konferensie vertoon is.

My gunsteling is die blouwarm Focus RS wat in die eerste kwartaal van 2016 plaaslik gaan rubberbrand!

Ford het ook groot planne om ‘n uitgebreide handelsnetwerk in Afrika oor die volgende paar jaar te vestig. So jy kan dan maar met jou Fordjie in Afrika loop padsoek, daar behoort dan ‘n helpende hand nie te vêr van jou te wees nie.

Die volgende dag het ons die nuwe klein B-Max gaan ry. Gebou op Ford se B-segment platvorm wat ook gebruik word in die baie suksesvolle Fiesta en Ecosport, deel die B-Max soortgelyke aandrywing, binnegoed en toerusting, maar bring die oulike kroos-karweier egter heelwat nuutskeppings en nuwe denke na die kompakte MAV (Multi Activity Vehicle) segment.

Ford se witjasse het met die B-Max se unieke ontwerp, goeie brandstofverbruik en omvattende toerusting ‘n uiters aantreklike pakket geskep wat sy segment behoorlik gaan uitdaag.

Ford se nuutskeppende “Easy Access Door System” verras met agterste passasiers wat aan beide kante toegang kry via ’n oulike skuifdeur. Die B-Max se ontwerpers het die b-pilaar in die skuifdeur ingebou en bied ‘n 1,5 meter wye opening as die voordeur ook wyd oopgemaak is. Dit bied gemaklike toegang vir passasiers wat wil in- of uitklim, terwyl dit ook die inlaai van daardie effe-te-groot-vir-die-kar-ek’t-jou-gesê-ons-moet-‘n-bakkie-kry-pakkie toelaat.

Die sitplekke agter kan 60/40 platslaan terwyl die voorste passassierstoel ook platslaan om ‘n lekker lang plat laairuimte van 2,35m van voor tot agter te skep. Nogal gemaklik ook, met Ford se “een hand/een beweging” terwyl ma die woelwater kleuter op die heup kan vashou.

Ford se ingenieurs het egter seker gemaak dat veiligheid nie met hierdie skuifdeur ingedoen word tydens moontlike sy-tref botsings nie. Tot 58% van die bak en deurstruktuur is uit hoë en ultra-hoë sterkte staal vervaardig om sterkte en onbuigbaarheid te verseker, maar sonder om te veel gewig by die B-Max te laai.

Die kajuit binne is ruim met genoeg kop-, skouer- en beenruimte vir al die insittendes terwyl die leersitplekke gerieflik was tydens ons rit. Die groot vollengte panoramiese glasdak het bygedra tot die kajuit se omgewingsindruk van lig en ruimte.
ford-b-max voor

Die voor-en instrumentepaneel is herkenbaar Fiesta. Die Blue Max-kleur model met luukse Titanium-afwerking waarmee ons tydens die bekendstelling gery het, was gelaai met standaardtoerusting en het ondermeer ’n “Ford SYNC®” kommunikasiestelsel met stembeheer, ‘n 10cm kleurraakskerm, “Ford MyKey®” met sleutellose toegang, aansitterknop en Stop/Gaan-funksies, outomatiese klimaatbeheer asook ‘n klein stuurwiel met ‘n hele rits skakelaars vir foon-, radio-, klank- en spoedbeheer ingesluit. ‘n Tru-kamera, ‘n spesiale spieëltjie wat mammas toelaat om alles te sien wat agterin gebeur terwyl sy bestuur, LED dagryliggies, outomatiese hoofligaanskakeling asook reënsensors wat die ruitveërs outomaties aanskakel is ook deel van die pakket.
ford-b-max__paneel

Algeheel het die kajuit beïndruk met uitstekende vakmanskap en duursame afwerking.

Die B-Max word deur Ford se wêreldbekroonde 1,0-liter Ford EcoBoost petrolenjin aangedryf wat plaaslik aanvanklik net met met twee kragleweringsvlakke beskikbaar sal wees. Aandrywing is deur die voorwiele via ‘n heerlike 5-spoed handratkas.

Die intreevlak B-MAX Ambiente kom met 74kW terwyl die middelvlak Trend en topmodel Titanium-modelle beide 92kW se piekkrag lewer. Wringkrag op beide enjins piek by 170Nm. Ford sê brandstofverbruik in ‘n saamgestelde siklus is 4,9 l/100km met die CO2 uitlaatgasse wat amptelik as 114 g/km vir die 92kW modelle aangegee word.

Tydens die bekendstelling het ons die die B-Max oor ‘n kort roete bestuur wat meestal snelweë en stadsverkeer ingesluit het. Verbysteek was gemaklik met die 92kW Ecoboost-enjin wat nooit gespanne gevoel het nie. Die hantering en ritgehalte was ewe-eens goed met die stuurlading in die kol.

Algeheel was dit ‘n heel aangename ervaring. Die B-Max ding plaaslik met ondermeer die Opel Meriva, Toyota Avanza, Kia Soul en Fiat 500L mee.  

Pryse:
B-Max 1,0 EcoBoost Ambiente – R221 900
B-Max 1,0 EcoBoost Trend – R246 900
B-Max 1,0 EcoBoost Titanium – R271 900

Die B-MAX word verkoop met ‘n 4-jaar/120 000km omvattende waarborg, 4-jaar/60 000km diensplan, ‘n 3-jaar/onbeperkte km padbystanddiens en ‘n 5-jaar/onbeperkte km roeswaarborg. Diensintervalle is elke 20 000km.

 

 

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0