Dry Ice 4 Farming: Jou gids tot brandmerk met droë ys

DSC_0059
Cynthia Oliver van Dry Ice 4 Farming by NAMPO 2024.
Vir enige boer is die welstand van sy vee uiters belangrik. Dry Ice 4 Farming bied vernuwende, alternatiewe metodes aan boere om hulle diere te brandmerk met koue ysters.
Het jy al ooit gewonder hoe dit werk?
Cynthia Oliver van Dry Ice 4 Farming het stap-vir-stap by NAMPO gedemonstreer hoe om met droë ys koeie te merk. Die demonstrasies het elke dag ‘n hele skare gelok.
Cynthia vertel dat CryoBranding, of vriesbrandmerking in 1966 deur dr. R. Keith Farrell van die Washington Staatsuniversiteit ontwikkel is.
In plaas daarvan om brandysters te verhit soos dit in tradisionele metodes gebruik word, word die brandysters met droë ys gevries vir ‘n koue proses.
Die koue brandyster vernietig die selle onder die vel wat die hare se pigmentasie produseer en dit veroorsaak dat die hare teruggroei in ‘n helder wit kleur. Vriesbrand-handelsmerke bied ’n baie goeie en permanente identifikasie van vee, in teenstelling met byvoorbeeld oorplaatjies wat uitval of onleesbaar raak.

Die Dry Ice-span demonstreer die vriesbrandproses aan skougangers by NAMPO.
Daar is verskeie voordele verbonde aan vriesbrandmerke:
- Vriesbrandmerke is permanente identifikasiemerke vir beeste en perde.
- Die handelsmerk is netjies en maklik identifiseerbaar op ‘n afstand.
- Ideaal vir identifikasie van koeie in die melkstal wat benodig word vir doeltreffende data-opname.
- Die dier ervaar minder spanning en pyn.
- Vriesbrandmerking veroorsaak min of geen skade aan die vel nie.
Cynthia lê klem op die belangrikheid daarvan om vriesbranding op die regte manier te doen, sodat die proses ten volle kan werk vir akkurate resultate.
Hier is jou stap-vir-stap verduideliking van die proses:
Stap 1: Gooi Isopropyl-alkohol in ‘n houer met ‘n 2,5-kg blok droë ys, voeg brandysters by en laat dit afkoel vir 30 min.
Stap 2: Hou die bees stewig in ‘n nekklamp of gebruik ‘n immobiliseerder sodat jy gemaklik kan werk.
Stap 3: Borsel en sny of skeer die plek wat gebrandmerk gaan word. Maak dit skoon met alkohol.
Stap 4: Wend die koue yster op die plek aan en hou dit stil vir 45 sekondes; druk stewig vir die beste resultate. Wanneer die brandyster uit die mengsel gehaal word moet die droë ys soos ‘n vloeibare gel lyk. Dit is ’n goeie aanduiding dat die yster koud genoeg is.
Stap 5: Na die toediening sal die brandmerk ingeduik wees.
Stap 6: Plaas die brandyster terug in die droë ys mengsel, laat dit vir vyf minute afkoel voor die volgende toediening.
Die merk sal vyf minute na branding swel en sewe dae later sal dit skurf raak of ’n roof vorm. Veertig dae later sal nuwe wit hare sigbaar wees wat beteken dat die branding suksesvol was.

Die demonstrasie het telkens talle nuuskierige skougangers gelok.
Die Dry Ice span maak gereed vir NAMPO 2025. Maak seker jy gaan kuier by hulle standplaas, by die Nutri Feeds saal nommer 47, en by die beeskompleks nommer 3 om meer te leer oor hulle produkte en dienste of besoek hulle webwerf by www.dryice.co.za.