Categories: NuusPublished On: 14th April 2020

Diefstal van landbouprodukte neem kommerwekkend toe

By 2 min read
358 words

farm-4229825

Dit is baie duidelik dat misdadigers hulle nie steur aan die inperkingsregulasies nie, en boere is toenemend die slagoffer daarvan.

“Landwyd, maar ook in die Limpopo provinsie, is daar ‘n oënskynlike toename in diefstal van landbouprodukte, soos oes- en veediefstal, terwyl kabeldiefstal ook in sekere areas aan die toeneem is en boere se produksie frustreer,” sê TLU SA se Noordstreek voorsitter, mnr. Henk van de Graaf.

“Wat ons verder bekommer is die feit dat plaaswagte en GPF’s uitdruklik deur die minister van polisie verbied is om met hulle normale patrollies en misdaadvoorkoming voort te gaan. Waar die polisie tans fokus op ander sake, beteken dit dat die landelike gebiede nou onbeveilig is, en misdadigers weet dit en maak misbruik van die situasie.

“Ons is ook bekommerd dat die polisie se prioriteite in sommige gevalle nie reg is nie, deurdat hulle eerder mense wat ‘n rook- of drinkdingetjie wil aanskaf, selfs onredelik hardhandig vervolg, terwyl boewe wat voedselsekerheid bedreig, geen vorm van polisiëring vrees nie,” sê mnr. Van de Graaf.

“Boere word wel aanbeveel om hulle waaksaamheid op hulle eie plase te verhoog, maar die krag in plaaswagte lê juis in die onderlinge samewerking, doeltreffende kommunikasie, die dek van groter gebiede as net die eie plaas, en deurdat openbare paaie, wat dikwels die toegangs- en wegkomroetes van misdadigers is, ook gepatrolleer word. Nou is hierdie gebiede verlate, wat die landelike boewe uiteraard verwelkom.

“Na die geweldige droogte, die landboubedryf se verlamming as gevolg van die bek- en klouseer, kan boere nie nou nog onbeheerste diefstal van hulle produkte bekostig as gevolg van irrasionele besluite van die minister van polisie in die verband nie. Boere begin hulle plase nou as rampgebiede beskou, en gaan hulle eie noodmaatreëls instel teen enige verdagte betreding of beweging op die plaas,” waarsku mnr. Van de Graaf.

“Dit gaan tot niemand se voordeel wees nie, en ons doen ‘n beroep op die provinsiale regering om die saak dringend met die nasionale regering op te neem ten einde ‘n spoedige hersiening van bestaande opdragte in die verband te kry. Ons kan nie nog drie weke so aangaan nie.”

Bron: TLU SA Noord

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0