Categories: NewsPublished On: 22nd December 2014

Dragtige varke kry meer Vryheid

By 3 min read
588 words
Nuwe regulasies vir sogbehuising is reeds in Brittanje en EU-lande van toepassing, maar Suid-Afrika se varkboere het darem nog ’n tydjie grasie voordat hulle ook aan die nuwe regulasies moet voldoen.
 
In Brittanje en die EU moes varkboere tussen 2005 en einde 2013 hulle dragtigheidskratte met groepsbehuising vervang, maar in Suid-Afrika het die oorskakelingsfase in Januarie 2013 begin en 1 Januarie 2020 is die afsnydatum.
’n Dragtigheidskrat is ’n hok van 0,65 meter by 2,4 meter waarin ’n sog vanaf inseminasie tot jong, wat 16 weke duur, aangehou word en groepsbehuising is waar die dragtige sôe almal in een groot hok aangehou word.
 
Die rede vir die dragtigheidskratte was dat daar vroeër geglo is dat dit die beste manier is om dominansie en bakleiery tussen sôe, wat tot misgeboortes en wanvoeding kan lei, uit te skakel. “Wat ’n mens moet verstaan, is dat die indiwiduele voeding wat jy in ’n indiwiduele krat aan ’n sog kan bied, die maklikste manier is om haar in topkondisie te kry om alles wat sy tydens die laktasietydperk verloor het, terug te kry. As al die sôe in dieselfde hok is, sal die dominante sog gewoonlik die ander sôe se rantsoene ook vreet en oorvet word terwyl die ander swaarkry. Vet sôe jong nie baie maklik nie en die jong varkies kan ook makliker doodgebore word. Aan die ander kant kan ’n sog wat gedomineer word, maklik haar dragtigheid verloor,” sê dr Peter Evans, ’n private veearts en direkteur van SAPPO (Die Suid-Afrikaanse Varkprodusenteorganisasie).
 
“Ons as SAPPO het in 2012 ons boere ingelig het dat daar ’n wêreldwye neiging is om na groepsbehuising te skuif en dat ons teen 2020 heeltemal van dragtigheidskratte ontslae moet wees. Daar is egter sekere van die kettingwinkels, soos Woolworth en Pick & Pay, wat druk op ons uitoefen om die oorskakeling vinniger af te handel en hulle praat van 2017 as die afsnydatum. Ander kettingwinkels wil weer hê dat die sôe nou reeds vir ’n korter tydperk as agt weke in die kratte moet staan,” sê hy.
 
Die nuwe regulasies beveel aan dat vir ses of minder sôe in ’n hok ’n ruimte van 2,5 m² per dier begroot moet word hê en dat groot groepe soos 40 diere elk 2,25m² ruimte moet hê. Die oorskakeling na groepsbehuising kos die boer tussen R1 000 en R3 000 per vark, afhangende van ’n boer se bestaande infrastruktuur.
 
Die eerste boere wat na groepsbehuising oorgeskakel het, het aanvanklik gesukkel en hulle werpsels en jongpersentasies het gekrimp, maar soos ’n vernuftige Suid-Afrikaanse boer maar is, is daar met nuwer en beter bestuurstegnieke vorendag gekom sodat die resultate vandag dieselfde is as in die dae met kratte.
 
“Boere weet nou dat dit belangrik is dat die diere wat saam gehuisves word, so na as moontlik aan ewe oud moet wees om oorheersing te beperk. ’n Boer wat meer tyd tussen sy varke bestee, kan ook dadelik sien watter sôe siekerig of ondervoed lyk en elektroniese voedingstelsels, waar ’n skyfie in die vark se oor met die stelsel kommunikeer, word deurlopend verbeter,” sê dr Evans.
 
Tydens die soogtydperk, wat tussen drie en vier weke kan duur, moet sôe steeds in afsonderlike kraamhokke bly waar die klein varkies afgeskerm word en net by die spene kan bykom. Toe daar destyds toetse gedoen is om te kyk of daar met dié behuisingstelsel weggedoen kan word, is bevind dat ’n sog tot 40% van haar kleintjies doodlê as sy tussen hulle kan rondbeweeg. Vandag is kettingwinkels regoor die wêreld eens dat kraamhokke nog lank met ons gaan wees.
0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0