Categories: NewsPublished On: 24th August 2017

Die invloed van kemp op die waarde van skeersels

By 3 min read
678 words
merino wol

Kontakkemp in merino wol – Landrie Venter (5)

deur Landrie Venter

Alhoewel die wolmark die afgelope paar seisoene konstant goeie pryse behaal het, besef die boere nie aldag hoe pryse nog verder kan verbeter as hulle eenvoudige bestuurspraktyke  toepas nie.

Verskeie eienskappe het ’n invloed op die prys van wol. Onnatuurlike vesels soos baaltou, polipropileensakke en ongewenste materiaal het ’n besonder groot negatiewe uitwerking op die prys van wol. Die verhoogde voorkoms van kemp in die skeersel is nog ’n bron van kommer want dit laat produsente jaarliks baie geld verloor. Kemp staan ook as steekhaar bekend.

Agtergrond

In hierdie ontleding is slegs data gebruik van wol wat deur BKB bemark is, wat ±63% van die totale Suid-Afrikaanse wolmark verteenwoordig.

Kemp is ’n vesel wat kalkagtig wit, bros en nie-gemeduleer is. Kempvesels kan los vanaf die vel gevind word wanneer die wolskaap in kontak kom met ’n skaap met kempdraende vesels. Anders as wolvesels wat wel gekleur kan word, neem kempvesels nie kleurstof aan nie. Dit is die rede waarom wol wat deur kemp besoedel is ’n swakker eindproduk tot gevolg het.

Skape kan kemp op die plaas optel in skeerhokke wat nie vry van kemp is nie, byvoorbeeld op hondehare. In krale waar daar met nie-woldraende diere gewerk word, kan kemp ook tot binne die wol versprei word.

Die graad van intensiteit van kemp in wol word met die Awex-graderingstelsel vanaf ’n P1 tot P5 aangedui. Byvoorbeeld, ’n P1-wol is by kempdraende rasse ná kontak met kemp besoedel. Hierdie term word as rondreisende, of te wel floating kemp beskryf, wat ook veroorsaak kan word as gevolg van kempbesmette skeerhuise (as gevolg van kempdraende rasse wat in dieselfde skeerhok skeer). P2 of P3 dui dui ’n verhoogde intensiteit van kemp in die wol aan.

Die data waarna verwys word is oor ’n tydperk van drie jaar, vanaf 2013 tot 2015, ingewin. Die data is in kleiner areas met mekaar vergelyk om te bepaal waar die boer hom daarop moet toespits om kempbesmetting deur goeie bestuur te verminder.

In die ondersoek is die volgende provinsies/streke se data gebruik: die Vrystaat, Noord-Kaap, Oos-Kaap, Wes-Kaap, Mpumalanga, Noordwes, die kommunale areas van die Oos-Kaap en Lesotho. Die verlies aan inkomste as gevolg van kempbesmetting is vir elke distrik en ook die provinsies bereken. Merino-Awex-tipes (MF-tipes) wat met kemp besmet is, is in die ontleding gebruik.

Resultate en bespreking

Die grootste kempbesmetting in die wol van Merinotipes (MF) is afkomstig uit Lesotho en die tweede grootste besmetting het voorgekom in die kommunale areas van die Oos-Kaap.

Die Vrystaat het oor die afgelope drie seisoene ’n baie hoë hoeveelheid kemp in die skeersels daar gehad. Die provinsie het oor die drie seisoene 218 247 kg wol wat kemp bevat, geproduseer. Aandag moet beslis gegee word aan die groot finansiële verlies van R1 091 237 wat oor die drie seisoene gely is. Selfs die Wes-Kaap het 77 170 kg Merinowol met kemp oor die afgelope drie seisoene verkoop.

Die Noord-Kaap se skeersels bevat ook ’n groot persentasie kemp (13%). In die distrikte van Victoria-Wes en De Aar is 72 982 kg kempbesmette wol geproduseer. Die totale finansiële verlies was R700 352 vir die Noord-Kaap.

Noordwes produseer baie minder wol as die ander areas, maar het 35 833 kg kempbesmette wol geproduseer, wat ‘n verlies van R179 167 beteken het. Dit verteenwoordig ‘n besmetting van 20% van die skeersel, wat baie hoog is. Wolmaransstad is die grootste wolproduserende distrik in Noordwes. Dit is dus belangrik om te konsentreer op hierdie distrik om produsente bewus te maak van die besoedelingsprobleem en ook om oplossings of alternatiewe aan produsente voor te stel.

Gevolgtrekking

Met die huidige goeie wolpryse is dit belangrik vir die produsent om wol van hoogstaande gehalte te lewer om hierdie prysvlakke te handhaaf. Produsente moet versigtig wees wanneer hulle kruisteling met kempdraende rasse vir slaglamproduksie doen. Hou liewers ooie wat vir kruisteling gebruik word se wol apart van die res van die skeersel om te verseker dat net ‘n klein gedeelte van die skeersel besmet is.

Die gebruik van nie-kempdraende rasse by kruisteling word aanbeveel.

Landrie Venter is ’n wolkoper by Lempriere. Tree met haar in verbinding by 084-929-6206 of Jolandrie.Venter@lempriere.com.au

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0