Categories: NewsPublished On: 19th October 2016

Droogte tref die avokadobedryf

By 2 min read
352 words
avokado

avokado

Suid-Afrikaanse avokadoboere moes baie teenspoed die afgelope seisoen hanteer, soos die droogte, hoë temperature en wydverspreide hael, en dit het sy tol geëis. As gevolg hiervan lyk vanjaar se avokado’s bietjie anders en was dit vir ‘n baie korter tydperk beskikbaar.

Derek Donkin, besturende direkteur van die Suid-Afrikaanse Avokadokwekersvereniging (SAAGA), sê in plaas daarvan dat die huidige avokadoseisoen tot in November duur soos wat tradisioneel die geval is, staan dit reeds einde se kant toe.

“Hierdie ongunstige weerstoestande het ‘n ernstige invloed op die 2016-avokadoseisoen. Ons avokado’s was kleiner en ‘n bietjie meer gevlek as normaal. Daarbenewens was daar geen buite-seisoen oes op die bome vanjaar nie,” verduidelik Derek.

“Daar sal wel baie beperkte hoeveelhede avokado’s by ‘n paar laat-produserende streke in Suid-Afrika oor die volgende paar weke beskikbaar wees.”

Hy sê ook avokado’ s sal vroeër ingevoer moet word tot die 2017-avokadoseisoen  aan die einde van Februarie of begin Maart volgende jaar begin. Veral omdat daar ‘n groot vraag daarna is.

“Verskaffers sal vanaf November 2016 avokado’s begin invoer. As gevolg van die hoë koste verbonde aan die koop en verskeping van die avokado’s van Spanje en Israel, sal daar ‘n toename in die prys van avokado’s op ons rakke in die somer wees, ” sê Derek.

Baie boere het reeds berig dat hulle avokadobome vir die 2017 seisoen sterk blom, maar almal stem saam dat die sukses van die seisoen sal afhang van hoeveel reën val.

“Daar is potensiaal vir ‘n goeie oes in 2017, maar dit is afhanklik van voldoende reënval in Oktober en November. Daar is ‘n kans dat ons weer kleiner vrugte volgende jaar sal sien, met ‘n paar bevlek, maar soos met vanjaar se avokado’s, sal hierdie geen invloed op die gehalte van die vrugte binne die skil hê nie. Verbruikers kan steeds uitsien na dieselfde hoë gehalte smaak en tekstuur,” sê hy.

Met ‘n verhoogde vraag van Suid-Afrikaanse verbruikers vir avokado, verhoog boere hulle aanplantings van avokadobome. “So die aanbod groei, maar nou het ons reën nodig om ‘n goeie oes te verseker,” voeg Derek by.

Bron: Protactic Strategic Communications

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0