Categories: Stock and game farmingPublished On: 18th August 2017

Die eerste stap tot suksesvolle varkboerdery: Varkboere maak staat op Dalein

By 4 min read
697 words

dalein 1

As jy by die plaas Bloemendal inry en voor die netjiese, indrukwekkende Dalein-groep se kantoor stilhou, besef jy dat hierdie onderneming die vrugte pluk van die sorg en deeglikheid waarop dit gebou is. Andreas Dalein Heyl het sy bedrywighede in die vroeë tagtigs na hierdie plaas verskuif – net ’n klipgooi noord-oos van Pretoria.

Die Dalein-groep bestaan vandag uit Dalein Plaasbou, Dalein Estates, Dalein Agriplan, Dalein Voere en Dalein Lazerpro, maar dit is veral die varkbedryf wat oor die afgelope 41 jaar groot voordeel uit Dalein Heyl se bydrae geput het.

Nadat hy in 1963 sy landbou-ingenieursgraad en in 1964 ’n meestersgraad aan die Universiteit van Pretoria behaal het, het hy by die Departement van Landbou se Landbou-ingenieursafdeling begin werk. Intensiewe dierebehuising in voerkrale in die vark- en suiwelsektore het sy spesialisveld geword en hy kon ook in Skotland, Engeland en Duitsland gaan kers opsteek, veral ten opsigte van varkbe-huising.

Dalein het in 1976 uit die staatsdiens bedank en dit was ook die geboortejaar van Dalein Plaasbou, wat voortgespruit het uit sy besondere belangstelling in en kennis van varkbehuising. Hy het sy jarelange ervaring in die bedryf ingespan om toerusting en behuising vir die varkbedryf te vervaardig. Dit was ook die fondament waarop hy kon uitbrei in ander ondernemings.

Sy kenmerkende platdakhuise was kostedoeltreffend en bied uitstekende ventilasie. Boonop is hulle duursaam – dié wat in die beginjare gebou is staan vandag nog. Dié tipe behuising is steeds baie gewild. Enige nuwe onderneming vereis harde werk en deursettingsvermoeë en Dalein het genoeg daarvan in die sak gehad. In die beginjare was hy die hoofbesturende beampte, finansiële beampte, ingenieur, tekenaar, fabrieksbestuurder, drywer en oprigter.

Die eerste groot kontrak wat hy losgeslaan het was by Belhuit Investments, daarna het hy Basie Snyman, Jan Greyling en Filters en Volkers se varkbehuising opgerig. Nadat Dalein Plaasbou in die 1980’s Kanhym se plase gebou het, het sy reputasie hom vinnig begin vooruitloop en van daar af het die kontrakte ingestroom. Na die groot projek kon hy ook sy eerste vragmotortjie koop, wat sake aansienlik vergemaklik en versnel het.

Dalein Estates was sy volgende breinkind en hy het afgeskop met ’n 300-sogeenheid – hy kon toe immers self sy belangstelling uitleef. Sy volgende droom was ’n voerfabriek, maar dit het baie navorsing gekos. Hy moes slim planne maak om toegang tot voerfabrieke te kry om sy kennis te verbreed.

Bonnox

Andreas Dalein Heyl kan met reg as die vader van varkbehuisingstoerusting in Suid-Afrika beskou word.

In die vroeë 1990’s het Dalein die voerdaad by die woord gevoeg en Dalein Voere het die lig gesien. Dit was so suksesvol dat hy nog ’n maatskappy, Dalein Agriplan, begin het wat vir Alexcor ’n voerfabriek in Alexanderbaai ontwerp en gebou het. Daarna het Ibis Piggery en Penvaan Voere gevolg. Vandag is Dalein Agriplan wêreldbekend en ’n toonbeeld van Suid-Afrikaanse gehalte en vakmanskap.

Dalein glo dat Suid-Afrikaanse boere gehalte toerusting moet inspan en die goedkoop alternatiewe uit die ooste moet vermy om vooruit te boer. Bestuur en voeding moet aan die bopunt van hulle prioriteitslys wees en daar moet dringend aandag aan behoorlike teelmateriaal gegee word. Boere moet besef dat die belange van die varkbedryf uit en uit in hulle hande is en hulle moet prysbeheer uit die kleinhandelaars se hande neem.

Volgens Dalein gaan plase ook al hoe groter word en boere moet hulle gereed maak vir plase met 20 000 tot 50 000 sôe waar hulle self die vleis verwerk en fokus op uitvoere. Twintig jaar gelede het Dalein ’n verslag, “SA Pork for Export”, geskryf waarin hy die belangrikheid van uitvoere na Sjina, in samewerking met die regering, beklemtoon het. Dit is besig om ’n werklikheid te word. Dalein Heyl boer nog steeds met varke en hy glo hy sal steeds daarmee voortgaan solank hy kan. Sy seun, Stephan, is vandag aan die stuur van die maatskappy.

Dalein lewer vandag nog gehalte varkbehuisingstoerusting, wat die eerste stap tot suksesvolle varkboerdery is. Kontak hulle by 012-819-8500 of e-pos plaasbou@dalein.co.za. Besoek ook hulle allesomvattende webwerf by www.dalein-plaasbou.co.za.

Dalein Plaasbou kyk ook noord in hulle markuitbreiding. Collin Nel is hulle Afrika-verteenwoordiger. Hier is hy en Quintus Grobler van ProAgri by Dalein se uitstalling tydens die onlangse Agritech-skou in Zambië.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0