Ford Ranger Tremor: Die Avonturier in die Ranger-stal

2024 Ford Ranger Tremor Skuins vooraansig
Ford se nuwe generasie Ranger-reeks luukse 4×4 dubbelkajuitbakkies bied verskeie opsies aan voornemende kopers. Met die Ranger Raptor as die opwindende en sportiewe topmodel, is daar ook ondermeer die Wildtrak en Ltd modelle wat elk op sy gebied, aanloklik vir kopers is.
Tydens die gesaghebbende SA Bakkie van die Jaar-kompetisie van 2024 het die Tremor in die 126 – 160kW deelgeneem waar dit behoorlik en omvattend getoets is tydens sleep-, dinamiese ry en hantering en 4×4 toetse.
Die Tremor het veral beïndruk tydens veldrytoetse, maar dan is dit nie eintlik ‘n verrassing nie, want die Tremor is spesifiek gebou en toegerus vir die avontuurliefhebber wat klippe wil klim en die sandpaaie wil kafdraf.
Wat maak die Tremor anders?
Die idee agter die Tremor is om ‘n meer doelmatige dubbelkajuit 4×4 bakkie vir kopers te bied wat die buitelug, avontuur en veldry kan geniet sonder om te veel van die gemak en luuksheid in te boet wat noodsaaklik is vir diens in die stad en as ‘n elke dag familie voertuig.
Die Tremor bied ook Ford se omvattende veiligheids- en bestuurdershulpstelsels soos met die ander luukse Ranger 4×4 dubbelkajuitbakkies. Die kajuit is steeds gerieflik en goed uitgelê met dieselfde moderne toerusting soos te vinde in die ander luukse Ranger dubbelkajuitmodelle, veral die 360 grade kamerastelsel help baie om die groot Tremor in knap stedelike parkeerruimtes te navigeer.
Tog is die stuurwiel met duursame viniel oorgetrek terwyl die ratknop met leer beklee is. Die panele is egte grotendeels harde plastiek en die kajuitvloer is met ‘n sterk viniel uitgelê – gemaklik om die sand, modder en selfs water van veldry probleemvry te kan hanteer. Die sitplekke word meganies verstel en geskuif.
Die Tremor is, soos etlike ander van die Ranger 4×4 modelle, toegerus met Ford se jongste 2.0-liter bi-turbo 4 silinder dieselenjin wat 154kw (@ 3,750 rpm) en 500Nm (1,750–2,500rpm) se piekkragte na al vierwiele stuur. Ford se nou reeds bekende 10-gang outomatiese ratkas wat elke moontlike terrein kan aanpak met die hulp van Ford se heeltydse 4-trekstelsel en etlike ritmodusse vir verskillende terreine, word ook in die Tremor gebruik.
Waar die Tremor wel van sy ander boeties onderskei word is grootliks by voorkoms en toerusting.
Toegerus met treffende swart 17” allooi wiel en 265/70R17 veldry General Grabber AT3 all-terrain bande, spesiale veerstelsel met onder meer Bilstein skokbrekers, ‘n elektroniese ewenaarslot agter, beskermplate en die ratkas se “Trail Control” funksie, kan die Tremor omtrent enige terrein gemaklik baasraak.
Die groot wiele dra by tot die Tremor se 24 mm hoër grondvryhoogte, terwyl Ford se witjasse dit goedgedink het om die spoorwydte met 30 mm te verbreed asook die Tremor van meer prominente wielboog afwerkings en ‘n nuut ontwerpte veldry sierrooster te voorsien. Voeg daarby LED ligte voor en agter, ‘n pypraam rolstaaf en aluminium kanttrappe en die resultaat is ‘n doelgeboude en treffende voorkoms wat selfs die Hilux brigade se aandag trek.
Die bak agter is met harde rubber uitgevoer en vrag kan met handige hegpunte behoorlik vasgemaak word. Die Tremor is toegerus met ‘n sleepstang om ‘n maksimum sleepgewig van 3500 kg te hanteer.
Opsomming
Ons het die Ranger Tremor geniet. Grondpad gery asook 3 ton gesleep en met vrag agterop die Sandveld se dik sand sonder enige probleme gemaklik baasgeraak.
Ons brandstofverbruik was 11,4L/100 km algeheel gemiddeld tydens ons toetstyd wat aanvaarbaar is in ag genome dat ons ook soms met lae-strek en ewenaarslot moes ry.
Dit is ‘n indrukwekkende en begeerlike bakkie selfs teen die huidige prys van R1 008 000-00
‘n Opsionele diensplan tot 8 jaar/165 000 km is beskikbaar.