Die sleutel tot sukses: Valley bly die spilpunt aan die spits

valley JAN 2017
“Produksiekoste hier in ons wêreld is hoër as in die westelike streke van die land, daarom moet ons intensief boer,” vertel Carl de Jager van die plaas, Trekboer, wat aan die seekant van Van Reenenspas geleë is waar die pad begin afdaal Ladysmith toe.
Die westewinde wat van die see af teen die berg vaswaai help gewoonlik met goeie reënval in die gebied, maar soos die res van die land was daar ook ’n paar droë jare en Carl vertel dat die reënvalpatroon oor die algemeen verander het. “Dit reën net nie meer soos in die ou dae nie.” Met planttyd in November was die grond droog en dit sou sekerlik nie moontlik gewees het om te plant sonder behoorlike besproeiing nie. Op Trekboer word dié behoorlike besproeiing deur Valley-spilpunte verskaf en met die 15 spilpunte wat oral op die plaas geanker is, lyk dit behoorlik of Valley laer getrek het teen droogte.
Vir die afgelope tien jaar word daar al op die plaas ’n stelsel van geenbewerking beoefen met wisselbou tussen mielies, soja en voer of weiding vir die Braford-kudde. Carl sê hulle het met geenbewerking begin om erosie te bekamp, want vroeër jare moes hulle elke keer na ’n stortbui reën kyk hoe die kosbare bogrond uit die lande gespoel word. Nou is die biologiese inhoud van die grond al goed opgebou en die erdwurms is aktief. Selfs al bewei die beeste die lande, sak die reën- en besproeiingswater in die grond in tot waar die gewasse se wortels dit ten beste kan benut.
Met ’n stand van 100 000 mielie- en 450 000 sojaboonplante per hektaar, is die waterbehoefte aansienlik. Carl sê hy gebruik nie afstandbeheer vir enige bestuurstake op die plaas soos grondvogmeting of besproeiingskedulering nie, want hy glo daaraan om self te gaan kyk hoe gaan dit met sy gewasse.
“Ek gaan kyk self hoe nat is die grond en hoe lyk my plante, want dan kan ’n mens enige moontlike probleem betyds raaksien en sommer gou in die kiem smoor,” sê hy. Carl het damme op die plaas wat met reënwater, fonteine en uit ’n spruit gevoed word, en die spilpunte word afsonderlik aangeskakel vanuit die indrukwekkende pompstasie onder die groot dam se wal. Die spilpunte loop in die aand om verdamping te voorkom en laer kragtariewe te benut.
Waarom Valley?
“Ons het tien jaar gelede begin met twee Valleys en ons het geen rede om nie aan te hou met Valleys nie, want die eerste twee loop nou nog sonder sukkel,” sê Carl. Hy sê daar moes een ratkas vervang word, maar verder was daar nog geen ander werk as normale instandhouding nodig nie.
Instandhouding beteken dat elke masjien een keer per jaar oopgemaak, deurgegaan en gesmeer word. Die bande word twee keer per jaar nagegaan en Carl sê hy maak seker dat al die bande se drukking dieselfde is, want anders moet die aandrywingstelsel te hard werk. Carl glo vas as jy na jou goed kyk, dan kyk jou goed na jou. Net voor planttyd gaan hy ook met ’n spoortoemaker deur elke land sodat die spore nie te diep uitloop nie. Daardeur word vasval verhoed en dit maak dit ook baie makliker om deur die land te beweeg met die spuit en stroper.
Die Valleys wat op die plaas loop, moet nie net hard en aanhoudend werk en teen hellings loop nie, hulle moet ook staande kan bly teen die woeste westewinde wat goed kan woed in die wyk. Carl sê hulle het nog nie ’n spilpunt gehad wat omgewaai het nie, maar om seker te maak, gebruik hulle net “swaar masjiene”. Die swaardiens spilpunte se spanne word vervaardig uit pyp met ’n deursnit van 168 mm teenoor die ligter masjiene se 127 mm pyp.
’n Bykomende voordeel van die dikker pyp is dat die water makliker vloei met minder weerstand, wat inderwaarheid tot kragbesparing lei. Teen die einde van verlede jaar is die 15de Valley op die plaas staangemaak en daar loop nou 4 sestorings, 4 vyftorings en 7 viertorings.
Carl sê hulle is ook baie tevrede met Valley se diens en die ondersteuning van hulle plaaslike verskaffer, Spilkon, van Dundee. “Ons het regtig nie juis probleme met die spilpunte nie, maar Frik-hulle hou alle nodige onderdele aan en het ook die kundigheid om te help met die ontwerp en installasie van nuwe spilpunte.”
Frik Vreken is die eienaar van Spilkon. Hy sê hulle kan in enige besproeiingsbehoefte voorsien, maar wanneer dit by spilpunte kom, is Valley die naam. “Daar is ’n rede waarom Valley die wêreldleier in spilpuntbesproeiing is,” sê Frik. Spilkon bedien die hele Noord-Natal, Oos-Vrystaat en Oos-Transvaal en Frik sê boere wat begin om saam met Valley ’n pad te loop, bly gewoonlik deel van die Valley-familie. Die belangrikste rede daarvoor is Valley-spilpunte se betroubaarheid en duursaamheid. Valley is byvoorbeeld die enigste spilpuntvervaardiger wat self sy ratkaste vervaardig en dit nie by buiteverskaffers aankoop nie. Die aandryfstelsels is ontwikkel vir die doel waarvoor dit gebruik moet word.
Valley maak ook voorsiening vir al die verskillende behoeftes en voorkeure van boere, ook met betrekking tot bestuurstelsels. Vir boere wat verkies om hulle spilpunte met die hand te gaan aansit, is die basiese meganiese beheerpaneel voldoende. Alle Valley-beheerpanele is egter GPS-gereed en kan aan Valley se gevorderde afstandbeheerde produkte gekoppel word.
Die beheerpaneelreeks bestaan uit die meganiese panele tot die meer gevorderde Select2, Pro2, Touchpro, en Autopilot-lineêr, wat verskillende vlakke van elektroniese beheer toelaat. Wanneer hierdie elektroniese panele aan die Valley Basestation 3 gekoppel word, is die opsies eindeloos, en word presisiebesproeiing ’n werklikheid met die minste moeite moontlik.
Nog ’n ontwikkeling waarop Valley se mense in Suid-Afrika baie trots is, is die spuitstuk- of sproeiertegnologie wat veral in ons droë land sorg dat elke druppel water behoorlik benut word. Gert van der Werff , bemarkingsbestuurder van Valley in Suid-Afrika, sê Valley doen noukeurige navorsing om elke waterdruppel se grootte en spoed presies reg te kry sodat dit nie te hard teen die grond vasslaan of op pad grond toe weggewaai word nie. Valley se mikpunt is dat 95% van alle water wat toegedien word, deur die plante opgeneem kan word.
Terug op Trekboer bevestig Carl hoe belangrik elke druppel water is. Hy sê hulle werk ten nouste saam met kundiges om seker te maak hulle grond is reg, hulle aanplantings is die beste wat dit kan wees en hulle plante kry die beste voedingstowwe en beskerming… maar sonder water beteken dit alles niks.
Besoek gerus www.valleyirrigation.com/za, skakel 010-350-0050, of stuur ʼn e-pos na infosa@valmont.com om uit te vind wie verskaf Valley in jou vallei. In die oostelike streek kan Frik Vreken van Spilkon geskakel word by 083-284-1025 of stuur ’n e-pos na besproei@trustnet.co.za.

Vir Valley en die pragtige mielies op Carl de Jager se plaas is dit ewe belangrik dat elke druppel tel!

Die hartklop van Trekboer se besproeiingstelsel is die indrukwekkende pompstasie wat water uit die opvangdam na die 15 spilpunte toe stuur.

