Dieregesondheid 1: Miltsiekte – ent nóú

miltsiekte
’n Uiters gevaarlike siekte wat beeste, skape en bokke, maar ook perde en varke en selfs sommige wildsoorte bedreig, is miltsiekte. Die mens is ook vatbaar vir miltsiekte, maar darem nie so maklik soos diere nie.
As ’n boer die wyse stap wil doen om hom en sy diere teen hierdie gevreesde siekte te beskerm, is die herfs die tyd om diere daarteen in te ent. Miltsiekte kan vinnig toeslaan en die eerste teken daarvan is gewoonlik dat een of meer beeste vrek.
Miltsiekte word deur die bakterium, Bacillus anthracis, veroorsaak, vandaar die Engelse naam van die siekte, anthrax. Bacillus anthracis is ’n spoorvormende organisme wat lang tye in die grond kan oorleef. Dit stel spore vry wanneer die grasbedekking karig word, veral tydens droogtes of wanneer water of landboubedrywighede die grond versteur. Wanneer diere die spore inneem deur dit te eet of in te asem, vermeerder die miltsiekte-bakterieë en beland in die bloedstroom. Daar produseer dit ’n kragtige gifstof wat die dier baie gou laat vrek. Bytende insekte kan ook die kiem van dier na dier oordra.
Tydens die inkubasietyd van die kiem het die aangetaste dier ’n hoë koors, maar daar is selde ander simptome waarneembaar. Kort voordat die dier doodgaan, kan daar stuiptrekkings, bewerasie, hoë koors en rooi slymvliese wees. Nadat die dier dood is, is bloed wat uit die neus of anus uit sypel ’n tipiese kenmerk van miltsiekte, maar dit mag ook by ander siektes voorkom. As jy miltsiekte vermoed, skakel dadelik jou plaaslike veearts. Die veearts sal met behulp van ’n bloedsmeer ’n definitiewe diagnose kan maak.
Moenie oopsny nie!
As jy vermoed dat ’n dier aan miltsiekte gevrek het, moet die karkas nie oopgesny word nie, want dit sal die hele omgewing met spore besmet. Dit kan ook die persoon wat die karkas oopsny besmet. Miltsiekte is ’n aanmeldbare siekte. Dit beteken dat die wet vereis dat alle bevestigde gevalle van miltsiekte onmiddellik by die Staatsveearts aangemeld moet word. Die besmette plaas sal dan onder kwarantyn geplaas word totdat die uitbraak verby is.
Dit is interessant dat die miltsiekteentstof wat wêreldwyd gebruik word deur ’n Suid-Afrikaner, Max Sterne, ontwikkel is. Die Sterne-stam entstof bied uitstekende immuniteit en moet jaarliks vanaf speenouderdom aan beeste, skape en bokke toegedien word.
Met dank en erkenning aan Afrivet Business Management vir toestemming om vrylik uit Siektes en Parasiete van Beeste, Skape en Bokke in Suid-Afrika, ISBN 0-620-35736-3, aan te haal. Bestel hierdie nuttige boek by 012-817-9060.
