Die reën is hier

reen-wolke
Deur Johan van den Berg, Santam Landbou
Die reën het uiteindelik oor groot dele van die land aan die einde van 2016 en die begin van 2017 begin val. Wat ‘n wonderlike nuwejaarsbegin is dit nie? Vir die eerste keer in baie jare is neerslae van meer as 50 mm en selfs meer as 100 mm aangeteken oor die Noord-Kaap, Noordwes en Wes-Vrystaat.
Alhoewel harde reënbuie ook voorgekom het, was die meeste reën in die vorm van sagte deurdringende reën wat oor baie dae met bewolkte toestande voorgekom het. Alhoewel beweer word dat die droogte gebreek is, is daar egter nog ‘n redelike lang pad na volledige herstel vir veral veeboere. Eerstens was hierdie reën nog glad nie genoeg om ondergrondse waterbronne te laat herstel nie. Tweedens is opvolgreën nodig sodat saad kan ontkiem en ook die plantjies wat na die vorige reën opgekom het, te laat groei. Met die droogte van die laaste paar jaar het die spesiesamestelling van weidingsgewasse ook begin verander en moet daar nog baie reën val, maar veral goeie bestuur plaasvind om herstel te kan toelaat. Derdens het damvlakke ook nog nie herstel nie en alhoewel daar ‘n verbetering is, is daar nog baie damme wat krities min water het.
Finansieël kan selfs graanboere wat nou baie goeie oeste verwag, nog lank sukkel om skuld te delg wat oor ‘n tydperk opgebou is. Vir die week vanaf 1 tot 8 Januarie 2017 het baie goeie neerslae voorgekom oor veral die noordwestelike en sentrale binneland. Hierdie gebied is een van die gebiede in die land wat die afgelope paar jaar die ernstigste droogtes ervaar het. Baie min of geen reën het egter voorgekom oor die Wes-Kaap en suidelike dele van die Noord-Kaap. Dit het ook nog baie kol-kol gereën oor veral Limpopo.
Wat betref die see-oppervlaktemperature in die Stille Oseaan bly temperature op die grens tussen neutraal en La Nina – dus byna geen verandering die afgelope paar maande nie. Voorspellings dui dat toestande dalk meer na neutraal gaan neig in die komende maande voor die winter. In die Indiese Oseaan is toestande ook baie naby aan neutraal of normaal. Gegewe die stand van hierdie twee indikators bly die kanse dus nog baie goed om ten minste gemiddelde reënval te kry vir die volgende maande. Die implikasie van die huidige goeie toestande en verwagte verdere goeie neerslae van meer as 50 mm tot 100 mm op die korttermyn (res van Januarie en begin Februarie) asook vir die res van die seisoen, is dat baie goeie somergraanoeste verwag kan word.
Veldherstel is ook besig om plaas te vind. Die kanse dat verdere droë toestande in die Wes-Kaap kan begin uitbrei is baie goed en langtermynvoorspellings lyk ook ongunstig vir die winterreënvalgebiede van Suid-Afrika, asook aangrensende gebiede soos die suidelike dele van die Noord-Kaap en gedeeltes van die Oos-Kaap.
Opsommend
Alhoewel die uitwerking van die droogte van die laaste paar jaar nog lank sal aanhou, lyk dit ten minste of die draaipunt nou bereik is. Vir die eerste keer in baie jare is werklik effektiewe reënval gekry oor veral die westelike dele van die land.
Toestande lyk oor die algemeen baie goed vir ‘n baie goeie somergraan-oes, alhoewel windskade plek-plek voorgekom het. Rekord opbrengste is moontlik oor baie gebiede.
Swak La Nina tot neutrale toestande bly steeds heers in die Nino-gebiede van die Stille Oseaan.
Dit lyk asof verdere baie goeie reënneerslae kan voorkom in die tweede deel van Januarie en eerste deel van Februarie oor die grootste gedeelte van die somerreënvalgebied, maar toestande lyk kommerwekkend oor die Wes-Kaap en aangrensende gebiede op die kort- sowel as langtermyn.
Vrywaring: Die inligting in hierdie verslag word gebruik op eie risiko en die opsteller neem geen verantwoordelikheid vir die akkuraatheid of toepaslikheid van hierdie inligting nie.