Categories: NuusPublished On: 16th February 2020

Die MPO se 2020-visie

By 5 min read
1006 words

i

Die Melkprodusente-organisasie (MPO) het verteenwoordigers van die media uitgenooi na die eerste mediadag van die jaar op Vrydag 7 Februarie by die nasionale MPO-kantore in Val de Grace, Pretoria. Die MPO het inligting gedeel oor sy visie vir 2020 asook spesifieke projekte vir die jaar om volhoubare melkboerdery vir almal in die Suid-Afrikaanse melkbedryf te verseker.

Colin Wellbeloved, voorsitter van die nasionale MPO, het in sy openingstoespraak gesê hy beskou die MPO se vernaamste doelwit as die bevordering van melkproduksie in Suid-Afrika tot op die vlak van wêreldklasstandaarde. Lidmaatskap van die MPO bied toegang tot ’n platform waar melkprodusente geldige probleme kan lug en waar die sake daagliks as ’n kollektief gehanteer kan word.

2020-strategie en verder dr. Chris van Dijk, hoof- uitvoerende beampte van die MPO, het in die organisasie se strategie gedelf en het gefokus op sleutel-aandrywers wat die relevansie en veerkragtigheid van die MPO kan versterk deur middel van ledebetrokkenheid. Die klant word eerste geplaas deur optimering van kommunikasie aan lede, deur toegevoegde-waarde-dienste te bied, deur aktief deel te neem aan inisiatiewe vir transformasie en kommersialisering, en deur proaktief te reageer op gesondheids-, welsyn- en omgewingskwessies, het Van Dijk gesê. Die MPO-span fokus op daaglikse aktiwiteite om ’n eenvormige visie daar te stel, om ’n gemeenskaplike begrip te skep van beperkings, om ’n duidelike beeld te gee van geleenthede, en om aan die melkboere die beweeglikheid te verleen om volhoubare sukses te behaal.

Barbara Bieldt, bestuurder van reguleringsdienste en rentmeesterskap by die MPO, het gesê die MPO is opgewonde oor die veelsydigheid van melk. Handelsmerk-bewustheid word gebou rondom melk as ’n onmisbare deel van ’n gesonde leefstyl. Inisiatiewe sluit onder meer in die Wêreld-melkdag-veldtog in vennootskap met die Verbruikersopvoedingprojek (VOP) van Melk SA, en die Nasionale Skoolmelkdagveldtog in vennootskap met die Departement van Onderwys en VOP van Melk SA, waarin die MPO ’n koördinerende rol speel. 

Philip Swart, bestuurder: lededienste van die MPO, het die gehoor herinner dat ’n lede-sentriese fokus die kern vorm van inisiatiewe vir die oordrag van inligting en tegnologie om melkboere te help om produktief te wees vir ’n mededingende voordeel. Die melkprodusent is die sleutel-belanghebbende in die waardeketting en dus is die MPO se streeksvoetspoor versterk met nuwe aanstellings in KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap. Die MPO streef daarna om hand-aan-hand met die melkprodusente te werk deur hulle meer gereeld op die plaas en deur middel van boeredae te ontmoet. Besoek mpo.co.za vir ’n gedetailleerde lys besonderhede van streeksaktiwiteite en tree in vennootskap met ons.

Bertus van Heerden, hoofekonoom van die MPO het ’n breë ekonomiese beskouing gegee.

Beter vooruitsigte vir die primêre melkbedryf Die meeste veranderlikes in die Suid-Afrikaanse suiwelmark dui op sterk finansiële verbetering vir die primêre melkbedryf in 2020, waar die vernaamste potensiaal-aandrywers produsentepryse en die voerkoste-basis is. Hierdie veranderlikes word gesteun deur ontwikkelings en marksentiment in die internasionale mark. Dié verbetering sal melkboere help om te herstel van sommige verliese wat in 2019 gely is, maar herstel sal teen ’n stadige pas geskied.

Internasionale suiwelpryse in Verenigde State (VS) dollar-terme is gemiddeld 21% hoër as ’n jaar gelede. Die vernaamste rede vir die stuwing in pryse is die beperkte beskikbaarheid van uitvoere uit die groot uitvoerlande weens ’n aanmerklike afname in die produksie van onverwerkte melk. Die groei in melkproduksie in die VS en die Europese Unie (EU) sou tipies tussen 1% en 2% wees, maar vir die eerste 11 maande van 2019 was dit onderskeidelik 0,3% en 0,4%. Die mark het gereageer en produsentepryse in die VS het gemiddeld met 34% gestyg sedert ’n jaar gelede, in Nieu-Seeland met 13%, terwyl die EUprodusentepryse opwaartse momentum toon sedert Maart 2019.

Die produksie van onverwerkte melk het in gedurende 2019 Suid-Afrika gestagneer in opvolging van die swak produsentepryse en die verhoogde koste-prys-druk, wat vererger is deur die melk:voerprysverhouding, wat geval het tot benede 1:1,4 in Mei 2019, en tans onder 1:1,2 is. Op hierdie vlak sal produksie stadig wees, en die herfs is op ons voorstoep. ’n Indrukwekkende resultaat is dat, ten spyte van ernstige klimaats- en ekonomiese uitdagings, Suid-Afrika in 2019 ’n netto-uitvoerder van suiwelprodukte gebly het, met invoere op dieselfde vlak as in 2018, terwyl uitvoere ietwat afgeneem het met 1% van 2018 tot 2019. Baie min lande in die wêreld is selfvoorsienend wat melkproduksie betref, en die insluiting van Suid-Afrika in hierdie groep lande is ’n geweldige pluim in die hoed van die Suid-Afrikaanse melkboer. 

Daar is sekere risikofaktore in 2020 wat ’n vermindering teweeg kan bring in die kwantum van die potensiële verbeterde finansiële posisie vir die primêre melkbedryf, en dit hou grootliks verband met die swak prestasie van die Suid-Afrikaanse ekonomie. Nog ’n ontwikkelende risikofaktor is die effek van die nuwe coronavirus-uitbreking op die wêreldhandel. Een van die wêreld se grootste kopers (China) is besig om hulself in te kokon, en dit sal ’n uitwerking hê op die vraag na verskeie produkte, insluitende suiwel. Waar uitvoervloei ontwrig word, word produkte teen verlaagde pryse na ander markte herlei.

Op die opleidingsfront Die MPO is ’n geakkrediteerde verskaffer van opleidingsdienste wat binne vennootskappe funksioneer om regdeur die lewendehawesektor impak te maak. In 2020 sal spesifieke opleidingsinisiatiewe fokus op ’n toegewyde suiwelskool vir toekomstige veeartse wat verpligte gemeenskapsdiens (VGD) moet verrig, asook vir praktykkodes, biosekuriteitsbestuur, en melkproduksiebestuur vir ontplooide VGD-veeartse en dieregesondheidstegnici wat in landelike gebiede werk.

Daar sal ’n spesifieke gemeenskapsfokus wees in vier landelike gemeenskappe (twee distrikte elk in twee provinsies), waar ’n reeks kursusse begin sal word in vennootskap met die Landbounavorsingsraad(LNR) en die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling, gebaseer op ’n vaardigheidsouditontleding wat deur die LNR gedoen is. Die MPO sal ook biosekuriteitswerkswinkels in drie provinsies aanbied.

Helene Pheiffer, bestuurder: opleiding en transformasiedienste van die MPO, was ook opgewonde om nuus mee te deel oor ’n kursus in sensoriese evaluasie van suiwelprodukte wat in vennootskap met die WesKaapse Departement van Landbou ontwikkel is. Die kursus is daargetstel om die standaard te bevorder van die Suid-Afrikaanse Suiwelkampioenskappe en die Qualité-toekennings – die vernaamste geleenthede op die program van Agri-Expo.

Volg #MilkMpo op Twitter en @MilkProducersSA op Facebook, of besoek mpo.co.za vir meer inligting.

0
Tags:

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0