Die rol van lekke in diereproduksie: Proteïen is belangrik in die winter

beeslekke julie
deur Alina Taute, Yara Animal Nutrition
Dit is welbekend dat Suid-Afrikaanse gronde oor die algemeen arm is aan fosfate. Behalwe vir hierdie tekort, verander die weiding se voedingswaarde ook soos die seisoene verander. Om optimale diereproduksie op weiding met tekorte en wisselende voedingswaarde te kan handhaaf, is dit nodig dat daar gekyk word na die aanvulling met lekke.
Inleiding
Wanneer ons kyk na die winsgewendheid van ‛n veeproduksie-eenheid, sal ons sien dat vrugbaarheid sowat 65% van die winsgewendheid bepaal, terwyl groei sowat 30% tot die winsgewendheid bydra. Faktore soos onder meer karkasgehalte en wolproduksie maak die oorblywende 5% uit. Kortom – hoe minder koeie en ooie beset raak, hoe minder kalwers en lammers is daar en hoe minder geld in die boer se sak. Dit is dus belangrik dat soveel as moontlik teeldiere dragtig raak en kalwers of lammers gee. Een van die belangrike faktore wat bepaal of ’n vroulike dier gaan dragtig raak of nie, is haar liggaamskondisie, aangesien daar ’n regstreeks korrelasie is tussen die kondisietelling en herbesettingspersentasie van die vroulike dier. Teeldiere is hoofsaaklik afhanklik van die natuurlike weiding om in hulle, behoeftes te voorsien. Die natuurlike weiding kan egter nie regdeur die jaar in al die dier se behoeftes voorsien nie. Dit is waar lekke hulle plek in die produksiestelsel kry. Dit moet egter onthou word dat lekke onder geen omstandighede die natuurlike weiding mag verplaas nie. Lekke mag slegs die tekorte wat daar in die veld is aanvul om optimale benutting van die weiding te verseker sodat diere nie net tydens die dekseisoen nie, maar regdeur die jaar in die beste moontlike kondisie sal wees.
Lekke – wat en wanneer
Wanneer daar besluit word om lekke te gee, is dit baie belangrik dat die boer bewus sal wees van watter tekorte gedurende watter tyd van die jaar ’n probleem is, sodat die regte lekke gegee kan word om die produksie en reproduksie van sy diere te optimaliseer.
Nat seisoen: Sappige, groen gras kan in die energie- sowel as proteïenbehoeftes van weidende diere voorsien, maar die fosfaatbehoefte van produserende diere is hoog gedurende die somer en die gras kan nie in hierdie hoë behoeftes voorsien nie. Fosfaat word dus gedurende die nat seisoen aangevul en het primêr ’n effek op rumenfunksie, wat dan droëmateriaal-inname stimuleer. Dit beïnvloed gevolglik regstreeks die liggaamskondisie van die weidende dier en lei tot verbeterde vleisproduksie, melkproduksie en reproduksie.
Droë seisoen: Wanneer gras volwasse begin word, neem die veselinhoud daarvan toe, terwyl die proteïeninhoud afneem. Dit lei tot wintergras met ’n lae proteïeninhoud. Minder van hierdie gras word ingeneem en die dier se totale energie-inname neem af aangesien die veselfraksies onsmaaklik en moeiliker verteerbaar is. Rumenmikrobes het ’n sekere basiese behoefte aan proteïen (stikstof) wat hulle in staat stel om die gras wat die dier ingeneem het te verteer. Die aanvulling van die regte hoeveelheid proteïen is dus noodsaaklik om maksimum weidingsinname en dus energieverskaffing aan die dier, te bewerkstellig.
Produksielekke: Hierdie tipe lekke kan in sowel die nat en droë seisoen gegee word en word gegee in gevalle waar bykomende prestasie tot die onderhoud van diere vereis word. Die samestelling van produksielekke sal verskil ten opsigte van die produksieoogmerke, die tipe dier en die gehalte van die beskikbare weiding.
Opsomming
Aanvulling met die regte lek op die regte tyd kan die tekorte in die veld ophef om maksimale benutting van weiding te verseker om diereproduksie te verbeter.