Dieresiektes: Besmetlike misgeboorte (BM ook bekend as brusellose)

BM 3
Besmetlike misgeboorte bly ’n groot probleem in die land en volgens die Ruvasa-verslag kom dit tans in Mpumalanga, Noordwes, Vrystaat, Gauteng, Oos-Kaap en Noord-Kaap voor. Ruvasa is die Herkouer-veterinêre Vereniging van Suid-Afrika wat bestaan uit veeartse wat alle dieresiektes landwyd aanmeld.
Volgens dr Faffa Malan, bestuurder van Ruvasa, word ’n hele beeskudde as besmet beskou selfs al toets net een bees positief vir die siekte. So ’n besmette kudde moet deur ’n veearts van kant gemaak word.
Faffa sê as elke boer verantwoordelikheid daarvoor neem om sy kudde in te ent soos wat die wet vereis, sal die omvang van die probleem afneem. Hy meen boere wil nie weet of hulle kudde besmet is nie eerder as om kwarantyn en die koste in die oë te kyk.

Besmetlike misgeboorte is ’n beheerde dieresiekte volgens die Dieresiektewet, 1984 (Wet 35 van 1984) en diere moet daarteen ingeënt word. (Bron: Pixabay)
Wet
Besmetlike misgeboorte is ’n beheerde dieresiekte volgens die Dieresiektewet, 1984 (Wet 35 van 1984). Dit is ’n kroniese siekte waarvoor daar geen behandeling in beeste is nie en dit is ’n kuddesiekte– as een dier besmet is, word die hele kudde as potensieel besmet beskou.
Dit beteken dat dit die eienaar van die diere se verantwoordelikheid is om te sorg dat sy diere gesond is en hulle kan op grond van dié wet en die Verbruikersbeskermingswet, 2008 (Wet 68 van 2008) vervolg word indien hulle nalaat om die verspreiding van besmetlike misgeboorte te beheer.
Die siekte is van groot ekonomiese belang omdat dit soos blits onder ’n kudde versprei, ’n sogenaamde ‘storm’ van aborsies kan veroorsaak wat melkproduksie laat afneem en tot ’n langer tussenkalfperiode lei. Dit is duur om te beheer en dit is boonop oordraagbaar na mense.
Streng beheer deur behoorlike bio-sekerheidsmaatreëls is dus noodsaaklik om verspreiding te voorkom.
- Besmetlike misgeboorte kan na mense oorgedra word wanneer ongepasteuriseerde melk of kaas van besmette koeie ingeneem word. (Bron: Pixabay)
Wat is besmetlike misgeboorte?
Besmetlike misgeboorte (BM) of brusellose is ’n hoogs aansteeklike siekte wat veral onder dragtige koeie voorkom en deur die bakterie Brucella abortus veroorsaak word.
Dit lei tot ’n ontstekingsreaksie in die plasenta wat lei tot ’n aborsie en behoue nageboortes wat lei tot ’n verlies aan potensiële kalwers.
Die behoue nageboortes lei tot baarmoederontsteking, wat weer lei tot moeilike herbevrugting, asook ontsteking van die testes en ander geslagskliere in bulle en gevolglike verlaagde vrugbaarheid.
Besmette verse en koeie kan aborteer, hulle melk- en aanwas produksie kan daal weens verlengde tussenkalfperiodes, nageboortes wat vassit en baarmoederontsteking.

Besmetlike misgeboorte is ’n kroniese siekte waarvoor geen behandeling in beeste bestaan nie. (Bron: Pixabay
Oordraging
Die belangrikste metode van oordraging is wanneer besmette koeie normaalweg kalf of aborteer, aangesien hierdie prosesse miljoene bakterieë in die omgewing vrylaat, wat maklik ander diere kan besmet.
’n Besmette koei aborteer gewoonlik net een keer, maar die besmetting bly sluimer en wanneer die koei ’n verskalf het, is daar ’n 15 tot 25% moontlikheid dat sy ook deur die besmette vrugvloeistof of biesmelk besmet kan word.
Koeie en verse wat besmet is lyk gewoonlik gesond, maar indien hulle in die kudde bly kan die besmetting versprei en tot voortgesette verliese lei.
Verse wat gebore is uit besmette koeie toets dikwels negatief voordat hulle kalf en toets eers positief na hulle eerste kalwers.
Akute uitbrekings van die siekte volg nadat vatbare kuddes aan besmetlike misgeboorte blootgestel is en 30% tot 40% van die ongeënte vroulike diere tussen die vyfde maand en einde van dragtigheid aborteer.
Wanneer die siekte by die kudde gevestig raak, neem dit ’n kroniese vorm aan, minder aborsies kom voor en die simptoom kom slegs by aanvullingsdiere voor.

Die belangrikste metode van oordraging is wanneer besmette koeie normaalweg kalf of aborteer, want hierdie prosesse laat miljoene bakterieë in die omgewing vry wat ander diere kan besmet. (Bron: Pixabay)
Verspreiding
Die bakterie is sensitief vir pasteurisasie-temperature en die oorlewing daarvan buite die gasheer is afhanklik van omgewingstoestande. Dit is sensitief vir suur en alkaliese omgewings, maar kan lank in ongepasteuriseerde kaas oorleef.
Die bakterie kan in gunstige toestande tot drie maande op weiding oorleef en tot agt maande in ’n mistenk op ’n melkplaas.
Die bakterie kan ook deur die afloopwater van besmette naburige plase versprei word.
Roofdiere soos rondloperhonde, jakkalse en selfs kraaie kan besmette geaborteerde fetusse en nageboortes na ander plase aandra. Vlieë wat op besmette materiaal voed kan ook die bakterie versprei wanneer dit om diere se slymvliese gaan sit.

Die bakterie wat besmetlike misgeboorte veroorsaak kan ook deur die afloopwater van besmette naburige plase versprei word. (Bron: Pixabay)
Immuniteit en inenting
Deur biesmelk met geboorte in te neem kan diere ‘n passiewe immuniteit teen besmetlike misgeboorte opbou wat besmetting deur melkinname tot op vier tot ses maande kan beperk.
Inenting help om die kudde teen die siekte te beskerm, verminder die verspreiding en die aantal aborsies.
Inenting of natuurlike besmetting kan tot verkreë immuniteit lei wat ook as relatiewe immuniteit bekend staan, maar wat nie volledige immuniteit veroorsaak nie. Opvolg inentings is noodsaaklik om die immuniteit te verhoog.

Besmetlike misgeboorte kan sluimerend in ’n kudde wees en so voortdurend die siekte oordra. Daarom moet vee ingeënt en vir die siekte getoets word. (Bron: Pixabay)
Entstof
Dit is verpligtend deur die Wet om alle verse eenmalig tussen ouderdom vier en agt maande teen besmetlike misgeboorte te ent, met S19 of met RB51 (Tabel 2 van die Dieresiekteregulasies).
S19 entstof mag slegs vir verskalwers van vier tot agt maande oud gebruik word, want indien dit op ’n latere ouderdom gebruik word, kan die dier voortdurend positief toets wat die ware siektestatus kan verwar.
RB51 entstof mag in nie-dragtige koeie van enige ouderdom gebruik word want dit sal nie positiewe toetsresultate lewer nie.
Bulle moet nie met S19 of RB51 ingeënt word nie aangesien hulle steriel mag raak.

Vleis van diere wat met besmetlike misgeboorte besmet is en wat by goedgekeurde abattoirs geslag word, is veilig vir menslike gebruik. (Bron: Pixabay)
Soönose
Besmetlike misgeboorte is ’n dierverwekte menssiekte (soönose), wat beteken dat dit na mense oorgedra kan word – ’n besmetting raak dus die gesondheid van almal op die plaas.
Mense word besmet deur rou, ongepasteuriseerde melk van besmette koeie te drink. Dit word ook oorgedra deur direkte kontak met besmette lewende diere, hulle uit- en afskeidings en hulle asemhaling, wanneer ’n besmette koei geslag word, of wanneer besmette kalwingsmateriaal en geaborteerde fetusse hanteer word.
Besmetlike misgeboorte onder mense staan bekend as maltakoors. Die simptome sluit hoë koors, erge sweet, hoofpyn, massaverlies, geswelde gewrigte en selfs depressie in. Dit kan ook lei tot ernstiger toestande soos artritis, hartbinnevliesontsteking (endokarditis) en harsingvliesontsteking (meningitis). Indien dit nie behandel word nie, kan dit lei tot kroniesemoegheidsindroom.
Vleis van besmette diere wat by goedgekeurde abattoirs geslag word is veilig vir menslike gebruik.
Biosekerheid
Wanneer jy beeste inkoop moet jy aandring op inentingsrekords en uitslae van kuddetoetse wat onlangs op die plaas van oorsprong gedoen is. Die verkoper moet kan bewys dat die beeste ingeënt is, dat die kudde van oorsprong negatief vir brusellose getoets het en dat die toetse oor ’n tydperk negatief getoets het.
Hou alle diere wat nuut aangekoop is afsonderlik aan om te toets vir verskeie siektes, om inentings te doen en om teen interne en eksterne parasiete te behandel.
Hou verse wat nuut aangekoop is afsonderlik van die res van die kudde tot nadat hulle gekalf het en vir besmetlike misgeboorte getoets kan word.

Verse wat nuut aangekoop is moet afsonderlik van die res van die kudde gehou word tot na hulle gekalf het en vir besmetlike misgeboorte getoets kan word. (Bron: Pixabay)
Kontak die naaste staatsveearts of jou private veearts vir meer besonderhede.
Bronverwysings
Brusellosebestuurskomitee van die Nasionale Dieregesondheidsforum. (2022) https://www.boerhier.co.za/wat-jy-moet-weet-van-beesbrusellose/
Du Toit, H., Kruger-Rall, N. (2005) Die bestryding van brusellose by beeste. Noordwes Nuus, Jaargang 37, Januarie/Februarie 2005. NWK Bpk. https://www.landbou.com/landbou/Bedrywe/Diere/die-bestryding-van-bru-cellose-by-beeste-20170914
Van Burick, N. (2024) Ruvasa: Bek-en-klou onder die knie, maar…Landbou.com https://www.landbou.com/landbou/bedrywe/diere/ruvasa-bek-en-klou-onder-die-knie-maar-20240126


Ek het n vraag oor BM- n Koei wat BM het sal sy kan suksesvol kalf of aborteer koeie altyd as hulle BM het?
Dankie
Hi, dankie vir jou navraag. Hier is die antwoord: Infection with Brucella abortus can cause abortion, birth of stillborn or weak calves, retained placenta, and reduced milk production. Infected cattle usually abort only once but can still shed the organism in amniotic fluid and milk at subsequent calvings.
Bron: https://www.merckvetmanual.com/reproductive-system/brucellosis-in-large-animals/brucellosis-in-cattle
Groete ProAgri-redaksie