Die nuwe BMW M4 GTS: Witwarm speelding vir die renbaan

bmw-m4_gts-2016-1024-3f
Met die bekendstelling van die nuwe BMW M4 GTS tydens die onlangse ’‘Festival of Motoring” by die Kyalami renbaan buite Johannesburg, het BMW M GmbH gewys hoe indrukwekkend die M4 koepee kan wees met die gebruik van nuwe en eksklusiewe tegnologie.
Spesiale M-modelle het al ‘n roemryke geskiedenis en tradisie by BMW M GmbH. Dink maar aan ikoniese modelle soos die BMW M3 GT, BMW M3 CSL, BMW M3 GTS en BMW M3 CRT waarvan ons in Suid-Afrika net die M3 CSL kon kry. Uiteraard het die witjasse by BMW M-divisie hulle oog gehad op die renbaan toe die GTS gekonseptualiseer was en dit spreek duidelik in die rengerigte uiterlike voorkoms en kajuit.
Terwyl die reuse Michelin Pilot Sport Cup 2 (voor: 265/35 R19, agter: 285/30 R20) bande op eksklusiewe “M-light, M- Styling” liggewig allooiwiele met hul skel-oranje afwerking die oog vang, is dit die groot geventileerde koolstof-keramiek remskywe met goue M-Sport knypers, wat ’n geoefende oog sal beїndruk. Dit verklap dat hierdie kalant ook baie vinnig kan stop.
Behalwe vir die spesiale wiele onder uitgeboude wielboë, word die M4 GTS ook buite onderskei van sy “gewone” stalmaats deur ‘n groot verstelbare drukvlerk op die stert. Ook hier sal die gesoute renbaan entoesias raaksien dat dit nie jou gewone “help-my-vinnig-lyk-diy-joppie” is nie, want die kenner sal dadelik raaksien dat hier baie spesiale ligggewig materiaal gebruik is en deur spesialiste doelgemaak is vir die renbaan. Hierdie drukvlerk, asook diespesiale koolstofvesel lugsnoer onder die voorste lugskort, kan van binne die motor verstel word soos wat jy ry/jaag. Daar is ook ‘n koolstofvesel lugskort agter tussen die vier fris uitlaatpype wat lugvloei reguleer.
Met die innoverende gebruik van spesiale liggewig materiale kon die witjasse dit regkry om die die M4 GTS se gewig te beperk tot 1510 kg, wat ‘n uitstekende krag-tot-massa verhouding van 3,0 kg/perdekrag tot gevolg het. Die resultaat is dinamiese verrigting en uitsonderlike hantering.
Gewig is buite en binne die kajuit besnoei. Die enjinkap en dakpaneel is byvoorbeeld van spesiale liggewig materiaal gemaak. Binne die kajuit is daar mildelik gebruik gemaak van koolstofvesel. So byvoorbeeld het die rengerigte sportsitplekke asook die liggewig middelkonsole en deurpanele heelwat koolstofvesel. Die deurpanele in die “Clubsport Package” -modelle het nie gewone knippe nie, maar word met ‘n materiaalbandjie oopgetrek. Die ‘Clubsport’ se agterste sitplekke moes ook plek maak vir ‘n liggewig, maar uiters sterk rolstaaf.
Kom ons loer net na die amptelike verrigtingsyfers van hierdie spesiale BMW.
Die M4 GTS gebruik die veelbekroonde 6-silinder turbo enjin wat ook in die M3 en M4 diens doen. Die geheim is dat die witjasse by M-divisie water inspuiting tegnologie gebruik waar water direk in die silinderkamers gespuit word. Dit vekoel nie net die enjin baie doeltreffend nie, maar die enjin se piek kraglewering word aansienlik verhoog tot 368 kW. Piek wringkrag is ook verhoog tot ‘n fris 600 Nm. Verrassend is egter dat die brandstofverbruik en CO₂ uitlate volgens BMW se amptelike syfers, stabiel gebly het by die vlakke van die gewone M3/M4 in ‘n gekombineerde siklus, naamlik 8,5 l/100 km en 199 g/km.
Aandrywing is na die agterwiele deur ‘n 7-spoed M-DCT dubbelkoppellaar ratkas met “Drive-Logic” en “launch control” wat spesiaal vir die M4 GTS se verhoogde kraglewering aangepas is.
Die 0-100 km/u lopie neem 3,8 sekondes en top spoed word beperk tot 305 km/u.
Nou as bogenoemde syfers jou dalk nog nie behoorlik beindruk nie, hou in gedagte dat die M4GTS die legendariese Nürburgring-Nordschleife in ‘n amptelike 7 min 28 sekondes afgeblits het.
Daar is slegs 700 eenhede van die M4 GTS gebou. Goeie nuus is 23 van hulle is bestem vir Suid-Afrika teen die sakpasprys van R2 203 900. Maar hier is die tranetrekker – al 23 het reeds eienaars.
Ek het die voorreg gehad om die die M4 GTS, toegerus met die opsionele “Clubsport Package”, om die nuutgeboude Kyalami Internasionale Renbaan te looi. Die Clubsport Package wat spesiaal vir die baanentoesias ontwikkel is, kom ondermeer toegerus met die oranje rolstaaf, ‘n brandblusser asook ‘n rengespesifiseeerde 6-punt veiligheidsharnas om jou behoorlik in die sitplek vas te gord.
Uiteraard was dit vir my as spoedvraat en renliefhebber ‘n heerlike ervaring om die besondere kar so vinnig as wat ek kan om die nuwe verbeterde Kyalami te jaag. Die belewenis om teen meer as 220 km/u in die pylvlak af te jaag, dan met ‘n skrale 100 meter voor die skerp draai na links hard op die remme te gaan staan en dadelik weer die versneller vas te trap om so vinnig moontlik uit die draai te versnel, kan eintlik nie in woorde beskryf word nie. Die ongelooflike greep en versnelling kan net in ‘n rasegte renmotor ervaar word – en dit beskryf die BMW M4GTS sekerlik die beste! ‘n Rasegte renmotor wat jy ook vir padgebruik kan lisensieer. Ek sou dit graag 100 maal per dag wil doen. Elke dag.
Deur Dirk Gallowitz van Ultimate Drive




