Drotsky – vroue wys hulle staal wanneer dit kom by sweiswerk

DSC_0036
Die vroue by Drotsky is nie bang vir harde werk nie.
Boere regoor Suid-Afrika vertrou al sedert 1962 op Drotsky se betroubare hamermeule, voermengers en pilmasjiene.
Die heel eerste hamermeul is deur Gert Drotsky gebou en oor die jare het die maatskappy op hoogte gebly met die nuutste tegnologie in ՚n veranderende sektor. Vandag word Drotsky se masjiene deur kommersiële boere, farmaseutiese maatskappye en sponsnywerhede gebruik.
Wat min mense weet is dat die masjiene waarop hulle vertrou deur vroue aanmekaar gesit word.
Izak Wolfaardt, Drotsky se meganiese ingenieur, vertel dat die eerste vroulike sweiser in 1985 by die maatskappy begin het. In daardie jare het die manlike sweisers gereeld gestaak. Een dag het hulle weer nie opgedaag nie, maar Juliet was soos gewoonlik buite besig om die mure skoon te maak. Mnr van der Ryst het toe vir sy mense gesê dat sy betroubaar en elke dag op haar pos is, hulle moet haar inneem en ՚n sweiser maak.

So het Juliet leer sweis en die weg gebaan vir vroue by die maatskappy. Sy het tot 2019 getrou vir Drotsky gewerk.
Op hierdie stadium werk daar drie ander vroulike sweisers by Drotsky en elkeen het ՚n storie.
Bongeka het by hulle aangesluit nadat ՚n bestuurslid van die maatskappy haar buite die plaaslike kruidenierswinkel raakgeloop het.
“Hy het gehou van haar houding teenoor hom en die manier waarop sy hom hanteer het,” vertel Izak.
Hy het haar toe gevra watter werk sy doen en Bongeka het in trane uitgebars. Sy het hom vertel dat sy pas haar werk by die winkel verloor het. Sonder om twee keer te dink is sy toe ՚n posisie as ՚n sweiser by Drotsky aangebied.

Die ander twee vroue wat die sweiswerk laat blits, Thandi en Thembi het by die plaas kom aanklop. Thandi het eers begin werk as ՚n plaashulp en het later ook as ՚n sweiser gekwalifiseer. Thembi het eers beeste opgepas voordat sy ook in die fabriek begin werk het.
Drotsky glo daarin om te belê in die toekoms van hulle onderneming en hulle personeel. Hulle is tans besig om nog 18 vroue as sweisers op te lei. Vir die maatskappy is dit belangrik om om te sien na hulle mense en hulle voorsien elke dag ՚n lekker middagete vir al hulle werknemers.
Izak sê dat daar nog ՚n ongeskrewe reël in die maatskappy is en dit is dat die bestuur verstaan dat die vroue in hulle onderneming ook families en kinders het en dat hulle probleme wat tuis opduik moet hanteer.
“Ons verstaan ՚n ma moet daar wees wanneer ՚n kind byvoorbeeld van ՚n klimraam afval. So ons deur is altyd oop wanneer hulle wil inkom om te sê hulle moet dringend huis toe gaan,” verduidelik Izak.

Nog vroue by Drotsky is die bekwame ontvangsdames, die vrou wat elke dag vir die hele maatskappy kosmaak, die vrou in beheer van die onderdelestoor en daar is ՚n vrou wat die plasmasnymasjien se baas is.
“Mense dink in ՚n fabriek moet die sweisers mans wees en hulle moet sterk wees, maar die vrouens is soveel beter, hulle domineer basies in die fabriek,” voeg Izak by.
“Ons vrouesweisers is baie meer lojaal teenoor die maatskappy. Die mans kom en gaan, maar die vroue wat by ons werk is al jare getroue Drotsky-werknemers.
“Vroue is netjieser, meer lojaal en meer betroubaar,” lag Izak.
Drotsky wil vir elke ystervrou ՚n gelukkige vrouedag toewens.