Categories: NewsPublished On: 14th June 2016

Die 2016-Syngenta Graanakademie – suksesvolle deelnemers gradueer

By 4 min read

syngenta graduation leerders

Die jongste groep kommersiële produsente het pas gegradueer aan die vierde jaarlikse Graanakademie – ʼn sakeleierskapontwikkelingsprogram onder leiding van Syngenta, ʼn vooraanstaande agri-sakemaatskappy.

Hierdie program, wat in samewerking met die Universiteit van die Vrystaat se Sakeskool en met die ondersteuning van Graan SA aangebied word, het die slimboerdery-vaardighede van talentvolle boere na die volgende vlak geneem en hulle word aangemoedig om dit wat hulle geleer het met ander in die landboubedryf te deel.

Hierdie jaar se gassprekers het bekende landboudeskundiges ingesluit: Jannie de Villiers, hoofuitvoerende beampte van Graan SA, Chris Schoonwinkel, uitvoerende lid van Graan SA, Deon Barnard, adjunkdirekteur van die Universiteit van die Vrystaat se Sakeskool en die gasvrou, Linda van der Merwe, hoof van kliëntebemarking vir Syngenta SA.

Volgens Jannie de Villiers speel die Suid-Afrikaanse landbousektor steeds ʼn groot rol in die ekonomie, ongeag die dalende aandeel in die BBP. In teenstelling met die algemene opvatting, is die land nie selfonderhoudend ten opsigte van voedselvoorsiening nie, maar word ook nie bedryf as ʼn netto invoerder van landbouprodukte nie. Boere dra by tot voedselsekuriteit, tot ekonomiese volhoubaarheid en tot werkskepping. Dit is dus voordiehandliggend dat die Syngenta Graanakademie ’n toepaslike en waardevolle rol daarin speel om die landbousektor deur ʼn hoogs onsekere en moeilike toekoms te help.”

“Ons kan nie swig voor die talle moeilike uitdagings waarmee ons te kampe het nie, en met die Graanakademie se doelgemaakte leierskapontwikkelingprogram rus ons jong kommersiële produsente toe met die vaardighede om hierdie uitdagings die hoof te bied. En ons hoop dat hulle op hulle beurt ander sal beïnvloed om Slim Boere te word deur tradisionele boerderymetodes met ’n moderne, hoogs nagevorste boerderymodel te vervang”, sê Linda van der Merwe van Syngenta SA.

By ’n onlangse geleentheid waar die Graanakademie se oudstudente vertel het van hulle vordering op hulle eie plase na die toepassing van die kennis wat hulle by die Graanakademie opgedoen het, het Jannie de Villiers gesê: “Die toekoms van die landbou in Suid-Afrika het net te veel rooi ligte. Vir produsente het oorlewing die vernaamste doelwit geword. En die groter Suid-Afrika kan die gevolge daarvan voel. Ons het ’n proaktiewe platform nodig waar ons hierdie werklikheid kan bespreek en dan ons bes te doen om uitvoerbare oplossings te vind wat op die wetenskap en tegnologie gegrond is. ’n Volhoubare landbougemeenskap is binne die bereik van Suid-Afrika.”

En dit is presies wat die Graanakademie hulle ten doel gestel het.

Hierdie jaar se Graanakademieprojekte het die tema “Messy Problems” as grondslag gehad, en het die volgende gedek:

  • DROOGTES EN VOEDSELSEKURITEIT

Volgens AgriSA het die droogte daartoe gelei dat verskeie provinsies steeds tot rampgebiede verklaar is. En dit kan verreikende gevolge vir die ekonomie inhou en ’n katastrofiese uitwerking op produsente hê. “Suid-Afrika se onvermoë om voedselsekuriteit te verseker, en die impak daarvan op langtermynsekuriteit, asook die strategiese noodsaaklikhede van die ontwikkeling van opkomende produsente, grondhervorming en sektor-kapasiteitsontwikkeling is ’n paar van die vernaamste punte wat bespreek is.

  • UITDAGINGS IN DIE GEORGANISEERDE LANDBOU

Die neiging van die regering se boerderybeleidsrigtings, wat baie meer op grondhervorming en -herverdeling fokus as op die landbou en op kommersiële boerdery, is nie die beste roete tot volhoubaarheid in die landbou nie. Dan is die rol en impak van georganiseerde landbou, soos voorgestaan deur die regering, grootliks ondoeltreffend om ’n gemeenskaplike visie vir die sektor op te bou en om uiteenlopende aandeelhouers te verenig om die sektor te ontwikkel tot die toekomstige reus van ekonomiese groei.

  • OORHANDIGING VAN DIE LEISELS AAN DIE VOLGENDE GESLAG

Die verhoudinge van die vader wat die leisels aan sy seun(s) moet oorgee, asook die uitgebreide reeks verhoudinge op plaasvlak, is gekompliseerd, veral wanneer daar meer as een geslag aktief betrokke is by die boerdery. Talle, indien nie die meeste groot kommersiële plase nie, word deur meer as een geslag bestuur of het meer as een geslag aktief daarby betrokke. Hierdie ingewikkelde struktuur lei tot uitdagings, nie net binne die gesinstruktuur nie, maar ook met die werkers op die plaas. Dit kan selfs lei tot koppestampery oor boerderybeginsels en jonger produsente wat dan die boerdery verlaat, of konflik oor die onderverdeling van die grond.

  • ONVOLDOENDE KENNISDELING TUSSEN PRODUSENTE

Hoewel baie van die kennis wat nodig is om die wêreldlandbou te verbeter, reeds bestaan, selfs binne afgeleë inheemse gemeenskappe, bereik dit dikwels nie daardie produsente wat die meeste daarby sal kan baat vind nie. Produsente is indiwidualisties, mededingend en het ondernemingsgees. In ’n wêreld waar daar ’n toenemende risiko is ten opsigte van voedselsekuriteit, ’n gebrek aan water, beperkte geskoolde mannekrag, duur tegnologieë, grondhervorming en talle ander uitdagings, is daar net nie genoeg deling van inligting en kennis nie. Daarbenewens moet daar voorsiening getref word vir toegang tot skaalbare inligtingstegnologieë vir produsente sodat hulle weer-, gewas- en markwaarskuwings kan ontvang, asook ander vroeë waarskuwingstelsels wat hulle kan help om die regte besluite ten opsigte van volhoubaarheid en produktiwiteit te neem.

Syngenta wens die 2016-klas van die Graanakademie net die beste toe. Net soos Syngenta, behoort dit ook hulle doel te wees om Suid-Afrika se landboubedryf te ontwikkel tot ’n model wat nie net in  Afrika nie, maar in die res van die wêreld as model gebruik kan word in hierdie uiters moeilike tye. “Julle is ons toekoms. Laat ons nou saamstaan en die sukses van daardie toekoms verseker.”

Bron: Syngenta

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment