Die wêreld se jongste boerdery- en jongste landboutegnologienuus

47._20220429-bodegas-faustino-with-a-vineyard-robot-sd
Robot-wingerdtrekker kry ՚n sake-inspuiting
Same Deutz-Fahr het ՚n meerderheidsaandeel in die nuwe wingerdrobotikasaak, VitiBot, bekom. Dié Franse maatskappy in Reims, in die hart van die Champagne-streek, vervaardig ՚n 100% elektriese en outonome wydsbeenwingerdtrekker genaamd die Bakus.
SDF beskryf die trekker as ՚n vernuwingsbevorderaar. Die stap sal VitiBot in staat stel om sy ontwikkelings in wingerdtoerusting te versnel, en die twee maatskappye beplan om ՚n nuwe reeks presisieboerderytoerusting te ontwikkel vir ՚n mark wat na verwagting in die toekoms sal groei. SDF besit reeds die druiwe-oesmasjien- en spuitvervaardiger, Grégoire. VitiBot sal soos hierdie Franse filiaal werk deurdat dit onafhanklik binne die SDF-groep sal bly. SDF se grootbaas, Lodovico Bussolati, sê na deeglike navorsing oor beskikbare tegnologie, het die maatskappy besef VitiBot is die beste oplossing vir wingerde.
“Dit stel ons in staat om ons trekkeraanbod aan te vul met selfbestuurgeen-uitlaatgasvoertuie,” sê hy. Die Franse wynboer, Dominique Bache, en sy seun, Cedric, ՚n robotikaingenieur, het VitiBot in 2016 gestig.
Dit het hulle vyf jaar geneem om die Bakus-onderstel van nagenoeg 2,4 ton te ontwikkel. Dit is in twee modelle beskikbaar: Die S-model wat wydsbeen oor wingerdrye van 1,75 m hoog en 60 cm wyd loop; en die L-weergawe vir rye van 2,20 meter hoog en 80 cm wyd. Die Bakus kan met ՚n reeks elektriese en nie-elektriese gereedskap toegerus word, insluitende snyers, spuite en meganiese skoffels. Meer as vyftig van hierdie masjiene werk reeds in wingerde regoor die wêreld. (Bron: SDF)
Aftstand beheerde Case IH Maxxum

Die Nederlandse Case IH-handelaar, Van der Werf Mechanisatie, het ՚n beheerstelsel ontwerp wat dit moontlik maak om kool en blomkool te oes sonder ՚n operateur op die trekker. Meganiese oesmasjiene wen veld, maar die meeste Nederlandse boere sny steeds blomkool met die hand en plaas dit op vervoerbande en ՚n pakplatform agter die trekker. Die trekker loop in die stadigste kruiprat teen net 130 meter per uur. Die meeste boere het ՚n lang kabel met ՚n afstandbeheer om die trekker van agter af te beheer. Van der Werf het ՚n stap verder gegaan en die kabel uitgesmyt vir ՚n draadlose afstandbeheereenheid.
By die Bjo Zaden-masjinerieskou te Warmhuizen noord van Amsterdam is hierdie stelsel al ՚n paar jaar met ՚n Case IH Maxxum 115 gedemonstreer. Meer as honderd boere, hoofsaaklik blomkoolkwekers, het die stelsel al aangeskaf.
“Dit is vir ons ՚n normale werk,” sê Sander Klaabbers van Van der Werf. Die stelsel word maklik met drie stappe aan die gang gesit: Skakel die trekkerenjin aan, koppel die kruiperrat en skakel die afstandbeheereenheid aan. Vir hierdie soort werk word die enjinspoed altyd op luier gestel. Die afstandbeheerder kan geprogammeer word om die trekker vorentoe te laat loop of terug te stoot, maar die meeste boere kies die ses funksies van stop, vorentoe, ratte op of af verander, en stuur (links of regs).
By die wenakker word die trekker altyd deur ՚n operateur omgedraai – die afstandbeheerder word net gebruik wanneer die trekker deur die land beweeg. DieMaxxum is die gewildste trekker vir die omskakeling, maar die handelaar het ook New Holland- en Steyrtrekkers daarmee toegerus. Die Nederlandse handelaar reken dit is moeilik om traplose aandrywing na afstandbeheer oor te skakel. Die maklikste is meganiese kragoordrag. Die omskakeling kos sowat €4 000, afhangende van die trekker en die verlangde funksies. (Bron: profi)
Fendt kom terug met die nuwe, kragtige Katana

Fendt het teruggekeer tot die mark vir selfaangedrewe kuilvoerkerwers in die klas van 588 Kw met die Katana 850. Die nuwe model kan nou bestel word vir Europa se 2023-seisoen. Hoofkenmerke van die nuwe werktuig sluit in die herontwerpte CropFlow 2.0-stelsel wat toevoer vermeerder en kerfgehalte verbeter. Die kerfsilinder van 720 mm en die swaar vliegwiel is glo die grootste in die mark, en verseker gladde werking en meer operateursgerief.
Kerfsilinders met 20, 28 of 40 lemme is beskikbaar vir kerflengtes van 2,6 tot 41,4 mm. Die Katana 850 kan met die Kemper 490 Plus-twaalfrykerwerkop toegerus word om die volle 623 kW van die magtige Liebherr-sessilinderenjin van 18 liter te benut. Die Liebherr voldoen aan Vlak V vir uitlaatgasse met silikoonbeheerde rektifikator, maar het geen dieseldeeltjiefilter of uitlaatgashersikulasie nie. Wanneer die volle enjinkrag nie nodig is nie, kan dit in ekomodus gebruik word, wat die spoed van die kerfsilinder volhou, maar teen laer enjinomwentelinge.
Metaal- en klipopspoorders aan die eerste van die voerder se ses voorkompressierollers verhoed skade aan die kerfsilinder. ՚n Sensor agter die voerder meet die volume vir opbrengsmonitering en dokumentasie. Drie verskillende kraakrollers is beskikbaar. Die standaard R-kraker met ՚n saagtandprofiel is geskik vir kerflengtes van tot 20 mm. Die opsionele RS-kraker met ՚n V-spiraalgroef is vir langer kerflengtes ontwikkel. Die spoedverskil van 30 of, as dit verkies word, 40% verseker deeglike verwerking van die materiaal.
Die hersiene oorlaaigeut laai nou 6,2 meter hoog af. Die FillControl oorlaaihulp-opsie beheer die geutflap outomaties wanneer die oorlaaigeut draai om te verseker dat sleepwaens meer gelymatig gevul word. Daar is ՚n kamera langs die leweringsflap. Ander eienskappe is ՚n ten volle geïntegreerde kuilvoerbymiddelstelsel met ՚n tenk van 215 ℓ, alwielaandrywing met BalancedGrip, en ՚n intervlak vir ՚n naas-infrarooisensor waarmee die droëmateriaalinhoud gemeet word. ՚n ISObus-intervlak maak die gebruik van verskillende sensors moontlik. (Bron: AGCO)
Liggewigploeg rond die Juwel-reeks af

In aanvulling tot die LEMKEN Juwel 7-, 8- en 10-omkeerploeë, vervang die nuwe Juwel 6 die lankvertroude EurOpal- en VariOpal 5- en 6-reeks. Dié nuwe, laetrekkragreeks vir trekkers van 51 tot 95 kW sal vroeg volgende jaar beskikbaar wees.
Die Juwel 6 het ՚n kasseksieraam van 110 mm en ՚n raamgrondvryhoogte van 80 cm. Die ploeg is beskikbaar in weergawes van drie tot vyf vore. Die M-weergawe bied vier meganiesverstelbare werkwydtes per romp, en die 6MV bied oneindig-wisselende werkwydte wat hidroulies verstel word. (Hidrouliese raamswaai is opsioneel.) LEMKEN sê as die ploeg met die iQblue-elektronikastel gekombineer word, kan dit maklik in ՚n slim ploeg met ISObus-beheer omskep word. Elke LEMKEN-driepuntgemonteerde ploeg is toegerus met die nuwe slingerwiel. Die hoogte van die wiel word sonder gereedskap verstel met ՚n reeks gate en penne. Vir die beskerming van materiaal en groter werksgerief het die dieptewiel ook hidrouliese vering.
՚n Eenvoudige stel is beskikbaar om na Uni-wiel oor te skakel vir padvervoer. Standaardtoerusting aan die Juwel 6 sluit die welbewese Dural-romp (DuraMaxx opsioneel) in. Meganiese geenstopoorbelastingbeskerming word aanbeveel vir klipperige grond en, soos met al LEMKEN se driepuntgemonteerde omswaaiploeë, het die Juwel 6 die Optiquick-verstelstel vir werk sonder om kant toe te trek. (Bron: www.world-agritech.com)