Die merk van gehalte

brahman 1
Die Brahman Beestelersgenootskap het besluit dat alle teelbulle wat aan rasstandaarde voldoen in die toekoms met ’n B-gebrand sal word. Die motivering vir hierdie program is om aan die kommersiële bulkoper gemoedsrus te gee dat hy ’n bul van uitstaande gehalte koop.
Bulle sal deur ’n Brahman-ras- of senior beoordelaar gekeur word. Bulle wat hierdie keuring slaag, voldoen aan die Standaard van Voortreflikheid, wat reeds sedert 2016 van toepassing is. Die Brahman-genootskap van Suid-Afrika se Opleidingskomitee gebruik ’n unieke Keurkaartstelsel wat vir hierdie doel ontwikkel is deur die Genootskappe van Namibië en Suid-Afrika. Hierdie stelsel verseker dat slegs uitgesoekte bulle wat kwalifiseer, die B-brandmerk ontvang.
Minimum vereistes vir die bulle wat gekeur word:
- Volgeregistreerde Rooi- of Wit Brahman-bulle.
- Minimum vrugbaarheidsinligting van die moeder (van die bul wat gekeur word).
- Aangetekende prestasie-inligting om akkurate teelwaardes te verseker, soos bereken deur BREEDPLAN.
- Visuele en strukturele korrektheid.
Die Genootskap glo dat hierdie ’n stap in die rigting van voortreflikheid is. Deur die gebruik van hierdie hoë gehalte bulle, word die kommersiële vleisprodusent verseker van die genetiese voordeel wat deur sy mark benut sal kan word.
Hierdie bulle sal ’n aanwins vir enige teelprogram wees, hetsy vir suiwer of kruisteling. Kyk uit vir die merk van gehalte.

