Categories: WheelsPublished On: 6th November 2014

Die boer en sy Hilux is steeds 'n gedugte span

By 1 min read
239 words

Toyota Suid-Afrika Motors (TSAM) het sy markleierskap met die 12 049 nuwe eenhede wat gedurende Oktober verkoop is, verstewig. Dit verteenwoordig 20,3% van die totale verkope van 59 384 eenhede wat deur die Nasionale Vereniging van Voertuigvervaardigers van Suid-Afrika (Naamsa) bevestig is. Die maatskappy het 5 754 eenhede tot die uitvoermark bygedra, wat ‘n aandeel van 17,8% behels.

Die Hilux bly Toyota se sterkste presteerder met altesaam 3 421 bakkies wat gedurende Oktober in Suid-Afrika afgelewer is. Hierdie model is ook Toyota se sterkste uitvoerproduk met 5 361 eenhede wat na Afrika en Europa uitgevoer is. Van die Toyota Corolla/Quest-kombinasiepassasiersvoertuig is 2 254 eenhede verkoop; terwyl die immergewilde Etios ‘n positiewe verkoopsmaand geniet het met 1 671 eenhede wat ’n tuiste by Suid-Afrikaanse gesinne gevind het.

“Nuwevoertuigverkope, veral in die ligte, swaar en ekstraswaar kommersiële klasse, is ‘n bewys van ‘n sterk mark wat positiewe groei toon, met ‘n toename van byna 5% in verkope teenoor dieselfde tydperk verlede jaar,” sê dr Johan van Zyl, Toyota Suid-Afrika se president en uitvoerende hoof. Hy het bygevoeg dat die motorhuursektor ‘n besonder sterk maand geniet het met ‘n toename van 25,2% in verkope teenoor Oktober 2013.

“Die mark het alle verwagtinge oorskry. Vroeër vanjaar het voorspellings gedui op ‘n daling van 4% in die totale verkope vir die jaar, maar na nog ‘n sterk maand, is ons net 1,8% agter die 2013 jaar-tot-datumsyfer. Indien hierdie neiging voortgaan, is daar ‘n sterk moontlikheid dat 2014 se marksyfer met soortgelyke resultate as dié van algehele 2013-verkope sal eindig,” het dr Van Zyl gesê.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0